Kommandant Hendrik Johannes Badenhorst
June 27, 2017
Kaptein Hindon
June 27, 2017

(geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1966)

Japie Greyling het op ’n plaas gewoon waar hy sy moeder met baie soorte werkies gehelp het. Die Vaalrivier was nie ver van hulle huis af nie. Japie het daar saam met sy sussies en boeties tussen die bome en langs die water gespeel. Die naaste dorp was Hoopstad waar hulle kos en ander goed gaan koop het.

Japie was elf jaar oud, toe daar oorlog in die land was. Sy vader en ouer broers het teen die vyand gaan veg. Sy moeder het met die kinders op die plaas gebly. Een bediende, Sanna, was altyd by die moeder en haar kinders.

Soldate van die vyand het hulle plaas soms besoek. Wanneer die moeder sien dat die vyand naby die plaas was, het sy met die kinders en die vee na die rivier toe gevlug. Die vyand kon hulle nie daar tussen die bome en bosse sien nie.

Een nag het drie burgers by die Greylings geslaap. ’n Spioen het hulle daar gesien en dit aan die vyand gaan vertel. Daar was ’n kamp van die vyand naby die plaas.

Kaptein Seely en twintig soldate het gedurende die nag vinnig na die plaas toe gery. Hulle wou die burgers daar vang, maar hulle plan het nie geslaag nie. Die drie burgers het vroeg die oggend van die plaas af weggejaag. Die soldate kon hulle nie vang nie.

Kaptein Seely en sy manne het toe na die plaashuis gegaan om uit te vind waar die Boere se kommando was. Japie was toe net besig in die kombuis om koffie te maak. Hy was ’n flukse seun en nie ’n laatslaper nie. Toe hy die mense naby die huis hoor, het hy gaan kyk wie dit was. Die soldate het na hom toe gestap. Japie het regop gestaan, want hy was nie bang nie.

Die spioen het toe met Japie begin praat. Hy wou weet waar die kommando van die burgers was. Dit wou die seun nie vertel nie. Die Kaptein het hom toe probeer bang maak. Die spioen het aan hom gesê dat Kaptein Seely hom sou laat doodskiet as hy so astrant is.

“Skiet my dan maar dood,” het Japie gesê. “Ek sal nie vertel waar die Boere is nie.”

Twee soldate het hom toe gevat en teen ’n muur laat staan. Ses ander soldate het ’n entjie daarvandaan gestaan en na die Boereseun met hulle geweers gekorrel.

Japie se moeder, broer en swaers het in die huis gehoor wat die spioen aan Japie sê. Hulle was baie jammer vir Japie en kon amper nie asem haal nie. Sy moeder het vir hom gebid. Die bediende, Sanna, het daar naby Japie gestaan en kyk wat hulle met haar basie maak. Toe sy sien hulle gaan Japie doodskiet, het sy begin huil en na sy moeder om hulp geskree.

Die soldaat het weer aan Japie gevra: “Waar is jou vader en die kommando?”

Japie het regop gestaan en sy hande agter sy rug gesit. Hy het reguit na Kaptein Seely gekyk en met ’n duidelike harde stem gepraat: “Dit sal ek nie sê nie.”

Die soldate was almal verbaas. Die Kaptein het die teken aan die ses soldate gegee om hulle geweers te laat sak. Toe stap hy na Japie toe, vat sy handjie en hou dit in sy groot sterk hand en sê: “Jy is ’n dapper seun. Ek hoop om jou weer eendag te sien.”

Sanna het gelag en gesê: “Ai, dankie my klein basie.”

In die huis het Japie se moeder gesug en gesê: “Die Here het ons vandag weer gehelp.”

Almal het na Japie toe gegaan en was bly dat hy nog lewe. Hulle het na die soldate gestaan en kyk wat op ’n stywe galop van die werf af weggery het.