Fak_logo1Fak_logo1Fak_logo1Fak_logo1
  • Tuis
  • Afrikanergeskiedenis
    • FAK-Fotoversameling
    • Tydvakke
    • Kultuurorganisasies
    • Klankargief
    • Afrikanergeskiedenis algemeen
    • Geskiedenisdagboek
    • Afrikaanse Kultuuralmanak
    • Kultuurkroniek
  • Word ‘n vriend
  • Besoek die FAK
  • Soek ons
  •           
✕

Jannie du Toit

  • Tuis
  • Hoofnuus
  • Jannie du Toit
Tienie van Schoor (1920-2009)
November 29, 2021
Jaap Steyn (1938-2021)
November 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Dit is vanjaar vyftig jaart sedert Jannie du Toit tot die Afrikaanse musiekbedryf toegetree het.

Johannes Hendrik du Toit is op 13 Desember 1951 in Heidelberg, Gauteng gebore, en het aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer. Na afloop van sy diensplig het hy sy BIur (LLB)-graad aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) verwerf. Tydens sy studentejare het hy die groep Trilogie saam met Andy Lubbe, deesdae die feesdirekteur van Innibis, Morg Jacobs en Clive Doubell gevorm. Hulle het liedjies soos “Droom langs stille waters”, “Min of meer”, “Resitasie” en “Die wêreld is nie ons woning nie”, ’n toonsetting van ’n Totius-gedig, gesing. Jannie het AG Visser se gedig “Rosa Rosarum” in 1972 getoonset.

Jannie het Nederland in 1979 as deel van die Ad Libitum-koor, waarin hy destyds gesing het, besoek en ’n liefde vir Nederlandse musiek ontwikkel. Nadat hy sy klerkskap by die Staatsprokureur in Pretoria voltooi het, het hy, twee dae na sy toelating tot die regsberoep, besluit om voltyds tot die musiekbedryf toe te tree. Hy het ’n betrekking as kultuurbeampte aanvaar, met die opdra om ’n musiekgroep te stig by die Universiteit van Pretoria (UP), en gedurende sy tydperk het hy suksesvolle musiekblyspele soos “Blik en snaar”, “Gansdans” en “Rip” geskryf. Daarby was hy mede-aanbieder van die televisieprogram Kraaines saam met Carike Keuzenkamp. Onder die destyds nuwe kunstenaars wat in hierdie program opgetree het, was Laurika Rauch, Coenie de Villiers (destyds nog in sy Weermag-uniform) en die sangpaar Coleske.

Aangesien platemaatskappye geweier het om Jannie se musiek uit te reik, het hy in 1981 besluit om sy debuutalbum, ’n Liedjie vir jou, self te finansier en te versprei. Dit het vrugte afgewerp deurdat die album verskeie treffers opgelewer het. Hy het die titelsnit geskryf nadat hy ’n staptog by die Visrivier-canyon onderneem het. Twee Trilogie-liedjies, naamlik “Droom langs stille waters” en “Min of meer”, wat ’n effense rock-klank gehad het en veral by jonger luisteraars byval gevind het, het ook heelwat radiolugtyd gekry, terwyl “Rosa Rosarum”, asook sy toonsetting van die C Louis Leipoldt-gedig “Wys my die plek”, ook ingesluit is. Jannie is goed bevriend met prof. Fransjohan Pretorius, wat verbonde was aan die departement geskiedenis aan die UP, en sy ma, tannie Babs Pretorius, wat baie van Janita Claassen se lirieke geskryf het, het die lirieke van “Magnoliadal” geskryf. Jannie het dit getoonset. Jannie se sin vir humor het baie goed met Cholesterol, ’n stukkie sosiale kommentaar oor Suid-Afrikaners se eetgewoontes, na vore gekom. Jannie het gereeld musiekaande by sy huis in Maragethastraat, naby Pretoria se dieretuin, gehou, en onder die kunstenaars wat opgetree het, was Coenie de Villiers, Koos du Plessis en Lucas Maree.

Na sewe jaar by die UP het Jannie hom by die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit , waar hy voltydse musiekorganiseerder was. Hy was onder meer verantwoordelik vir die reeks Kerslig, vers en melodie, waartydens nuwe kunstenaars aan die publiek bekendgestel is en saam met gevestigde kunstenaars opgetree het. Jannie se tweede album, Drie-uur in die more, is eers in 1987 uitgereik. Dit het weer eens ’n uiteenlopende verskeidenheid musiek bevat; die humoristiese “Resitasie” wat hy as deel van Trilogie geskryf het, is ingesluit, asook “Ek wil vir jou”, die eerste komposisie van Christa Steyn wat hy opgeneem het. “Klopkloppie” was ’n toonsetting van ’n gedig van Pieter Claassens, ’n digter wat op ’n jong ouderdom oorlede is, en “Uitnodiging”, gebaseer op Jesaja 55, was die eerste Christelike snit wat hy opgeneem het.

In 1990 het Jannie se derde album, Palet, wat deur sommige mense as sy groot deurbraak beskou is, uitgereik. Vir die eerste keer het hy Nederlandse liedjies opgeneem, onder meer “Achter de horizon” van Robert Long en Jacques Brel se komposisies “Liefde van later” en “Madeleine”. Laasgenoemde het ’n groot treffer geword, onder meer as gevolg van Christa Steyn se klavierspel. Nog ’n groot treffer wat die album opgelewer het, was “Gee ons vrede”, waarop die sanggroep Fortukksimo saam met hom gesing het. In 1992 het Jannie sy platemaatskappy JNS-musiek gestig. Die naam het gekom van sy bynaam, Janus, en die gedagte was dat Jannie plaaslike musiek van hoogstaande gehalte sou uitreik. Onder die kunstenaars wie se musiek hy versprei het, was Amanda Strydom, Christa Steyn, Lucas Maree, Mauritz Lotz, Louis van Rensburg en Cutt Glas. In dieselfde jaar het hy ’n versameling van die beste snitte vanaf sy eerste drie albums, getiteld Liedjies van vroeër-vaarwel aan viniel, uitgereik. Op die omslag van die album het hy op die vloer gesit en na een van sy langspeelplate geluister. Sy eerste drie albums is almal mettertyd op CD uitgereik. In 1994 het Jannie ’n album met musiek uit sy produksie De kleine man uitgereik, gevolg deur sy volgende Afrikaanse album, Volgende winter, twee jaar later. Laasgenoemde album het ’n Nederlandse vertaling van “Kinders van die wind”, ingesluit, asook Coenie de Villiers se komposisie “Polfyntjie”, en Jules de Corte se “Ik zou wel eens willen weten”. Twee Christelike snitte, “Back to basics”, en “Nogtans sal ek juig”, gebaseer op Habakuk 3, is ook ingesluit.

Jannie het ’n jarelange musiekvennootskap saam met die komponis en klavierspeler Christa Steyn gevorm, en saam met hulle gereeld deur Europa getoer. Christa het onder meer ook die leiding geneem met die ensemble wat die begeleiding tydens die Kerslig, vers en melodie-program behartig het. Sy was ook betrokke by Jannie se musiekblyspele Skadu’s teen die muur, De kleine man en Agter die horizon. Christa was ook verantwoordelik vir die verwerking op ’n paar van Jannie se albums, onder meer sy Christelike album Diepverlange en Skadu’s, ’n huldeblyk aan Koos du Plessis, waarop Lucas Maree en Marié du Toit, die wenner van die Debuut-televisiekompetisie in 1989, saam met Jannie gesing het. In 2006 het hulle ’n DVD getiteld Jannie en die tannie vrygestel. Benewens sy oorspronklike Afrikaanse musiek het Jannie sterk standpunt ingeneem teen vertaalde musiek deur The Staccatos se treffer “Cry to me” direk in Afrikaans te vertaal en in ’n swaar Engelse aksent te sing. Die gehoor het telkens lekker daarvoor gelag. Christa is in Junie 2012 aan kanker oorlede; Jannie het sy album Ligjare, wat in 2013 vrygestel is, aan haar opgedra.

In 2011 het Jannie ’n omvattende versameling van sy musiek, getiteld Onderweg, uitgereik. Dit het veertig van sy treffers deur die jare bevat, nie net sy eie treffers nie, maar ook ’n aantal Nederlandse liedjies wat hy opgeneem het. Jannie het verder drie verhoogproduksies waarin hy hulde aan plaaslike en internasionale ikone gebring het, saamgestel. Doep is nie dood nie en Kiekies was huldeblyke aan onderskeidelik Koos du Plessis en Lucas Maree, terwyl hy ook ’n produksie met die Belgiese sanger en liedjieskrywer Jacques Brel se musiek, in Engels, Afrikaans, Nederlands en Frans, saamgestel en opgevoer het. In 2015 het Jannie weer ’n versameling van sy treffers, getiteld Die eggo van jou oë, uitgereik. Die titelsnit, wat hy en Renette Bouwer, saam gesing het, het ’n treffer geword. Jannie se eertydse sangmaat Andy Lubbe het op nuwe opnames van “Drie-uur in die more”, asook “Lig en donker”, saam met hom gesing, terwyl die album ook nuwe snitte soos “Jy kyk sag”, “Sy genade is genoeg” en “Vat die pad” bevat het.

Hoewel die publiek destyds skepties was oor Afrikaanse musiek met meer om die lyf as dié wat gewoonlik oor die radio gehoor word, het Jannie bewys dat Afrikaanse musiek van hoogstaande gehalte die toets van die tyd deurstaan; hy word met reg as ’n legende van Afrikaanse musiek beskou.

Share
0

Related posts

June 21, 2022

Magdalena Retief – ’n gedenkwaardige, tragiese Voortrekkervrou


Lees meer
June 21, 2022

Die FAK pak ’n reis deur die geskiedenis aan


Lees meer
June 9, 2022

Jan Kemp (1872-1946)


Lees meer

Navigasie

  • Tuis
  • Afrikanergeskiedenis algemeen
  • Tydvakke
    • Pioniers (1652–1820)
    • Groot Trek (1820–1845)
    • Presidente (1845–1902)
    • Generaals (1902–1948)
    • Nasionaliste (1948–1976)
    • Militariste (1976–1994)
    • Afrikaners na 1994
  • Geskiedenisdagboek
  • FAK-Fotoversameling
  • Suider-Afrika Geskiedenis
  • Afrikanerkultuur
  • Kultuurorganisasies
logo
Word 'n vriend

Kontak Ons

Moerdijkhuis,
Voortrekkermonumentterrein Eeufeesweg,
Pretoria

012 301 1777
fak@fak.org.za

1m

© 2021 FAK. Kopiereg voorbehou