Gert Potgieter (1929-1977)
January 15, 2019
Jans Rautenbach (1936-2016)
January 15, 2019

Daantjie Dinamiet

Sommige mense word eers legendes lank nadat hulle reeds oorlede is, omdat hul werk die toets van die tyd deurstaan het en geslagte nadat dit verskyn het, steeds toepaslik is.

Een daarvan is die legendariese digteres Ingrid Jonker, wie se gedig, “Die kind”, deur oudpresident Nelson Mandela in die Suid-Afrikaanse parlement voorgedra is.

Ingrid is op 19 September 1933 op ’n plaas naby Douglas in die Noord-Kaap gebore. Sy was die dogter van die Nasionale Party-politikus Abraham H Jonker en Beatrice Cilliers. Haar ouers se huwelik het nog voor haar geboorte verbrokkel; gevolglik het haar pa nooit aanvaar dat Ingrid sy kind was nie en sy, haar ma en haar suster het tot in 1937 in Douglas gewoon waarna hulle na Durbanville naby Kaapstad verhuis het. Sy het al kinderverse begin skryf toe sy ’n leerder aan Laerskool Die Strand was.

Ingrid se ma was ’n senulyer en sy is verskeie kere in inrigtings opgeneem. Sy is op 6 Augustus 1944 oorlede en daarna het Ingrid, haar ouma en haar suster in armoede in ’n losieshuis gewoon. Teen die einde van 1944 het haar pa haar kom haal, maar omdat die huis in Rondebosch in Kaapstad te klein vir die hele familie was, het Ingrid en haar suster privaat in Oranjezicht geloseer. Toe die gesin later na Plumstead verhuis het, het Ingrid haar skoolopleiding in Engels aan die Wynberg Girls High School voortgesit. Teen die einde van 1951 het sy matriek voltooi, met ’n onderskeiding in Afrikaans, waarna sy in ’n woonstel in die middestad van Kaapstad intrek en ’n jaar lange kursus in tik en snelskrif volg.

Vanaf ongeveer Oktober 1952 werk Ingrid by die uitgewery Kennis in Kaapstad, en binne die volgende vier en ’n half jaar werk sy as proefleser, sekretaresse en redigeerder van die hoofbestuurder van Citadel Press. In Oktober 1955 besoek sy Johannesburg vir die eerste keer saam met die digter Pieter Venter en in Junie 1956 verskyn haar eerste digbundel, Ontvlugting. Pieter en Ingrid is op 15 Desember 1956 getroud en in April 1957 verhuis hulle na ’n woonstel in Seepunt. Hul dogter, Simoné, is op 1 Desember 1957 gebore.

In hierdie tyd raak sy bevriend met skrywers soos Jan Rabie, Breyten Breytenbach, Uys Krige en PJ Philander. Onder hul invloed maak sy kennis met werk van kontemporêre digters van Frankryk, Nederland, die VSA, Engeland en Suid-Amerika. Dit verryk en verdiep haar digkuns. In Mei 1959 word Pieter na Johannesburg verplaas. Sy ontmoet vir Bartho Smit, wat later haar digbundel Rook en oker sou uitgee.

Ingrid verlaat Pieter in Januarie 1960 en sy en Simoné keer terug na Kaapstad. Terwyl sy by Nasionale Pers gewerk het, was sy ’n tyd lank assistent vir Louis Hiemstra terwyl hy die Tweetalige Woordeboek hersien het. Op 30 Januarie 1962 is sy en Pieter amptelik geskei. Daarna knoop sy verskeie verhoudings aan, onder meer met André P Brink en die Engelse skrywer Jack Cope, maar nie een van hulle was bereid om met haar te trou nie. In 1961 ondergaan sy ’n aborsie nadat sy uitgevind het dat sy Cope se kind verwag. In Julie daardie jaar word sy vir die eerste keer in ’n psigiatriese inrigting in Kaapstad opgeneem. Sy ontmoet vir André P Brink in April 1963 en hulle knoop ’n verhouding aan. In 1964 wen haar digbundel Rook en Oker die A.P.B-prys en sy gebruik hierdie prysgeld, asook ’n toelaag van die Anglo American Corporation om op die skip Windsor Castle na Engeland te vertrek. Aan boord van die skip ontmoet sy vir Laurens van der Post, met wie sy gereeld kontak sou hê. In April en Mei 1964 woon sy om die beurt in Londen en Amsterdam. In Julie daardie jaar besoek sy en André P Brink die Spaanse stad Barcelona, maar hul verhouding verbrokkel en sy word weens depressie in die St. Anne-hospitaal in die Franse hoofstad Parys opgeneem.

In Desember 1964 hervat sy en Brink hul verhouding, maar op 28 April 1965 gaan hulle finaal uitmekaar. Sy ontmoet die jong Vlaamse skilder Herman van Nazareth, en hy word een van haar laaste minnaars. Haar gesondheid en geestestoestand verswak tot so ’n mate dat sy onder mediese toesig leef. Haar finansiële toestand verswak só erg dat sy nie meer woonstelhuur kan betaal of ’n telefoon besit nie.  Sy breek haar voet in ’n motorongeluk en dit maak dat sy nie op 1 Julie 1965 by Die Burger kan begin werk nie en die datum van haar aanstelling tot 19 Julie uitstel. Op 16 Julie 1965 hoor sy van André P Brink se verlowing aan Salomi Louw.

Op Maandag 19 Julie 1965 loop sy by Drieankerbaai in Kaapstad by die see in en haar lyk word gevind nadat sy doelbewus verdrink. Ingrid en haar pa het al die jare ’n moeilike verhouding gehad omdat hy haar altyd verwerp het. Dit was al die jare een van die sterkste faktore in haar sielkundige ontwikkeling. Sy moes klaarkom sonder die liefde en sekuriteit wat sy as kind nodig gehad het. Sy was vroeg reeds gekant teen apartheid en haar politieke uitlatings het verdere verwydering tussen hulle veroorsaak. Hy het selfs haar uitsprake in die openbaar in die Parlement verwerp. Om sake te vererger, was haar pa ook die voorsitter van die parlementêre komitee wat die instelling van sensuur ondersoek het. Ingrid en baie ander skrywers het ’n versetskrif hierteen onderteken. Toe Ingrid die APB-prys ontvang het, het Ingrid aangebied om haar pa se reiskostes te betaal sodat hy die geleentheid saam met haar kon bywoon, maar hy het dit van die hand gewys.

Op Donderdag 22 Julie 1965 het Ingrid se begrafnisdiens plaasgevind. Haar pa het die reëlings getref en haar skrywersvriende weggejaag. Die kis is deur lede van die veiligheidspolisie gedra. Op 25 Julie 1965 het haar skrywersvriende ’n aparte geleentheid gehou waartydens haar gedigte voorgelees is. Benewens ’n huldeblyk deur Uys Krige het Jan Rabie ook die Ingrid Jonker-prys ingestel. Op 10 Januarie 1966 sterf haar pa; na haar dood het hy oormatig begin drink.

Verskeie kunstenaars het Ingrid se werk deur die jare getoonset. Een van haar eerste gedigte wat ’n trefferliedjie geword het nadat dit getoonset is, was “Toemaar die donker man”, wat Laurika Rauch op haar eerste album, Debuut, ingesluit het. Later het Laurika ook haar gedigte “Kabouterliefde” en “Begin somer” getoonset. In die 1980’s het Anneli van Rooyen se toonsetting van “Bitterbessie dagbreek” verskyn. Niemand het egter meer gedoen as Chris Chameleon om Ingrid se werk aan ’n nuwe geslag bloot te stel nie. In 2005 het die eerste van sy twee albums met toonsettings van Ingrid se gedigte, naamlik Ek herhaal jou, verskyn. Hierop verskyn toonsettings van “Die onverkrygbare”, wat ook in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is, “Jy’t my gekierang”, “My pop val stukkend”, “Lied van die lappop” en “Korreltjie sand”, om ’n paar te noem. In 2011 het hy dit opgevolg met As jy weer skryf, waarop toonsettings van onder meer “Afskeid”, “Kabouterliefde” en “Waterval van mos en son” voorgekom het.

Dit is dalk nou al meer as vyftig jaar nadat Ingrid oorlede is, maar omdat sy haar tyd so ver vooruit was, is haar werk nog net so toepaslik soos destyds. Indien nie méér nie.