Jan Visagie: Rustenburg se eerste “geneesheer”

Kommandant Louw Wepener (1812-1865)
April 9, 2017
Die Rapportryer van Majuba
April 9, 2017

(Geskryf deur H.M. Rex soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1959)

Jan H. Visagie, na wie een van Pretoria se belangrike strate vernoem is, is sonder twyfel een van die interessante openbare figure in die vroeë Transvaalse geskiedenis. Nadat hy gedurende die tweede helfte van die 1840-er jare, tydens die aanleg van Andries-Ohrigstad, as Landdros van Potchefstroom opgetree het, het hy blykbaar omstreeks 1850 na die Magaliesbergse wêreld verhuis waar kommandant-generaal Andries Pretorius vanaf 1848 woonagtig was en groot invloed uitgeoefen het. Vanaf 1850 het Visagie waardevolle dienste aan die destydse  Transvaalse regering bewys deur as sekretaris op te tree, eers van kommandant-generaal Andries Pretorius, en na sy dood in 1853, van kommandant-generaal M.W. Pretorius. Toe hy Privaat-sekretaris van laasgenoemde geword het, het hy op Pretorius se plaas Kalkheuvel, langs die Krokodilrivier, naby die teenswoordige Pretoria, gaan woon. Terwyl Visagie op Kalkheuvel gewoon het, het hy in 1854 ’n aktiewe aandeel gehad in die uitleg van die Kerkplaas Elandspoort (die latere Pretoria) en was hy en kommandant-generaal Pretorius ook getuie toe Louis en Lionel Devereux kort vantevore die Kerkplaas Elandspoort in Pretorius se woonhuis op Kalkheuvel saamgestel het. Toe M.W. Pretorius teen die einde van 1856 die presidentskap aanvaar en na Potchefstroom moes verhuis het, het Visagie hom vanaf die begin van 1857 ook op die destydse regeringsetel gaan vestig in sy hoedanigheid as die eerste Goewerments-Sekretaris. Visagie het mettertyd na Pretoria teruggekeer waar hy in 1884 oorlede is. Visagiesraat in Pretoria is na hom vernoem, waaruit duidelik blyk dat die stigter van Pretoria Visagie se openbare dienste besonder hoog op prys gestel het.

 

Die eerste skool in Rustenburg-distrik

Voordat Jan Visagie as sekretaris by die Pretoriusse in diens getree het, het hy hom blykbaar by die familie De Beer op Rooikoppies (die teenswoordige Marikana), aan die Sterkstroom, gevoeg en hier het hy destyds vir ’n tydlank skoolgehou. Dit moes omstreeks 1850 gewees het, in elk geval ’n jaar of wat voor 1852. Jan Visagie se skool op Rooikoppies, die woonplaas van Johannes Christiaan de Beer, was heelwaarskynlik die eerste skool in die Rustenburg-distrik. Een van sy leerlinge, Hannie de Beer, het in haar een-en-tagtigste jaar die skool van Visagie in die volgende woorde in herinnering geroep: “Aan Sterkstroom in die Rustenburgse distrik het ek ’n ruk lank skoolgegaan by Jan Visagie.”

Amptenaar van die Republiek en sy voormanne

Jan Visagie het blykbaar nie lank op Rooikoppies vertoef nie. Hy was een van die geleerdste manne van sy tyd en omgewing en vanaf 1850 het hy gereeld vir kommandant-generaal Andries Pretorius klerklike werk gedoen. Ook as Sekretaris van die Volksraad het hy nuttige werk gedoen, maar veral het hy bekendheid verwerf deur sy optrede as Sekretaris van die Republikeinse afvaardiging tydens die onderhandelings wat in 1852 op die Sandrivier-konvensie uitgeloop het.

In Maart 1852 het die eerste groot vergadering van die Volksraad op Rustenburg (wat in 1850 aangelê is) plaasgevind en van daardie historiese vergadering was Jan Visagie die Sekretaris, en ook by ander geleenthede daarna het hy in daardie hoedanigheid opgetree. Hy het verder in 1853 as Sekretaris van die Krygsraad opgetree en mettertyd as Sekretaris van kommandant-generaal M.W. Pretorius.

 

Rustenburg se eerste “geneesbeer”

Dit blyk dus dat Jan Visagie vanaf die stigting van Rustenburg in 1850, in daardie omgewing gewoon en gewerk het. Sy verblyf in die Rustenburgse omgewing was vir die ingesetenes van dorp en distrik in tye van siekte en ongevalle ’n ware uitkoms, aangesien Visagie oor ’n elementêre mediese kennis beskik het wat hy in die belang van sy volksgenote aangewend het. Dit moet in gedagte gehou word dat daar op daardie tydstip nog geen enkele mediese dokter in Transvaal gepraktiseer het nie en dat die naaste geneeshere in Natal gewoon het. Dit sou nog ’n hele paar jaar duur voordat dr. Poortman hom op Potchefstroom en dr. Arnoldi hom op Pretoria sou vestig. Intussen moes siekes genesing probeer vind deur gebruik te maak van boererate of om langdurige besoeke af te lê by “Het Bad”, 60 myl noord van Pretoria of by ander geneeskragtige warm en koue badplase wat op verskillende plekke in Transvaal voorgekom het.

Saam met die elementêre mediese kennis waaroor Visagie beskik het, het hy ’n uitmuntende kennis van kruiegeneesmiddels gepaar en dit was dan ook veral as ’n sogenaamde “bossie”- of “kruiedokter” dat hy beroemdheid in Transvaal verwerf het. Tot met sy dood in 1884 het mense van oraloor na hom gekom vir raad en kruiegeneesmiddels.

Terwyl Jan Visagie op Rustenburg gewoon en sy klerklike pligte verrig het, was hy in die geleentheid om loflike en gewaardeerde werk as Rustenburg se eerste “geneesheer” te doen. Na Visagie sou ander dokters hulle op Rustenburg gaan vestig, sommige van wie goed opgelei was, maar op só manier het hy ook goeie werk gedoen, die mense se pyn verlig (veral pyn veroorsaak deur oorlogswonde), en genesing bewerkstellig. As ’n voorloper van opgeleide geneeshere wat mettertyd op Rustenburg gepraktiseer het, kan Visagie gerus onthou word.

 

Visagie as kommandodokter

Nadat kommandant-generaal Andries Pretorius op 10 Januarie 1853 vanaf “Kant van de Dorsland” berig het dat drie van sy dapper manskappe in die gevegte baie ernstig gewond en “vol pyn en smerten door de schutteng van de wagens” is, het hy vir Jan Visagie ontbied, baie waarskynlik om mediese bystand te verleen aan die swaar gewonde burgers.

Gedurende Julie 1858 het Visagie vanuit die staanspoor die kommando’s vergesel tydens die veldtog teen Mahura en Gasibone in Wes-Transvaal. Op daardie veldtog het hy die kommando’s vergesel uitdruklik met die doel om geneeskundige bystand te verleen in geval van nood. In sy verslag, na die suksesvolle beëindiging van die veldtog het assistent-kommandant-generaal Paul Kruger, onder andere die volgende oor Jan Visagie se flinke optrede gemeld: “Ik dien hier tevens melding te maken van den loffelyken yver van den Heer J. H. Visagie, in het verplegen der gekwetsten, en het toebrengen van geneeskundige hulp.”

Toe daar mettertyd opgeleide geneeshere op verskillende plekke in Transvaal gepraktiseer het, is dit opmerklik dat die kommando’s feitlik elke keer deur ’n kommandodokter vergesel is met die doel om geneeskundige hulp in noodgevalle te verleen. In hierdie verband kan Visagie as ’n voorloper van die latere kommandodokters beskou word. In die 1850-er jare het hy in daardie hoedanigheid loflike werk verrig.

 

Nog meer lof vir “Dokter” Visagie

Uit ’n ander geloofwaardige bron verneem ons nog meer van Jan Visagie se sukses op die gebied van die geneeskunde: “Jan Visagie … was a man in common with many others in the so-called learned professions, who sprang from and was equipped by his peculiar environment. He had, of course, no title to be considered “learned” whatever, except in so far as his trained experience, added to a natural gift and bent, in time made him a very valued product of a rude and ill-provided age. He acted ultimately as a doctor in a very wide circle, and his treatment of the rather virulent diseases of the day, as also of veld and commando accidents and maiming incidents of that turbulent time, met with such astonishing success, that he was everywhere hailed as a heaven-sent messenger of relief and healing. If success in treating the diseases and cruel wounds and dismemberments arising from a rough life in ultra-savage surroundings constitutes learning, then he was very learned, indeed, but he held no medical or university certificate, so he probably only triumphed throughout a Iong series of years, by imposing upon the credulity of the untutored public, the really learned will say. But being a Practical and efficient healer and helper the rude folk of the day simply worshipped him.”

’n Tydgenoot van Jan Visagie het hom in die eerste plek ook as ’n “geneesheer” onthou. G.J.W. du Toit, die seun van landdros A.F. du Toit van Pretoria, het al die ou mense van daardie jare goed geken en aan Visagie het hy in die eerste plek nie gedink as amptenaar of onderwyser nie, maar het hy hom in die eerste plek onthou as: “Jan Visagie (Dockter) met Bossies en Boeren Raat.”

 

’n Voorloper en pionier

Teen die einde van die 1850-er jare het die eerste opgeleide geneeshere hulle verskyning op Rustenburg begin maak en in die loop van die jare daarna uitstekende en waardevolle werk op die gebied van die geneeskunde gedoen. Veral die Duitse sendelinge en opgeleide geneeshere het mettertyd werk van onskatbare waarde gelewer. Jan H. Visagie kan egter met dankbaarheid onthou word as die eerste onderwyser en “geneesheer” van Rustenburg. Hy was ’n voorloper en pionier vir baie ander wat ná hom op hierdie twee belangrike lewensterreine die belange van hulle onderskeie professies op ’n eervolle en nougesette wyse bevorder het.