Van huis tot paleis … só is ou Pretoria se siekes en soldate versorg
August 16, 2018
Simon van der Stel (1639-1712)
August 16, 2018

STIGTER VAN ’N VOLKSPLANTING

Jan van Riebeeck het, toe hy met ’n klompie amptenare van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie op 6 April 1652 in die skepe De Dromedaris, De Goede Hoop en De Reyger in Tafelbaai aangekom het, die fondament gelê waarop ons nasionale gebou in die loop van die jare sou verrys. Hy is die stigter, die grondlegger van blank Suid-Afrika, ons eerste nasionale boumeester.

“Die Advancement soeckt sal geen naerstigheijt sparen”, was die slagspreuk van ons landsvader, en vanaf die oomblik dat hy sy voet op Suid-Afrikaanse bodem gesit het, het van Riebeeck met reusewerkkrag, deursettingsvermoë, gepaard met ’n verstandige en versigtige optrede, nie alleen promosie vir homself verseker nie, maar ook die roem en die grootheid van die Kompanjie waarvan hy ’n dienaar was, help uitbrei. Maar dan het hy ’n onbeduidende aanlêplek van die retoervloot omgeskep in ’n welvarende Kolonie met “vrijluijden”, ’n goed georganiseerde, beskaafde buitepos van Holland. Uit niks het hy iets gemaak, en vir hierdie bouwerk eer ons hom as een van ons volkshelde en sal hy by baie geslagte in dankbare herinnering voortleef.

Daar is so baie in ons land wat aan die historiese Jan van Riebeeck herinner. Daar is die Kompanjiestuin wat nou nog die sieraad van Kaapstad is – hy het dit begin. Hy was die persoon wat die boerdery ’n selfstandige bedryf gemaak het. Nie alleen was hy die eerste wynboer in Suid-Afrika nie, maar talle ander kultuurplante is deur hom gekweek. Hy het belangrike bouwerke opgerig, het belang gestel in die veeteelt, en was ’n geesdriftige ontdekkingsreisiger. Op sy inisiatief is verskeie verkenningstogte na die gevaarvolle binneland onderneem. Hy was ’n bekwame administrateur, en met sy vertrek het hy ’n goed ingerigte eerste vorm landsbestuur agtergelaat. Met die instelling van die Vryburgers het hy ’n mylpaal in die geskiedenis bereik, want hiermee het hy die geboortejaar van die Boerenasie in Suid-Afrika aangekondig.

Foto: Jan van Riebeeck (Foto: Elliott-versameling, Kaapse Argief)

Uit sy Dagboek leer ons hom ken as ’n man met hoogstaande en onbesproke karakter; sag en edel van inbors, hoflik, vriendelik, diep menslik. As amptenaar het sy strenge pligsgevoel, onvermoeide ywer en groot selfbeheersing vertroue ingeboesem. Versigtig, kalm en vol oorleg het hy te werk gegaan. Maar dan tref ook sy opgewekte humeur, blye optimisme en vrome Godsvertroue.

Jan van Riebeeck is in die jaar 1618 uit ’n gesiene Nederlandse familie in die Hollandse dorpie Culemborg gebore. Reeds op elfjarige leeftyd verloor hy sy moeder, maar onder die troue sorg van sy grootvader studeer hy later in die medisyne. Op 21-jarige leeftyd word hy onderchirurg by die Oos-Indiese-Kompanjie. Hy doen diens op Het Hof van Holland, bestem vir Batavia, met ’n salaris van omtrent £7 per maand. In 1640 aanvaar hy in Batavia ’n klerikale amp; binne korte tyd word hy onder-hoofman, en in 1645 hoofman te Tonkin. Ongelukkig word hy nou ’n prooi van die Kompanjie se suiweringspolitiek teen privaat handel en kry hy sy ontslag. In Nederland teruggekeer, trou hy in 1649 met Maria de Quellerie. Nog altyd hunker hy na Kompanjiesdiens. Juis in hierdie tyd besluit Here Sewentien om ’n verversingspos aan die Kaap te stig, en Jan van Riebeeck word opnuut in diens maar dié keer “als Coopman en Opperhoofd” van die pos by “Cabo de bona Esperanza”. Maar steeds wil hy tot die hoogste sport in die amptelike leer klim en na herhaalde versoeke word hy na Batavia gestuur, waar hy verskillende poste beklee. Uiteindelik is hy, na die dood van sy vrou en ’n tydelike ontslag van ’n jaar, bevorder tot sekretaris van die Goewerneur-generaal en Raad van Indië.

Die hoogste sport, Lid van die Raad, sou hy nooit bereik nie. Sy seun het dit wel geword. Op 18 Januarie 1677 is hy oorlede, en is begrawe in die Groot Kerk in Batavia. Sy grafsteen word bewaar in die museum in Kaapstad en sy nagedagtenis is verewig in ’n standbeeld aan die voet van Adderleystraat.

“Zoo lang Zuid-Afrika zal bestaan wordt Jan van Riebeeck, de Stichter, niet vergeten!”

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.