Jan Willem Janssens (1762-1838)

Naturally – Deca
January 28, 2019
Anton Anreith (1754-1822)
January 28, 2019

GOEWERNEUR STEL BELANGE VAN KOLONISTE OP VOORGROND

Die bewind van die Bataafse Republiek het advokaat Jacob de Mist as kommissaris-generaal benoem om die Kaapkolonie van die Engelse oor te neem. Hy moes die nuwe goewerneur, generaal Janssens, ’n voortreflike militêre offisier van onbesproke karakter, vergesel en hom aldaar installeer.

Die installasie het op 1 Maart 1803 plaasgevind. Die name van hierdie twee persone is onafskeidbaar aan mekaar verbonde, en vir ’n anderhalf jaar het hulle saam die bestuur van die Kaap behartig. Na die vertrek van De Mist in Februarie 1805 het Janssens, sy vriend en deelgenoot van sy planne en ideale, die bestuur voortgesit.

Jan Willem Janssens is gebore in Nijmegen op 12 Oktober 1762. Sy vader was ’n militêr en reeds op twaalfjarige leeftyd word die jonge Jan kadet. Al gou styg hy tot die rang van vaandrig, word daarna eerste luitenant en in 1788 is hy kaptein. Gedurende die Napoleontiese Oorloë is hy swaar gewond, en was nou genoodsaak om administratiewe werk te verrig.

Jan Willem Janssens
Foto: Elliot-versameling, Kaapse Argief

In 1800 word hy benoem tot sekretaris-generaal van die ministerie van oorlog, en twee jaar later verlaat hy en De Mist die Texel, op weg na die Kaap, waar hy sou optree as goewerneur en generaal en chef. Skaars drie maande na die inbesitname van die Kaap deur Nederland, pak die onweerswolke weer saam in Europa en Janssens, wat toe juis op ’n inspeksietog na die binneland was, moes onmiddellik na die hoofstad terugkeer om middele ter hand te neem ter verdediging van die volksplanting.

Omdat hy ’n geedriftige militêr was, het hy hierdie taak met ywer en toewyding aangepak. Die burgers, Hottentotte, Maleiers, en Javane, kortom, elke manlike burger aan die Kaap, moes militêre oefeninge deurloop, met die oog op ’n moontlike vyandige aanval.

Die langgevreesde aanval het onverwags gekom. In Januarie 1806 werp ’n Engelse vloot dan ook anker in Tafelbaai, en op die agtiende moes Janssens, na ’n hardnekkige weerstand, kapituleer. Een van die Engelse transportskepe is tot sy beskikking gestel, en op 6 Maart het hy met ’n aantal beamptes en offisiere ons kus verlaat. Op 5 Julie 1806 kom hulle in Holland aan.

Dat Janssens in Holland hoog aangeskryf gestaan het, blyk uit die betrekkings wat hy agtereenvolgens beklee het. In Julie 1806 word hy benoem tot staatsraad in buitengewone diens en sekretaris-generaal van die ministerie van oorlog en marine. Daarna is hy eers intendant-generaal van die Rynleër, dan direkteur-generaal van oorlog.

Op eie versoek word hy eervol ontslaan in 1809, maar teen die end van 1810 word hy goewerneur-

generaal van Nederlands-Indië. Na die inname van Java deur die Engelse in 1811, keer hy as krygsgevangene terug. Hy beklee weer verskeie belangrike poste en word in 1815 tot die adelstand verhef. Op 23 Mei 1838 is hy in Den Haag oorlede.

Vanaf die tyd wat hulle die eerste keer voet aan wal gesit het op die Suidpunt van Afrika, het De Mist en Janssens, twee humane, verstandige en bekwame manne, pragtig saamgewerk. Weens die eienaardighede van sy karakter, maar seker ook omdat die kommissaris in reliëf soveel hoër as die goewerneur gestaan het, was Janssens nooit volslae gelukkig aan die Kaap nie. Swaarmoedigheid en pessimisme was dan ook die grondtoon van sy korrespondensie. Ook was sy taak aan die Kaap uiters gewigtig, want hy moes regmaak wat die gesagvoerders van die vorige sewe jaar verbrou het.

Hy het hom meesterlik van sy taak gekwyt, en op administratiewe, kulturele en ekonomiese gebied blywende verbeterings aangebring. In al sy proklamasies en ordonnansies het hy altyd die belange van die koloniste op die voorgrond gestel, en voor sy vertrek het hy in verstandige, simpatieke woorde die belange van die Koloniste aan Baird opgedra en “die groot meerderheid van die Afrikaanse volk het met weemoed die vlag van Nederland sien verdwyn.”

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.