Jan van Riebeeck se plaas Bosheuvel bestaan vandag nog

Old Nectar, Jonkershoek (Geen toegang)
Desember 14, 2017
Nooitgedacht, Koelenhof
Januarie 18, 2018

Sir Charles D’Oyly, ’n koopman van die Brits Oos-Indiese Kompanjie wat in 1832-’33 aan die Kaap was, het sketse van die huise, geboue, plekke en mense gemaak. Hy het ook Bosheuvel, toe deur die Britte Protea genoem, geskets. Op 24 Augustus 1832 het hy die vooraansig van Bosheuvel so geskets: ’n Laning wilde amandelbome wat Van Riebeeck daar geplant het, groei vandag nog (na 350 jaar) steeds welig. Foto: Van Bart-versameling

Marthinus van Bart

WEINIG mense is daarvan bewus dat die setel van die hoof van die Anglikaanse Kerk in Kaapstad, Bishopscourt, naby Kirstenbosch, oorspronklik die spogplaas Bosheuvel van kommandeur  Jan van Riebeeck, grondlegger van die Westerse Christelike beskawing aan die suidpunt van Donker Afrika, was.

Boukundige opnames dui daarop dat dele van die huidige geboue, waaruit die ampswoning saamgestel is, die oorspronklike boumateriaal bevat wat Van Riebeeck se bouers in die 1650’s gebruik het vir die oprigting van sy private plaaswoning en buitegeboue op Bosheuvel.    

Jan van Riebeeck, geskilder in 1664 in Malakka, waar hy die goewerneur was nadat hy die Kaap verlaat het. Foto: Van Bart-versameling

Die eerste woonplek van die gesin Van Riebeeck was aanvanklik aan boord die VOC-seilskip Drom(m)edaris, wat in Tafelbaai voor anker gelê het, totdat die eerste vesting aan die Kaap, Fort de Goede Hoop, met modderstene  en klip gebou, opgerig is. Dit het gestaan waar die Parade vandag is.

Die huidige klipvesting, Kasteel de Goede Hoop, wat aan die suid-oostekant van die Parade staan,  is eers in die 1880’s deur goewerneur Wagenaar opgerig.

Die mure van die kommandeurswoning binne die Fort was vermoedelik van songedroogte modderstene, liggeel Tafelberg-sandsteen en harde, blou Malmesbury-skalie. Die fort het ’n plat brakdak van modder, skulpkalk, molasse, walvisolie en riet gehad.

’n Franse besoeker van daardie tyd aan die Kaap, Nicolas Etienne, het die goewerneurswoning in die fort beskryf as “assez grand, commode et propre” (’n waardige, netjiese en behoorlike woning).

Die Fort het ’n ontvangsaaltjie gehad wat ook as eetsaal en kelder gedien het, ’n kommandeurskantoor, die slaapkamer van die egpaar Van Riebeeck, asook ’n aanliggende kinderkamer. Twee dogters is vir die egpaar aan die Kaap gebore.

Daar is nie veel bekend oor die huislike lewe van die gesin nie, maar daar word vermeld dat hul lewe onder meer met musiek opgevrolik is deurdat Maria ’n klavesimbel en ’n viool bespeel het.

Omstreeks 1658 het die Kompanjie ingestem dat ’n stuk grond wat hy aan Van Riebeeck agter die Leeuwenbergh (vermoedelik in die Kampsbaaise omgewing) toegeken het, verruil kon word vir geskikter grond aan die oostekant van Tafelberg – waar Kirstenbosch en Bishopscourt nou is. Dit grens inderdaad aan die suidekant van die huidige Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch.

Op 16 April 1658 beskryf die Here XVII, die direkteure of hoofbestuur van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, die plaas as synde “… den vollen eijgendom ende libre disposisie van seecker parck lauts achter den Tafelberch tegens se Zeecant gelegen … om het selve bij hem (Van Riebeeck) bebouwt ende gecultiveert te werden.”

Hierdie kaart van Kaapstad en omgewing wat die eerste wat Van Riebeeck hier ter plaatse geteken het.
Foto: Van Bart-versameling

In die brief word dit ook duidelik gestel dat Van Riebeeck die vergunning kry mits hy nie gebruik maak van die Kompanjie se slawe, werkvolk en implemente nie. Van Riebeeck was gevolglik verplig om slawe van verbygaande skepe te koop om vir hom op Bosheuvel, soos hy die plaas genoem het, te werk.

Op  Bosheuvel het hy ’n plaashuis (bouwhuys) en verskeie skure opgerig, en begin om die vrugbare stuk aarde van 100 morg in ’n lushof te omskep. ’n Groot wingerd (1 300 stokke) en ’n groot verskeidenheid vrugtebome en groente is onder meer aangeplant en koring is ook gesaai. Om die plaas teen strooptogte deur die Koina (Kaapmans) te probeer beskerm, het hy ’n laning inheemse wilde amandelbome laat aanplant wat vandag nog daar staan. Die amandelbome was geen ondeurdringbare heining (soos kwaadwillige politieke narre deesdae beweer) nie, maar die Koina was gek na die wilde amandels. Deurdat hulle die amandels jaarliks kon oes, het Van Riebeeck gemeen sal hulle sy tabakplante en ander vrugtebome met rus laat. Dit was ’n denkfout, het hy mettertyd tot sy ontnugtering ontdek.

Van Riebeeck het 24 trekosse, twaalf melkkoeie met 6 kalwers, 10 Hollandse, 15 Kaapse en 28 Bengaalse skape gekoop om op Bosheuvel aan te hou.

Dit is nie duidelik of die Van Riebeecks vir lang tye in die plaashuis op Bosheuvel gewoon het nie. Dit was blykbaar net ’n naweek-verblyf, want as hoof van Het Vleck aan’t Caap, soos die Kaap amptelik genoem is, was hy elke dag baie bedrywig met bestuursake in sy woning en kantoor in die Fort.

Op 5 Mei 1659 vermeld hy in sy Daghregister dat hy die plaas besoek het en dat hy vandaar die vure van die Kaapmans (inheemse Koina) in die Steenberge (omgewing Vishoek) kon sien. Twee dae later ontvang hy berig dat sy plaashuis op Bosheuvel afgebrand het. In sy Daghregister teken hy aan: “Heden creegh den Commandeur tijdingh dat sijn wooninge ofte bouwhuys aen den Bosheuvel tot de gront, van eigen vuyr binnen’s huijs ontstaen, aff gebrandt was.”

Van Riebeeck se medisynekis. Hy was ’n opgeleide skeepssjirurgyn. Die kis word in Leeuwenhof, ampswoning van die Wes-Kaapse premier, bewaar.

By sy vertrek verstrek Van Riebeeck ’n inventaris van alles op Bosheuvel aan die Kompanjie: “lant (landerye) en plantagie, als den ganschen opstal van schuijr, bergen (hooiskure met ’n verstelbaker dak) wagens, ploegen, eggen ende verdere gereetschappen …” Hy vermeld nie die plaashuis (bouwhuys) nie, en omdat hy ook nie elders skryf dat die afgebrande woning herbou is nie, moet aanvaar word dat net die buitegeboue in 1661 ongeskonde bly staan het. Die murasie van die afgebrande woning was egter jare later nog staande, word in amptelike dokumente vermeld.

Van Riebeeck het naas sy meer as  duisend wingerstokke ook 1 162 sitrusbome, 10 piesangbome, 2 olyfbome, 70 Hollandse vrugtebome – waaronder 3 okkerneutbome, 6 kweperbome, 5 appelbome, 2 peerbome, 11 kersiebome, 24 kastaiingbome en 19 pruimbome – laat aanplant. Altesame was daar 1 244 vrugtebome op Bosheuvel. Hy het ook blomme laat kweek, en agapantusse, kannas en rose word in die Daghregister vermeld. Hy het ook aangeteken dat hy op 1 November 1659 die eerste roos aan die Kaap gepluk het. Hy het beoog om gedroogte roosblare, rooswater en roosolie uit te voer. Hiervan het egter niks gekom nie, want hy is tien jaar na sy aankoms aan die Kaap na die Ooste verplaas.

Twee Duitse landbouers het as huurlinge die plaas behartig, waarop sy 8 slawe gewerk het. Van Riebeeck het by sy uittrede in 1662 altesame 22 ploegosse besit.

 Die plaas is eers drie jaar na die vertrek van die Van Riebeeck-gesin na Malakka, Indonesië, – in 1665 – per openbare veiling verkoop. Die Kompanjie het na baie wik en weeg besluit om nie die plaas by Van Riebeeck aan te koop nie. Die nuwe eienaar was Jacob Cornelis van Rosendael, ’n hotelier, wat nooit daar gewoon het nie, maar wel die wingerde versorg en wyn geproduseer het. Hy was indertyd die enigste gelisensieerde wynmaker aan die Kaap. Toe hy in 1675 oorlede is, is hy opgevolg deur die Vlaamse wynmaker Guillaume Heems, wat die Bosheuvel-woning in 1691 herbou het. In 1773 het Johannes Roep die opstal vergroot en van ’n mooi Kaaps-Hollandse gewel voorsien.

In 1805 is die ongewilde landdros Honoratus Maynier van Graaff-Reinet op vertoë van die ontevrede Vryburgers op vervroegde aftrede geplaas. Hy is gul deur die Britte vir sy ongerief vergoed, en het hy op Bosheuvel afgetree. Hy was die Vryburgers vyandiggesind en kop in een mus met die Britse bewind wat die Kaap eers in 1795 en toe weer in 1806 met oorlogsgeweld van die Nederlanders afgeneem het.

Hy het die plaas se naam van Bosheuvel na Protea verander, die opstal vergroot en die bekoorlike Kaaps-Hollandse styl verander na die oninspirerende, onooglike Britse koloniale styl van daardie tyd. Die Kaapse goewerneur sir Lowry Cole het van 1828 tot 1833 met sy gesin in die vergrote hoofwoning gewoon, en Maynier in ’n kleiner anneks.

Die Britse kunstenaar sir Charles D’Oyly het verskeie skilderye van die woning en die plaas gemaak.

Sir Charles D’Oyly, ’n koopman van die Brits Oos-Indiese Kompanjie wat in 1832-’33 aan die Kaap was, het sketse van die huise, geboue, plekke en mense gemaak. Hy het ook Bosheuvel, toe deur die Britte Protea genoem, geskets. Op 24 Augustus 1832 het hy die vooraansig van Bosheuvel so geskets: ’n Laning wilde amandelbome wat Van Riebeeck daar geplant het, groei vandag nog (na 350 jaar) steeds welig.
Foto: Van Bart-versameling

In 1851 het die Colonial Bishoprics Fund van die Anglikaanse Kerk die plaas gekoop en dit Bishopscourt genoem. Die woning is toe ingerig as die hoofsetel van die Anglikaanse biskop van Kaapstad, en is dit steeds.  

Die veranderde en verboude opstal van Van Riebeeck se Bosheuvel is vandag die residensie van Anglikaanse biskop van Kaapstad. Dit word Bishopscourt genoem.

 Die eerste Anglikaanse biskop van Kaapstad, biskop Robert Gray en sy vrou, Sophia, het die plaas namens die Anglikaanse Kerk uitgekies. Argitekte van die firma Bake & Kendall, gestig deur sir Herbert Baker, Britse argitek, het die woning in 1909 opgeknap en aansienlik vergroot om dit ’n gepaster status te gee van die Kerk se amptelike biskopswoning. Dit is nie vir die algemene publiek toeganklik nie, maar daar is niks om die verbintenis met Jan van Riebeeck, wat die Woord van God en die Christelike Geloof na heidense Afrika gebring en gevestig het, aan te dui nie. In daardie teopolitieke kringe word hy, sy ryke kulturele erflating en sy voortreflike Dietse pioniersgemeenskap liefs vergeet.