Jacob Abraham de Mist (1749-1823)

Hermanus Steyn (1743-1804)
September 3, 2018
Krag in die naam van Jesus
September 4, 2018

BEWINDVOERDER VAN HOOGSTAANDE KARAKTER

Die naam van die mooi dorp Uitenhage sal altyd aan Jacob Abraham de Mist herinner. Ook word sy naam altyd in verband gebring met die Bataafse Republiek en die toenmalige goewerneur aan die Kaap, genl. Jan Willem Janssens.

Volgens die Vrede van Amiens (1802) moes die Kaap weer aan Holland teruggegee word, en die Raad vir die Besittings in Asië was genoodsaak om ’n vorm van bestuur vir hulle ou koloniale besit te formuleer. Die dienste van ’n beroemde regsgeleerde, advokaat Jacob de Mist, is ingeroep, en van sy hand verskyn ’n lang, departementele skrifstuk bekend as die Memorie, met die konsepregering daarin vervat. Die Bataafse gesagvoerders het dit feitlik sonder wysiging aangeneem en goedgekeur, en De Mist tot kommissaris benoem om die nuwe goeweneur, Janssens, na Suid-Afrika te vergesel en sy eie aanbevelings daar uit te voer.

Foto: Jaco Abraham de Mist

Die Memorie van De Mist het die toekomstige administratiewe model bevat wat die Bataafse regering hier in praktyk wou bring, en as sulks het dit ’n totaal nuwe periode in die vaderlandse koloniale geskiedenis vir Suid-Afrika ingelui. Hoewel aanvanklik beïnvloed deur Barrow se verwronge menings oor die koloniste, het De Mist, as ’n onbevooroordeelde man, spoedig sy menings hier te lande gewysig. Hy was ’n egte kind van sy Europese omgewing, anti-revolusionêr, konstitusioneel-reaksionêr, filantropies, liberaal.

As mens word hy gekenmerk deur uitstekende karaktertrekke: kalme verdraagsaamheid en gematigdheid, ’n man van diepe insig met ’n ruim blik op elke gebied, bedeel met ’n selfstandige karakter en gesonde oordeelsvermoë.

In sy beroemde skrifstuk oor die Kaap openbaar hy ’n nugtere en sterk vooruitstrewende politiek. Baie veranderings is deur hom op byna elke gebied van die samelewing aangebring. Ons herinner aan al sy administratiewe wysigings, sy kulturele en ekonomiese verbeterings. Hy het ’n gesentraliseerde regeringstelsel daargestel, ’n verbeterde onderwysstelsel in die lewe geroep, en ’n uiters liberale kerkorde uitgevaardig. Daarbenewens het hy die invoer van slawe belet, en het self ’n uitgebreide inspeksiereis na die binneland onderneem en hom ook nog vir die ontwikkeling van die landbou beywer. Hy wou veral die invoer van wolskape bevorder, en het ook die verbetering van die Kaapse wyn aangepak.

Jacob de Mist is gebore in Zalt-Bommel, Holland, waar sy vader predikant was. Op jeugdige leeftyd neem ’n invloedryke oom, ene Vestrinck, hom aan en vertrou hom toe aan die verdienstelike geleerde, J.D. van Hoven. Hy studeer in Leiden en word in 1768 met lof tot meester in die regte bevorder. In dieselfde jaar vestig hy hom as advokaat te Kampen, en in 1778 word hy tot tweede sekretaris van die stadsbestuur aangestel. Agtien jaar later word hy lid van die nasionale vergadering. Twee jaar later is hy, weens sy federalisme, ontslaan, maar in 1800 word hy benoem tot lid van die “Raad der Asiatische Bezittingen en Establissementen.”

Op grond van sy beroemde rapport oor die Kaap word De Mist deur die Staatsbewind in 1802 aangestel tot kommissaris-generaal oor die Kaap die Goeie Hoop. Na sy terugkoms in Julie 1805 word hy weer lid van die Asiatiese Raad, en in die volgende jaar is hy benoem tot sekretaris-generaal van koophandel en kolonies. In 1807 is hy landdros van Maasland, ook lid van die raad van state, en tot sy dood in Voorburg in 1823 was hy lid van die eerste kamer.

De Mist was ongetwyfeld “ ’n man van groot talente en van ’n hoogstaande karakter, iemand met ’n sterk, imponerende persoonlikheid en ’n groot werkkrag.” Wat ook al die oordeel van sy tydgenote of die beskouings van geslagte na hom mag wees, hy het getoon dat daar in al sy handelinge, in al sy besluite, alleen opgesluit was: die bevordering van die heil van Suid-Afrika.

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.