Ingrid Jonker (1933-1965)
January 15, 2019
Siegfried Mynhardt (1909-1996)
January 15, 2019

Daantjie Dinamiet

In die 1960’s en 1970’s was daar een rolprentregisseur wat nie gehuiwer het om die politieke stelsel van die dag met sy rolprente te bevraagteken nie en wie se werk as grensverskuiwend beskou kon word.

Jans Rautenbach is op 22 Februarie 1936 in Boksburg gebore. Hy het sy rolprentloopbaan by Jamie Uys-rolprentproduksies begin en in 1963 was hy die assistentregisseur van Emil Nofal se rolprent Kimberley Jim, waarin die Amerikaanse sanger Jim Reeves die hoofrol vertolk het. Nofal en Rautenbach het later hul eie produksiemaatskappy begin en hierdie vennootskap het gelei tot “die goue era” van plaaslike rolprente.

Rautenbach se debuut as regisseur was Die kandidaat in 1968, seker die laaste rolprent waarin Gert van den Bergh voor sy dood te sien was. Dié rolprent is aanvanklik verbied aangesien dit die politieke stelsel van daardie tyd kaalvuis uitgedaag het. Dit het gegaan oor ’n jong Afrikaanse man, gespeel deur Roelf Jacobs, wat aansoek gedoen het om tot ’n Afrikaanse kultuurvereniging toegelaat te word. Die rede vir die omstredenheid was dat sy vriendin, gespeel deur Bernadette da Silva, nie net Engelssprekend was nie, maar ook tot die Rooms-Katolieke kerk behoort het. Onder die ander akteurs wat in Die Kandidaat te sien was, was Hermien Dommisse, Don Leonard, Jacques Loots, Cobus Rossouw en Gert van den Bergh se seun, Regardt.

Die volgende jaar het hy dit opgevolg met nog ’n omstrede rolprent wat weer eens ’n reuse sukses was. Katrina het die verhaal vertel van ’n blanke vrou, gespeel deur Jill Kirkland, wat as ’n Kleurling geklassifiseer is en op ’n blanke priester, gespeel deur Joe Stewardson, verlief geraak het. Sy het hard probeer om haar verlede agter te laat, maar haar broer, gespeel deur Cobus Rossouw, het haar gedurig daaraan herinner. Een gevolg van die vrystelling van die rolprent was dat The Staccatos se trefferliedjie, “Cry to me”, wat vroeg in 1969 die eerste plek op Springbok Radio se Top 20 behaal het en daarna uitgesak het, opnuut tot dié trefferslys toegetree het en tot in Maart 1970 daarop gebly het. Kirkland se temaliedjie, “Katrina’s theme”, het self ook ’n treffer geword. Onder die ander akteurs wat in dié rolprent te sien was, was Carel Trichardt, Katinka Heyns en Don Leonard.

Die volgende rolprent waarvan Rautenbach die regisseur was, was Jannie tot siens, met presies dieselfde akteurs as wat in Katrina verskyn het. Die musiek vir dié rolprent, deur Tony en Jan, was baie beter as die gemiddelde Afrikaanse musiek van destyds en dié klankbaan is ook mettertyd op CD uitgereik. Dit het die verhaal vertel van ’n groep mense wat in ’n gestig opgeneem is en as’t ware ’n mikrokosme van die destydse Suid-Afrikaanse samelewing verteenwoordig het.

Pappa lap het die storie vertel van ’n arm wewenaar en sy sewentienjarige dogter, onderskeidelik gespeel deur Gordon Vorster en Katinka Heyns. Sy het gedroom van haar matriekafskeid, ’n aantreklike seun in haar klas en ’n lang, wit rok Die een toneel wat rolprentgangers nog altyd bygebly het, is waarin sy met haar fiets gery het met volstruise in die agtergrond.

CF Beyers-Boshoff se radiovervolgverhaal Ongewenste vreemdeling is in 1974 verfilm, met Rautenbach as regisseur. Marius Weyers vertolk die rol van Gerhard Steenberg, ’n moordenaar wat op parool vrygelaat is en na werk soek op die dorp Duiwelsvallei, maar moord, jaloesie, verraad en wraak steek gou kop uit. Barry Trengove, Sann de Lange en Dulcie van den Bergh was ook in dié rolprent te sien.

Broer Matie was nog ’n voorbeeld van ’n rolprent met ’n omstrede tema, en dit was Rautenbach se laaste rolprent in net meer as dertig jaar. Dit vertel die verhaal van ’n boer, gespeel deur Joe Stewardson wie se laaste wens, naamlik om deur ’n bruin predikant, gespeel deur Simon Bruinders, begrawe te word, tot verdeeldheid in die kerkraad gelei het. Barry Trengove, Gerrit Schoonhoven, Paul Lückhoff en Douglas Fuchs was onder die ander akteurs in dié rolprent.

Jans Rautenbach is op 2 November 2016 in die ouderdom van tagtig jaar oorlede, net meer as ’n jaar nadat sy laaste rolprent, Abraham, vrygestel is.