Jameson val Transvaal binne

Rhodes help beplan ’n aanslag
May 24, 2015
Einde van die inval
May 26, 2015

Rhodes het van Junie 1895 af met ander Randse kapitaliste saamgewerk om die uitlanderopstand te organiseer en te finansier. Deur sy invloed by Alfred Beit kon hy sorg dat ook Wernher, Beit en Kie tot die plan toetree. Hoewel dit die hoofoogmerk was om van Transvaal ’n Britse kolonie te maak, was die finansiële gewin wat die goudmynbedryf kon maak, ook iets wat die mynbase nie sou versmaai nie.

Van November 1895 af is ’n afdeling polisie onder Rhodes se vertroueling dr Leander Starr Jameson, administrateur van Masjonaland, langs die wesgrens gereed gehou. In Johannesburg is ’n Reform Committee gevorm om die opstand te organiseer. Die lede was G Farrar, Rhodes se broer Frank, JP Fitzpatrick, Lionel Phillips en JH Hammond. Wapens is die stad ingesmokkel. Dis betaal met geld wat Rhodes verskaf het. Hy het ook die Britse minister van kolonies, Joseph Chamberlain (Pushful Joe) by die intrige betrek. Dié het Rhodes vrye teuels gegee om Jameson se polisiemag na goeddunke te gebruik.

Die gerugte van ’n opstand het hardnekkig geword en party burgers het Kruger gevra om op te tree. Sy antwoord was: “Ek sal wag tot die skilpad sy kop uitsteek.” Kort voor Kersfees 1895 het geskille tussen die uitlanderleiers hulle verplig om die opstand uit te stel. Hammond, ’n Amerikaner, het geweier om die opstand onder die Union Jack te laat plaasvind, terwyl die ander hulle nie iets anders kon voorstel nie. Op 26 Desember het Rhodes ’n voorstel oor uitstel van Frank ontvang. Rhodes, aanvanklik huiwerig om die plan te laat vaar, stem op 28 Desember in. Vir Jameson het hy egter onder die indruk gelaat dat hulle die plan nog kon uitvoer.

Jameson is nie verwittig van die besluit om af te sien van die inval nie, en sy mag het Transvaal op 29 Desember binnegedring. Twee manskappe, wat die telegraafdrade tussen Rustenburg en Zeerust moes afknip, het ná te veel afskeidsdrankies die drade van ’n heining afgeknip sodat die verbinding na Pretoria oop gebly het. Wat wel afgeknip is, is die verbindings noord en suid van Mafeking, sodat ’n finale bevel van Rhodes om die inval uit te stel, nie ontvang is nie.

Vroeg die môre van 30 Desember het ’n gewapende Engelsman in uniform ’n Transvaalse telegrafis, Albertus Meiring van Ottoshoop, wakkergemaak en gevra of hy al ’n telegram van Pretoria gekry het. Dit was om vas te stel of hy al van die inval geweet het. Die Engelsman het ook vertel dat die “troepe hier onder is”. Die telegrafis het agterdogtig geword en merk toe dat verdagte mense die telegraafdrade knip. Hy het dadelik die mynkommissaris, David Marais, gaan roep, en terwyl hulle nog praat, het ’n perderuiter uit Zeerust ’n telegram van generaal Piet Joubert gebring wat navraag gedoen het na troepe aan die grens. Daarop het Meiring die juiste inligting oor Zeerust na Pretoria laat sein.

Die Transvaalse regering kon dus dadelik optree. Gewapende burgers is in kort tyd gemobiliseer. Jameson het intussen vinnig opgeruk. Toe sy mag op 1 Januarie so naby was dat hulle die mynhope kon sien, het generaal Piet Cronjé en sy manskappe sy weg naby Krugersdorp versper.