Inspirasie uit Anglo-Boereoorlog

’n Epidemie maai onder alle bevolkingsgroepe
January 24, 2015
’n Simboliese ossewatrek
January 24, 2015

Kommer oor die voortbestaan van die Afrikaner as volk met ’n eie taal het ook by baie joernaliste bestaan. Die Afrikaner moet gehelp word om in die stede “homself te bly”, soos Die Huisgenoot dit op 4 Maart 1938 stel. Die redakteur van dié blad het volksgetrouheid op ’n ander manier probeer bevorder. JMH (Markus) Viljoen, van 1931 tot 1949 redakteur van Die Huisgenoot, was ’n bekwame joernalis met ’n BLit in joernalistiek van die Columbia-Universiteit in New York en ’n MA in geskiedenis aan die TUK in Pretoria. Die vraag het by Viljoen opgekom hoe Die Huisgenoot kon meehelp om die Afrikaner weer met moed en idealisme te besiel sonder om bewus lerend op te tree. Sy mening was dat hy die volk moes herinner aan die mees heldhaftige tydperke in sy geskiedenis, soos die Groot Trek en die twee vryheidsoorloë. Die klem moes daarby val op die avontuurlike en heroïese.

Vreemd genoeg, het daar ná die aanvanklike meer as 22 dagboeke en herinneringswerke oor die Anglo-Boereoorlog tussen 1900 en 1905 min werke van Afrikanerkant oor die oorlog verskyn. Viljoen het nou reekse begin publiseer soos Die held van Spioenkop, wat deur Dirk Mostert saamgestel is uit die dagboek van kaptein Henri Slegtkamp, ’n rustelose en vreeslose Boereverkenner van Nederlandse herkoms; ook die oorlogsdagboek van Jan FE Celliers. Verder het Die Huisgenoot wedstryde uitgeskryf waarin vegtendes en nie-vegtendes hul herinneringe meedeel. Daar was vier sulke wedstryde: vir oorlogsveterane (1937), vir “vlugtende vroue” (1937–1938) wat wegvoering na die konsentrasiekamp probeer ontkom het, vir “Dierehelde van ons Vryheid-stryd” (1939) en vir getroue agterryers (1942 en 1948).

Op 2 Julie 1937 skryf Die Huisgenoot dat hy nie glo dat hy al ’n reeks artikels geplaas het wat met soveel belangstelling gelees is nie. “Baie lesers het aan ons geskryf dat hulle eksemplare van Die Huisgenoot letterlik stukkend gelees is, want dit moes telkens die ronde van die hele buurt doen, en mense wat maar selde ’n tydskrif lees, het die artikels met gretigheid verslind. Wat ons veral getref het, was die groot belangstelling van jong lesers en leseresse. Vir hulle was die verhale van die oorlogsveterane in baie gevalle ’n openbaring.”

Die Huisgenoot se sukses het ander publikasies gestimuleer. Tekenend van die geesdrif is die feit dat NP van Wyk Louw ook “Oorlogstories” in Die Jongspan  (4 Maart 1938) gepubliseer het. Die Huisgenoot se nuwe mededinger sedert 1937, Die Brandwag, het belangrike artikels begin plaas. Die Burger het die opsienbarende Met die Boere in die veld van Sarah Raal as vervolgreeks gepubliseer. Toe dit in boekvorm verskyn, het ’n polemiek in 1938 ontstaan weens Raal se realistiese beskrywing van die swaarkry en lyding in die konsentrasiekampe. Engelse lesers het haar bewerings in twyfel getrek, maar in Afrikaanse koerante het Afrikaners vertel oor ellende wat hulle in die kampe deurgemaak het. Ouer oorlogsboeke is heruitgegee. Afrikaners het “Tweede Vryheidsoorlog” algemeen as die korrekte benaming van die oorlog aanvaar.