Jakkie vier twintig jaar

‘n Afrikaans-roos vir ‘n spesiale mylpaal
Junie 13, 2018
Laat jou belasting vir Afrikaans werk!
Junie 14, 2018

Daantjie Dinamiet

Dit is vanjaar presies twintig jaar sedert Jakkie Louw tot die musiekbedryf toegetree het, en ter viering hiervan het hy ’n konsert by die Rockwood-teater, wat mettertyd op DVD uitgereik sal word, gehou.

Jakkie het aanvanklik in Stellenbosch musiek begin maak, en as openingskunstenaar vir Koos Kombuis opgetree. Die eerste liedjie wat hy self geskryf het en aftrek by studente gekry het, was “Rambo die polisiehond”, maar sukses het nie oornag na sy kant toe gekom nie. Dit was eers toe sy pad met dié van die bekende musiekpromotor Lydia Winchester gekruis het wat hy regtig onder die publiek se aandag gekom het.

Soms gebeur dit dat ’n kunstenaar die regte liedjie op die regte tyd vrystel, en dit is presies wat gebeur het toe “Drie pikkewyne” verskyn het. Jakkie het toe nog gereeld in die kuierplek Maloney’s in Pretoria gesing, maar die breë publiek het meteens kennis begin neem van dié predikanteseun van die Universiteit van Stellenbosch wat toe al agt jaar lank musiek gemaak het. Die album waarop hierdie liedjie verskyn het, Alles in een glas, was toe een van net ’n handjievol wat ’n driedimensionele omslag gehad het. Die sukses van “Drie pikkewyne” het daartoe gelei dat Jakkie ’n kontrak by Select Musiek gekry het; die album is heruitgereik met “Drie pikkewyne” as titelsnit, en dit het ook treffers soos “Ek en jy en ’n bottel Tas” en “Reën in die Kaap” opgelewer. Laasgenoemde snit het só ’n groot indruk op die pianis Martin Lane gemaak dat hy dit ook opgeneem het. Met laasgenoemde twee liedjies het Jakkie gewys dat hy ook rustige liedjies met iets om die lyf kon skryf, maar veral op die rock-snit “Ysterperd” het hy gewys dat hy weet hoe om die krane oop te draai. Daar was ook ’n instrumentale snit op die album. Jakkie beskou die viool as die instrument met die mooiste klank en hy glo dat dit nie genoeg gebruik word in hedendaagse musiek nie. Jakkie se jarelange violis, Janine Steenkamp, het op die snit “Drowsy Maggie” gewys wat in haar steek.

Jakkie se volgende album was Marietjie se hoender. Benewens Marietjie se liedjie en een van sy groot treffers, “Die hoender song”, het hy “Voshaarnooi”, ’n toonsetting deur Louis van Rensburg van twee Boerneef-gedigte, ingesluit. Dit is ook met hierdie liedjie wat hy en Kevin Leo by mekaar uitgekom het. Die rolprent Liefling het in 2010 verskyn, en Kevin het ’n rol daarin vertolk. Jakkie het Kevin gevra of hulle dit saam kon opneem en nadat Kevin hom aanvanklik nie ernstig opgeneem het nie, het hulle dit gedoen en saam begin toer. Jakkie en Kevin het “Voshaarnooi” saam in Liefling gesing en die vertoning Jakkals en Leeu, waarop hulle pop- en klassieke musiek met komedie vermeng het, saamgestel.

Jakkie se volgende album was Gemaak in SA, en veral twee snitte het kop en skouers bo die res uitgestaan. Kevin het “Gebed van die vreeslose” saam met Jakkie gesing en dit het baie gewild geword. Die hoogtepunt was egter “Een miljoen woorde”, wat ten bate van kankernavorsing geskryf is en die verhaal vertel van ’n man se liefde vir ’n vrou met kanker. Die musiekvideo het ook groot byval by die publiek gevind. Jakkie het egter nie sy partytjieskoene uitgetrek nie, soos hy bewys het met sy verwerking van Piet Pompies se komposisie “Hanswors”, wat hy “Bamboesbos” genoem het. Nog ’n trefferalbum was Nommer Een, wat nie ’n trefferversameling was nie, maar nog ’n album met nuwe snitte. Jakkie het vertel dat ’n vakansie aan die Portugese Eilande hom geïnspireer het om “Rum en raspberry”, die treffersnit vanaf hierdie album, te skryf. Hy het dit gedurende daardie vakansie gedrink en dit ook vir sy pa, wat nie alkohol gebruik nie, gegee. Volgens Jakkie was sy pa se reaksie: “Dis die lekkerste wat ek nog gevoel het”, en hy het dit by die liedjie ingewerk.

Met sy album Die standvastige man, het Jakkie weer eens die balans tussen humor en erns gehandhaaf. Die titelsnit was ’n belofte aan sy gesin waarop hy gesê het dat hy altyd daar sal wees vir hulle. “Lucas Maree” was ’n huldeblyk aan die legendariese sanger en liedjieskrywer wat in 2011 oorlede is en op Van toeka tot nou het hy van Suid-Afrika se rugbygeskiedenis gesing. “Rooi Willie”, op die wysie van Ram Jam se treffer “Black Betty”, is egter die teenoorgestelde. Dit is geïnspireer deur ’n karakter in ’n Leon Schuster-rolprent wat die oorlede storieverteller Jan Spies met ’n kierie bygekom het.

Jakkie se jongste album, Party in SA, het vroeër vanjaar verskyn. “Koekie Loekie” is volgens Jakkie ’n ou Kaapse liedjie, en dit is ook al deur Quentin Prinsloo opgeneem. Die volgende enkelsnit vanaf die album is “My tipe paartie”, waarvan ’n musiekvideo tydens die konsert verfilm is en wat binnekort op televisie te sien sal wees. Jakkie het egter nog ’n nuwe liedjie geskryf en dis nog nie seker wanneer dit vrygestel sal word nie. “My laaste song vir jou”, is volgens hom ’n liedjie wat gaan oor hoe musiek mense bymekaar bring en dit is ook die ideale liedjie om ’n konsert mee af te sluit.

Jakkie is nog lank nie klaar gesing nie en ’n mens kan net hoop dat hy minstens nóg twintig jaar lank sal aanhou om mense met sy musiek te vermaak.

Jakkie Louw tydens sy optrede by die Rockwood-teater in Pretoria

The post Jakkie vier twintig jaar appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico