Jan FE Celliers (1865-1940)

jfe

deur Dawie du Plessis

Jan F.E. Celliers is op 12 Januarie 1865 op Wagenmakersvallei in die distrik Wellington gebore. Voor sy eerste verjaarsdag verhuis die familie na Kaapstad, waar hy sy skoolopleiding in Engels ontvang. Sy pa, Jan Celliers, rig in 1873 die koerant De Volkstem in Pretoria op, en die familie skuif die volgende jaar na die Transvaalse hoofstad.

Aanvanklik is sy onderrig ook hier in Engels, maar hy gaan later na die skooltjie op Kerkplein waar hy vir die eerste maal onderrig in Nederlands ontvang. Toe Engeland die Suid-Afrikaanse Republiek in 1877 annekseer word die skooltjie summier toegemaak. Die seun gaan werk toe vir sy pa by De Volkstem, totdat hy in 1979 na Stellenbosch gaan om by die Gimnasium skool te gaan. In 1882 keer hy weer terug na Pretoria. Hier word hy leerling van ene Meester Louis, wat hom ook na-ure onderrig gegee het. Met behulp van dié onderwyser lê hy die teoretiese landmeterseksamen af.

In 1887 gaan hy na die Polytechniese School in Delft, maar hy studeer ook in Leiden. Hier in Nederland lê hy sy landmeterseksamen af. Hy keer in 1890 terug na Pretoria. Vir ongeveer ’n jaar doen hy landmeterswerk in die Bosveld, maar hy voel hom toenemend eensaam in die veld. In 1891 word hy amptenaar in die Onderwysdepartement onder doktor Mansvelt. In 1894 tree hy in die huwelik met Susanna Jacoba Dürr. In dieselfde jaar word hy aangestel as Staatsbibliotekaris.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het Celliers op kommando gegaan, en aan ’n aantal gevegte in die omgewing naby Colesberg deelgeneem. Sy kommando was in Pretoria toe die Britse magte die hoofstad beset, en hy moes vir ’n ruk lank wegkruip. Hy het later ontsnap deur sy vrou se klere aan te trek! Celliers het voor die oorlog al gediggies geskrywe in die trant van die Eerste Tydperk, en hy het dit ook op kommando gedoen. Hier het hy veral die huislike geluk verheerlik, soos in die bekende “Ou oom Willem aan sy verslete baadjie”.

Ná die oorlog was Celliers sonder werk, maar weens sy vrou se finansiële posisie kon die gesin in Europa gaan bly, waar hy hom veral tot die studie van die letterkunde gewend het. Jan Celliers was in Clarens, Switserland teenwoordig toe president Paul Kruger gesterf het, iets wat weergegee word in sy gedig “In ballingskap”. Die Celliers’s keer toe in 1907 terug na Suid-Afrika, waar Jan Celliers na ’n paar maande ’n pos by die Departement van Binnelandse Sake kry. Later is hy oorgeplaas na die Argief toe, maar hy het nooit sy werk daar kon doen nie. Binnelandse Sake het nie ’n vertaler besit nie, en bloot al hul vertaalwerk aan Celliers oorgedra! Later het hy permanent die amptelike vertaler geword. Sy vervelige werk het hy afgewissel deur te skrywe, en die lewering van openbare lesings. Sy bundels Die vlakte en ander gedigte verskyn in 1908, en Martjie in 1911.

In hierdie bundels het Celliers hom openbaar as volksdigter. Soos Marais se “Winternag” is “Die vlakte” verseker van ’n ingebedde plek in die Afrikaanse poëtiese kanon. Dit was inderdaad die eerste landskapsuitbeelding in die Afrikaanse digkuns. Daarby het Celliers ook oorlogsverse geskryf, die bekendste (en beste) sekerlik die bekende “Dis al”, wat die indrukke weergee van ’n Boer wat na die oorlog as krygsgevangene terugkeer en die verwoesting aanskou. Die gedig “Jopie Fourie” is geskryf na die martelaarsdood van dié Rebel, en is landwyd versprei deur dit grootliks met die hand oor te skryf. Die titelgedig in Martjie word beskou as die eerste uitvoerige verhalende gedig in Afrikaans.

In 1919 het die Universiteit van Stellenbosch ’n buitengewone professoraat aan Celliers aangebied, wat beteken het dat hy hom voortaan volkome aan Afrikaans kon wy. Een van die persone wat hom daarvoor beywer het dat die universiteit ’n pos aan Celliers moes gee, was C.J. Langenhoven. Celliers se vrou is in 1926 oorlede, en na hy in 1929 by die universiteit bedank het, verhuis hy na Kaapstad. Op 1 Junie 1940 is hy in Johannesburg in sy dogter se huis oorlede.

 Verdere leesstof:

  • Esterhuysen, K. 1951. Jan Celliers: ons volksdigter. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
  • Gilfillan, F.R. 1978. Jan F.E. Celliers. Kaapstad: Tafelberg.
  • Nienaber, P.J. 1949. Biografie skets. (In Van den Heever, C.M. & Nienaber, P.J. red. Bloemlesing uit die gedigte van Jan F.E. Celliers. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. p. 6-13).
  • Snyman, N. 1999. Jan F.E. Celliers. (In Van Coller, H. red. Perspektief en Profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik. p. 330-338).