Esaias Reynier Snijman
January 23, 2017
Tobias Smuts
January 23, 2017

Jacobus Groenendaal was ’n Suid-Afrikaanse politikus van Nederlandse herkoms, lid van die Volksraad van die Oranje-Vrystaat, die republiek se eerste Tesourier-generaal en Staatsekretaris tussen 1854 en 1855 en weer in 1856. In April 1854 het hy vir ’n kort rukkie waargeneem as Staatspresident vir JP Hoffman.

Groenendaal was een van baie Nederlandse immigrante wat hulle in die vroeë negentiende eeu in Suid-Afrika gevestig het. Hy was ’n onderwyser van beroep, maar het vinnig ’n invloedryke politikus geword, aanvanklik in die onderhandelinge oor die stigting van die Oranje-Vrystaat en daarna as parlementariër en staatsamptenaar.

Die inwoners van Sannah’s Poort (nou Fauresmith) het Groenendaal aangewys as hul verteenwoordiger by die konferensie in Bloemfontein op 5 September 1853, waar ’n moontlike politiese onafhanklikheid van die Oranjerivier-Soewereiniteit vir die eerste maal bespreek is. Gedurende die onderhandelinge het die afgevaardigdes hom aangewys as ’n lid van die Raad van Verteenwoordigers waar hy die taak gehad het om die onderhandelinge oor die finale oorname van soewereiniteit moes afhandel. Dit het uitgeloop in die Bloemfontein-konfensie.

As ’n lid van die Volksraad was Groenendaal en sy medelid, JM Orpen, ’n Ier, die oorheersende magte agter die opstelling van die grondwet. Na die totstandkoming van die Oranje-Vrystaat is Groenendaal aangewys as die eerste Staatsekretaris (die titel is gou verander na Regeringsekretaris). Hy is ook aangestel as die staat se Tesourier-generaal.

Groenendaal en Staatspresident Hoffman het goed klaargekom en hulle het ’n standvastige politiese en administratiewe basis vir die nuwe staat op die been gebring. Beide Hoffman en sy staatsekretaris, Jacobus Groenendaal, was kreupel. Die regering van Hoffman het dus in die volksmond die bynaam “die kreupel regering” gehad, maar dit het gelukkig nie verwys na die ware stand van regeringsake nie.

Groenendaal het aangebly in sy ampte nadat Hoffman gevra is om te bedank weens die “buskruit-insident”. Sy verhouding met die nuwe Staatspresident, JN Boshoff, was egter baie minder hartlik as met Hoffman. Een rede hiervoor was die chaotiese stand van sake by die Tesourie waarvoor Groenendaal verantwoordelik was en wat Boshoff fel gekritiseer het.

Weens swak gesondheid (eers koorsigheid en daarna ’n ernstige kwaal van sy been) is Groenendaal gedwing om vir etlike maande in 1855-1856 met verlof te gaan. Staatspresident Boshoff het die geleentheid gebruik om aan die Volksraad voor te stel om Groenendaal as Tesouries-generaal te laat bedank. In Januarie 1856 is Groenendaal gedwing om te bedank as Regeringsekretaris. Sy bedanking is gevolg deur ’n tyd waarin Groenendaal hom uit die politiek onttrek het behalwe vir die politieke debat waarin hy, deur middel van briewe in die koerant, betrokke geraak het. In hierdie briewe het hy Boshoff se beleide met betrekking tot grondspekulasie gekritiseer. Alhoewel Groenendaal nie self ’n magtige figuur was nie, het hy steeds bondgenote in die Volksraad gehad. Op dié manier is hy aangewys as ’n lid van die kommissie wat moes toesig hou oor die staatsbegroting vir 1858. Daarvan het Boshoff nie gehou nie.

In November 1858 is Groenendaal tot die Volksraad herkies vir die kiesafdeling Midden-Rietrivier en Grootrivier in Sannah’s Poort. Hierdie keer het hy homself egter aan Boshoff se kant bevind teen ‘n merderheid in die Volksraad in die debat oor die vereniging van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek. Groenendaal, Boshoff en Staatsprokureur H.A.L. Hamelberg was elkeen eerder ten gunste van ‘n federasie met die Kaapkolonie.

Groenendaal het homself gebesig met die stigting van die staat in sy basiese struktuur, asook in die staatsapparaat en die bybehore soos ‘n wapenskild en ‘n vlag. Terselfdertyd het hy internasionale erkenning vir die staat bepleit, veral van Nederland. ‘n Staatsdrukker is op die been gebring om die invloed van die Britse drukpers en koerante in die Oranje-Vrystaat teen te staan. In ‘n sekere sin was Groenendaal ‘n stamvader van Afrikaner-nasionalisme. Hy was tot sy dood ‘n aktiewe lid van die Volksraad.

Groenendaal het laat in sy lewe eers getrou met die weduwee van P.W. van der Merwe, ene Johanna Antoinet Helderman in 1858. Hy is op 27 November 1860 in sy huis in Fauresmith op 55-jarige ouderdom oorlede.