Nog dapper kinders
July 27, 2015
Fea Robertse
July 27, 2015

deur Louis Nel.

Toe die Voortrekkers die volgende oggend die lyke begrawe, kry hulle by die Bezuidenhout- waens ’n klein Ndebele-dogtertjie wat nog lewe. Sy was bekend as Jana. Sy is as kind na die neerlaag van Mzilikazi in 1836 deur die Bothas saamgebring.

In 1912, by geleentheid van die groot Geloftedagviering op Pietermaritzburg, toe die herstelde Geloftekerkie aan die regering oorhandig is, was Jana ook teenwoordig. Die diens het in die stadshuis plaasgevind, wat vol mense was. Ek het vir Jana ’n stoel na die verhoog geneem en vir haar gesê sy moet daar gaan sit. Toe ek weer sien, kniel sy by die stoel. Ek dag sy verstaan nie goed wat ek bedoel nie. Ek raak aan haar skouer en sê: “Die stoel is vir jou, Jana!”. “Ja, maar ek bid eers,” was haar antwoord.

JanaToe sy weer moes huis toe gaan, word ek gevra om haar by die stasie te besorg. Toe ek op die plek kom waar sy tuis was, vind ek dat sy al vroegoggend na Victoria-stasie vertrek het om die trein na Greytown te haal. Ek het stasie toe gegaan, want sy was baie oud en vreemd in die stad. Daar het ek haar gekry waar sy aan ’n groep Zoeloes vertel hoe sy as kind byna saam met die Voortrekkers vermoor is. Sy het vertel dat sy effens bygekom het toe al die mense dood was. Sy moes beweeg het, want die eerste wat sy hoor, was dat een Zoeloe vir die ander sê: “Julle het nie almal doodgemaak nie, ek sien daar roer nog iets. Vat jou assegaai en steek hulle dood.” Toe kom die Zoeloe en prik die lyke aan die koppe met die punt van sy assegaai. Sy byt op haar tande en hou so wat sy kan om nie te roer nie. Die Zoeloe draai toe om en sê: “Nee, hulle is almal dood.” Daarna sien sy hoe hulle skape slag en vleis braai. Sy het stil gelê tot die mense gekom het om die lyke te begrawe. Hulle het haar saamgeneem na die laer en saam met ander gewondes in die koelte onder die waens neergelê.

Daar het ’n dogter van Wynand Maré haar gesien. Sy is dadelik na haar ma toe: “Ma, Jana is ook hier en sy’s gewond, maar sy leef nog!” Toe het Wynand Maré se vrou haar laat haal en verpleeg tot sy gesond was. Van toe af het sy by die familie gebly en later by die kleinkinders.