Jan Ellis (1942-2013)

Dr. Danie Craven (1910-1993)
May 12, 2020
Matilda Hanekom (1899-1977)
May 12, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Op 24 Julie 1976 het ’n flank wat van Suidwes-Afrika (Namibië) afkomstig was, die rekord vir die meeste toetse vir die Springbok-rugbyspan geëwenaar.

Jan Hendrik Ellis is op 5 Januarie 1942 in Brakpan gebore maar sy gesin het na Gobabis in Suidwes-Afrika verhuis en hy het aan die Hoërskool Wennie du Plessis gematrikuleer. Terwyl hy op skool was, het hy soggens vir sy skool gespeel en later die dag vir die dorp se seniorspan. Hy is ook vir Suidwes-Afrika se skolespan gekies en as kaptein aangewys.

Na sy skoolloopbaan het hy na Windhoek verhuis om in ’n hoër liga rugby te speel. Hy was van ’n jong ouderdom af vasberade om ’n indruk as rugbyspeler te maak, en daarom het hy homself aan ’n uiters strawwe fiksheidsprogram onderwerp. Hy is gereeld in die omgewing van Windhoek opgemerk terwyl hy teen sandduine uit gehardloop het en rotse in sy hande gedra het om sy klouvermoë te verbeter. In 1962 het die Britse Leeus deur Suid-Afrika getoer en Ellis is gekies vir die Suidwes-Afrika-span wat op die Suidwes-stadion in Windhoek teen hulle gespeel het. Hy het aanvanklik as slot gespeel, maar is vir sy span se wedstryde teen die Vrystaat en die Westelike Provinsie na flank verskuif. Dit het hom aangespoor om na Pretoria te verhuis en vir die Harlequins-klub te speel met die doel om vir die destydse Noord-Transvaal te speel. Hy is egter nie gekies nie en is terug na sy broer se plaas naby Gobabis. Hy wou nooit weer rugby speel of in Gobabis kom nie, maar een dag moes hy soontoe gaan om ’n onderdeel vir sy broer se trekker te gaan haal. Hy is omgepraat om dieselfde middag vir die dorp se span rugby te speel.

In 1964 is Ellis genooi om aan die Springbok-proewe deel te neem vir die span wat die volgende jaar deur Australië en Nieu-Seeland sou toer. Hy het sy toetsbuiging op 22-jarige ouderdom teen Nieu-Seeland gemaak; Frik du Preez is van flank na slot verskuif en Ellis het sy plek ingeneem. In 1967 is hy weens ’n besering aanvanklik nie gekies vir die span wat teen Frankryk gespeel het nie maar hy het vinniger herstel as wat verwag is. Tydens hierdie reeks het hy en Piet Greyling saam begin speel. Hulle het mekaar baie goed aangevul; Greyling het by die afbreekpunte uitgeblink terwyl Ellis die meer aanvallende rol vervul het. Hulle het in 25 toetse saam gespeel, en hul ontwrigting van die afbreekpunte was ’n belangrike rede hoekom die Springbokke in 1970 op tuisbodem teen die All Blacks gewen het. Ellis, op loskopflank, Greyling op vaskopflank en Tommy Bedford op agtsteman word beskou as een van die heel beste lostrio’s in die geskiedenis van Springbok-rugby. Hy was egter ook deel van die span wat in 1972 teen Engeland verloor het en gemaak het dat Greyling, die kaptein van daardie Springbokspan, sy uittrede aangekondig het, asook die span wat in 1974 ’n vernederende tuisreeksnederlaag teen die Britse Leeus gely het. Op 24 Julie 1976 het Ellis die rekord van 38 toetse, wat deur Frik du Preez opgestel is, geëwenaar. Dit was egter sy laaste toets. Die sewe toetsdrieë wat hy gedruk het, was op daardie stadium ’n rekord vir ’n Springbok-voorspeler.

Ellis was bekend as “die rooi duiwel”, as gevolg van sy rooi hare en sy vurige temperament. Hy het hom ook gereeld eenkant gehou en geweier om sosiale funksies na afloop van wedstryde by te woon omdat hy nie ’n druppel alkohol gedrink het nie. Hy wou eerder in die span se bus sit en ’n boek lees. Hy het nie sy mond gehou nie en gedurig kritiek teen die strukture van rugby in Suidwes-Afrika gelewer. Gevolglik het hy meer wedstryde vir die Springbokke as vir sy provinsiale span gespeel. Gedurende die Springbok-toer deur Brittanje in 1969/70 was hy ontevrede oor hoe die afrigter, Avril Malan, hom behandel het; hy het sy tasse gepak en Frik du Preez en die kommentator Gerhard Viviers het alles gedoen om hom om te praat om nie ’n trein na die lughawe te haal nie. Die rede was dat Ellis deur Malan weggelaat is in sewe wedstryde in die middel van die week nadat die Springbokke op 6 Desember 1969 teen Skotland verloor het. Malan het op die ou einde voor druk geswig en Ellis het ’n drie teen Midland Counties gedruk wat sy plek in die laaste toets in daardie reeks teen Ierland verseker het.

Daarby het hy ’n reputasie vir vuilspel opgebou. In die eerste toets teen die Britse Leeus in 1968 op Loftus Versfeld het hy Barry John se sleutelbeen met ’n hoogvat gebreek. Tydens die All Blacks se toer deur Suid-Afrika in 1976 het ’n Nieu-Seelandse joernalis beweer dat Ellis die All Black-kaptein Andy Leslie geslaan het. Ellis het dit ontken maar daar word gesê dat hierdie voorval, en die feit dat sy spel agteruitgegaan het, die redes was hoekom hy sy plek in die span verloor het en deur Theuns Stofberg vervang is.

Nadat hy uitgetree het, het hy hom in Rayton, oos van Pretoria, gevestig en verskeie sakeondernemings bedryf. Toe die legendariese Gerhard Viviers in 1998 sterwend aan kanker was, het Ellis hom besoek. Viviers se vrou was bekommerd dat haar man Ellis nie sou herken nie, maar toe hy gevra is wie sy besoeker was, het hy in ’n hees stem geantwoord: “Die beste flank wat ooit vir Suid-Afrika gespeel het.” Hy is op 22 Desember 2000 ernstig in ’n skietery tydens ’n gewapende rooftog gewond. Een van sy niere moes verwyder word, en hy het nooit volkome herstel nie.

Jan Ellis is op 8 Februarie 2013 in die ouderdom van 71 jaar aan beenmurgkanker oorlede.