Jan Hofmeyr (1894-1948)

Jaap Marais (1922-2000)
July 29, 2021
Jimmy Kruger (1917-1987)
July 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Jan Hofmeyr was ’n Suid-Afrikaanse politikus in die jare voor apartheid.

Jan Hendrik Hofmeyr is op 20 Maart 1894 in Kaapstad gebore en “Onze Jan” Hofmeyr, ’n kampvegter vir die Afrikaanse taal, was sy oom. Sy ma het hom hoofsaaklik grootgemaak aangesien sy pa oorlede is toe hy net drie jaar oud was.

Sy intelligensie was van ’n baie jong ouderdom af al duidelik; hy het in Januarie 1902 aan die South African College Schools begin skoolgaan en vinnig deur die verskillende grade beweeg totdat hy in 1906 gematrikuleer het. Hy het in klassieke studies aan die Universiteit van Kaapstad, wat toe nog as die South African College bekendgestaan het, gestudeer en sy BA-graad behaal. Hy was slegs vyftien jaar oud toe hy sy honneursgraad verwerf het. Hy het ’n Rhodes-beurs ontvang om aan Oxford te studeer, maar besluit om dit eers later in sy lewe te doen. Intussen het hy in 1910 ’n BA-graad in wetenskappe en ’n MA-graad in klassieke studies behaal toe hy sewentien jaar oud was. Hy het terselfdertyd ’n biografie oor sy oom, Onze Jan, geskryf, onder toesig van die voormalige president van die Vrystaat, FW Reitz. Hy het dit binne ’n jaar voltooi; dit is eers in Engels geskryf en toe in Nederlands vertaal. In September 1913 het hy wel by Oxford gaan studeer en by die Oxford Union teen onder meer Harold Mc Millan en Harold Laski debat gevoer. Die Eerste Wêreldoorlog het in hierdie tyd uitgebreek, maar Hofmeyr het nie aan een van die twee kante daaraan deelgeneem nie. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy dit oorweeg om by die YMCA aan te sluit, en diens aan die Suid-Afrikaanse troepe in Oos-Afrika te lewer. By Oxford was hy betrokke by Christelike aktiwiteite en het lid geword van die Student Christian Union. Hy was trouens dwarsdeur sy lewe betrokke by vrywillige jeugwerk. Hy het kampe van die Student Christian Association bygewoon selfs toe hy die administrateur van Transvaal was en selfs ’n kampterrein wat by Anerley in KwaZulu-Natal geleë was, aan die vereniging geskenk. Hy en die skrywer Alan Paton, wat veral bekendheid vir Cry the beloved country verwerf het, het mekaar by een van hierdie kampe ontmoet en hulle het goed bevriend geraak.

Toe hy in Junie 1916 van Oxford af teruggekeer het, is hy as dosent by sy alma mater aangestel met klassieke studies as vakgebied. Hy het gou egter aansoek gedoen om ’n professoraat by die South African College of Mines en in dié posisie aangestel. Die stad Johannesburg sou sy eie Universiteit gehad het, en nege nuwe departemente in die kunste en wetenskap is gestig. Sy intelligensie het gemaak dat hy hoog in aanvraag as openbare spreker was. Sy onderwerp was hoofsaaklik Afrikanergeskiedenis, met die klem op die strewe na Afrikanernasionalisme teenoor Britse imperialisme. Hy het geglo dat die Afrikaner sy eie identiteit kon hê sonder om die land van die Britse ryk te skei soos wat die republikeine wou gehad het. Hy het, soos Onze Jan, versoening tussen die Afrikaners en die Engelssprekende bevolking bepleit; dit het hom net so ongewild by sprekers as sy oom gemaak.

Teen die einde van 1918 het hy terug na Kaapstad verhuis, waar hy aan die herdoopte Universiteit van Kaapstad verbonde was. Die South African School of Mines wou hom egter nie verloor nie, en toe die rektor oorlede is, is hy in hierdie posisie aangestel. Hy het die instelling na die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) herdoop en die standpunt gehuldig dat daar by ’n universiteit geen onderskeid ten opsigte van ras, geloof, godsdiens of welvaart al dan nie moes wees nie.

Hofmeyr het vroeg reeds ’n loopbaan in die politiek oorweeg; in Januarie 1919 het die waarnemende eerste minister, FS Malan, hom probeer oorreed om as hoof- organiserende sekretaris van die Suid-Afrikaanse Party aan te sluit, maar Hofmeyr het geweier. Selfs toe genl. Jan Smuts die eerste minister geword het, het Hofmeyr geweier toe Smuts hom in hierdie posisie wou aanstel. Hy was nie bereid om by partypolitiek betrokke te raak nie, en het daarom eerder die administrateur van Transvaal geword. Hy sou nie aan ’n verkiesing moes deelneem om in hierdie posisie aangestel te word nie, aangesien die dienende eerste minister hierdie aanstellings gedoen het. Volgens Hofmeyr het dit hom die geleentheid gegee om objektief tot diens van almal in die provinsie te wees. Hy het op 1 Maart 1924 as administrateur van Transvaal begin werk, maar weens kontraktuele verpligtinge was hy nog vyf maande lank die rektor van Wits. Hy was steeds op die raad van die universiteit nadat hy sy amp as rektor prysgegee het. Kort nadat Hofmeyr administrateur geword het, het genl. JBM Hertzog die eerste minister geword. Hofmeyr het egter nie gedink dit was nodig om te bedank nie aangesien sy posisie nie van partypolitiek afhanklik was nie.

Hofmeyr het later besluit om wel die regering van die dag teen te staan en in 1929 het hy die parlementslid vir die kiesafdeling Johannesburg-Noord vir die Suid-Afrikaanse Party geword. In sy eerste toespraak het Hofmeyr standpunt ingeneem teen die wetsontwerp wat immigrasiekwotas sou beperk en wat deur dr. DF Malan ter tafel gelê is. Ingevolge hierdie wetsontwerp sou die aantal Jode wat na Suid-Afrika sou immigreer, beperk word. Politici van die Nasionale Party het gehoop dat Hofmeyr begrip sou hê met hul strewe na Afrikaner-oorheersing. Hy was die heeltyd goedgesind teenoor genl. Hertzog, maar hy het dr. Malan, die destydse minister van onderwys, skerp gekritiseer. Toe Malan die Wetsontwerp op Hoër Onderwys ter tafel gelê het, was Hofmeyr daarteen gekant, aangesien dit streng beheer oor die aanstelling van personeel by universiteite asook begrotings sou beteken. Hofmeyr het dit as ’n skending van akademiese vryheid beskou.

Hofmeyr is in September 1939 aangestel as minister van finansies, kort nadat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, en het tydens die oorlog as eerste minister waargeneem terwyl Smuts daarby betrokke was. Hy het in daardie tyd ses of sewe ministeriële portefeuljes tegelyk hanteer; dit het tot uitbranding gelei en sy gesondheid nadelig beïnvloed.

Hy is op 3 Desember 1948, net meer as ses maande nadat dr. Malan die algemene verkiesing daardie jaar gewen het, in die ouderdom van 54 jaar oorlede en uit die NG Kerk in Bosmanstraat in Pretoria begrawe. Alan Paton het sy bekende roman, Cry the beloved country, aan Hofmeyr opgedra en ’n voorstad in Johannesburg, Jan Hofmeyr, is na hom vernoem. Sekere dele van die televisiereeks Agter elke man is in hierdie voorstad, wat ook die bynaam Jan Bom gekry het, verfilm.