Met Bataafse vlag verwelkom
February 23, 2015
Die vroeg-19de-eeuse plaaslewe
February 25, 2015

De Mist en Janssens het goeie samewerking van die Afrikaners ondervind, en in ’n proklamasie op 1 Oktober 1804 het Janssens sy waardering uitgespreek vir hul vaderlandsliefde en die wyse waarop almal saamwerk om die land in ’n staat van verdediging te bring. Hulle het ook die belange van die Kapenaars probeer dien, onder meer deur die landbou en veeteelt aan te moedig. Skaapboerdery het al in die 18de eeu die vernaamste bedryf van die Afrikaners geword. Aanvanklik het hulle geboer met die vetstertskape van die Khoin wat nie wol nie, maar hare gehad het.

Die man wat die eerste met wolskape geëksperimenteer het, was kol. RJ Gordon, die militêre bevelvoerder wat die Kaap in 1795 so swak verdedig en toe selfmoord gepleeg het. Hy het baie belang gestel in die boerdery en in 1789 twee merinoramme en vier ooie ontvang wat die koning van Spanje aan die Nederlandse regering geskenk het. Deur die bemiddeling van die Maatschappij tot Nut van ’t Algemeen in Nederland (vir wie volksopvoeding en -ontwikkeling die oogmerk was) is die skape na Gordon gestuur wat gretig was om met wolskape te eksperimenteer. Ná sy dood is die skape gekoop en na Australië gebring waar hulle die kern van die merinobedryf gevorm het.

Tog het die aanwesigheid van die merino’s mense in die Kaap ook op die gedagte gebring dat wol miskien die artikel kan word wat die ekonomie van die kolonie kon bevorder. De Mist het ’n aantal vooraanstaande koloniste onder voorsitterskap van ’n Angloman, WS van Ryneveld, in ’n vereniging georganiseer om die landbou en veral die invoer van wolskape te bevorder. ’n Paar goeie Spaanse merino-ramme is ingevoer en in September 1805 het drie lede van die vereniging die westelike kolonie deurreis om die voordele van wol te verduidelik.

Sommige boere was teen dié nuwe soort skape. Jasper Cloete van die Roggeveld het minagtend gesê: “Hulle het geen vet nie en ons kan nie die wol Kaapstad toe vervoer nie.” ’n Groot klomp ramme is egter aan boere verkoop. Aan Jan van Reenen van De Grote Toren in die Hantam kon die kommissie niks leer nie – hy het reeds 1500 wolskape gehad. Hy was ook ’n groot perdeboer en sy saailande het veertig- tot vyftigvoudig opgelewer. Op ’n Roggeveldse plaas is ’n skeerdemonstrasie gehou waarna ’n flukse boerenooi, Christina van Wyk, haar behendigheid met die skaapskêr getoon het. Heelparty grappe is by die demonstrasies gemaak. Toe die dier sonder vag daar staan, was die pret groot. “Dit lyk na ’n muishond”, sê die een. “Nee, ’n bobbejaan”, antwoord ’n ander.

Die kommissie het die wolbedryf flink aangehelp. Die wolskape was weliswaar nog ver in die minderheid in 1806 toe die Kaapkolonie al 1 254 384 skape gehad het. Maar die getal wolskape het vinnig vermeerder. In 1855 was daar in die Kolonie 2 283 232 wolskape teenoor 2 114 119 ander skape. Vir die eerste maal sedert 1652 kon die Kolonie ’n produk lewer waarna daar ’n groot vraag was, en in die eerste helfte van die 19de eeu het die Kaapkolonie een van die vernaamste leweransiers van wol aan die Britse tekstielfabrieke geword.