Jaap Marais (1922-2000)

Hendrik Schoeman (1927-1995)
July 29, 2021
Jan Hofmeyr (1894-1948)
July 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Mnr. Jaap Marais was van 1977 tot met sy dood in 2000 die leier van die Herstigte Nasionale Party (HNP).

Jacob Albertus Marais is op 2 November 1922 gebore en het op die plaas Maraisdeel in die distrik Vryburg grootgeword. Hy het in 1940 aan die Hoërskool Vryburg gematrikuleer.

Hy is in 1958 tot Nasionale Party (NP)-parlementslid van die Innesdal-kiesafdeling in Pretoria verkies en het in hierdie posisie aangebly totdat hy saam met dr. Albert Hertzog en twee ander parlementslede, Willie Marais en Louis Stofberg, weggebreek het en die HNP gestig het. Die rede hiervoor was die feit dat hulle beswaar gemaak het teen sekere hervormings wat die NP aangekondig het. Dit het die toelating van Maori-spelers en toeskouers tydens die Nieu-Seelandse rugbyspan, die All Blacks, se toer deur Suid-Afrika ingesluit. Volgens hulle was dit die eerste stap in toegewings wat gemaak sou word totdat die hele politieke orde in Suid-Afrika, wat gebaseer was op rassesekeiding gebaseer was, afgetakel sou word. Hy het verder beswaar gemaak teen die destydse eerste minister, adv. John Vorster se besluit om met Afrika-leiers soos Kenneth Kaunda van Zambië en Hastings Banda van Malawi te vergader. Kort nadat die HNP gestig is, is Marais uit die Afrikaner Broederbond geskop. Toe dr. Albert Hertzog in 1977 uit die politiek getree het, is Marais tot HNP-leier verkies.

Die HNP kon nie veel in algemene verkiesings uitrig nie, en in 1981 kon hy slegs 18% steun verwerf. As gevolg van die Westminster-stelsel, ingevolge die land in kiesafdelings ingedeel is en elke parlementslid ’n kiesafdeling verteenwoordig het, eerder as proporsionele verteenwoordiging, kon die HNP nie ’n setel in die parlement behaal nie. In 1985 het die HNP wel ’n setel in die parlement gewen toe een van die medestigters, mnr. Louis Stofberg, ’n tussenverkiesing in Sasolburg gewen het. Dit was egter van korte duur, want Stofberg het na die Konserwatiewe Party (KP) oorgeloop. Die HNP was later gekant teen die NP se besluit om met die African National Congress (ANC) te onderhandel en het vergeefs probeer om die KP se samewerking te kry. Hy het die KP-leier, dr. Andries Treurnicht, tydens vier verkiesings in Treurnicht se kiesafdeling, Waterberg, aangedurf en telkens verloor. Hy wou ’n regse koalisie tot stand bring om die destydse staatspresident, FW de Klerk, te keer om met sy politieke hervormings, wat op die bewindsoorname van die ANC uitgeloop het, voort te gaan. In Julie 1993 het hy in ’n ope brief geëis dat De Klerk ’n verkiesing slegs vir blankes uitroep, en bygevoeg dat die referendum van die vorige jaar hom nie die mandaat gegee het om die Afrikaner se “ondergang en selfmoord” te bewerkstellig nie. Marais was van mening dat De Klerk elke tussenverkiesing in die aanloop tot die algemene verkiesing in 1994 sou verloor. Toe De Klerk nie aan Marais se brief gehoor wou gee nie, het Marais in September 1993 weer ’n ope brief aan De Klerk geskryf en sy eise herhaal. Hy het retories aan De Klerk gevra of ’n “Kommunistiese” staatshoof anders sou optree as wat De Klerk sedert Februarie 1990 gedoen het.

Met die 1994-verkiesing het die HNP besluit om nie deel te neem nie, en Marais se slagspreuk was: “Kies reg, bly weg.” Die party het nog nooit die ANC-regering erken nie en neem steeds nie aan die demokratiese proses deel nie. Hy was ook van mening dat dit Brittanje, eerder as die NP was, wat apartheid uitgevind het. Hy het daarby geëis dat die voormalige Britse eerste minister Tony Blair om verskoning moes vra vir Brittanje se optrede tydens die Anglo-Boereoorlog. Blair het volstrek geweier.

Marais het ’n aantal boeke geskryf, onder meer Stryd is lewe, wat ’n aantal van sy toesprake en artikels bevat het, en Waarheid en werklikheid, waarin hy beweer het dat die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd die gevolg van politieke sameswering was. Hy het ook gedurig artikels vir die HNP se koerant, Die Afrikaner, geskryf. Daarby het hy Julius Caesar in Afrikaans vertaal.

Hy is op 8 Augustus 2000 in die ouderdom van 77 jaar oorlede, omtrent ’n uur nadat hy weens ’n bloeiende maagsweer in die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria opgeneem is. Hy was die langsdienende partyleier in die geskiedenis van Afrikanerpolitiek; van sy verkiesing in 1977 tot met sy dood.