In die jare 50 het Afrikaners welvarender geraak – en minder kultuurbewus. In 1954 het professor HB Thom, FAK-voorsitter, gekla dat die nuwe vermoënde Afrikaner minder besiel is met offervaardigheid teenoor armer volksgenote en ywer om die taal te handhaaf as sy “arm broer” van 15 jaar tevore. In 1956 het hy gewys op baie Afrikaanse organisasies wat doodgeloop het.
Maar ander organisasies het gebloei. ’n Nuwe was die Rapportryers, ’n uitvloeisel van die rapportryers wat in 1949 op vyftien roetes na die Voortrekkermonument vertrek het vir die inwyding daarvan. Die aantog van die rapportryers na Pretoria, gereël deur die FAK en ATKV, het geesdrif onder Afrikaners gewek. Boodskappe is van elke plek op die roetes versamel en in tradisionele kommandosakke van dorp tot dorp aan afloskommando’s oorhandig. Op 14 Desember is die boodskappe neergesit voor doktor EG Jansen, voorsitter van die Inwydingskomitee. Vroeg in die jare 50 het meneer Hennie Roux, ’n Randse kultuurman, ’n reunie van rapportryers gehou en is ’n rapportryerskorps gestig. Die gedagte het landwyd posgevat en op 12 Augustus 1961 het 35 korpse in Pretoria kongres gehou en is die Federasie van Rapportryerskorpse gestig. Die landwye organisasie het tot ’n volksdiensorganisasie ontwikkel. In 1979 was daar 530 korpse met 15 000 lede. Die doel van die organisasie is die beskerming en bevordering van die Afrikaanse kultuur, belange, leefwyse en die Christelike lewensbeskouing en identiteit.
Die FAK het sy werksaamhede uitgebrei met onder meer die tydskrif Handhaaf (1963), komitees vir geskiedenis (1965) en taalsake (1967), en ’n jeugraad (1962) en kongresse oor die bevordering van skoolmusiek en -sang. Deur die jare was die FAK betrokke by volksfeeste soos die Van Riebeeckfees (1952) en is kultuurmense vereer onder andere Totius (1937), JD Kestell (1938) en mevrou Rachel Steyn (1948). In 1957 is ’n erepenning vir volksdiens ingestel wat tot in 1999 aan sewentien mense toegeken is.
Die NG Kerk het in 1962 sy ou ideaal bereik om die kerkverband tussen die NG kerke in die vier provinsies te herstel. Dié eenheid is in 1862 deur ’n beslissing van die Kaapkolonie se Hooggeregshof verbreek. Die regsgronde waarop dit berus het, is in 1961 ongedaan gemaak. In Oktober 1962 het die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk byeengekom.
Twee universiteite is geopen – die tweetalige Universiteit van Port Elizabeth in 1965 en die Randse Afrikaanse Universiteit in 1968. Vir Afrikaans was ’n tweetalige UPE ’n deurbraak in die oorwegend Engelse stad.
Met die rolprentbedryf het dit nog goed gegaan. Die beste werk was van nuwe kleiner maatskappye soos Man in die donker van Trio Films en Ruiter in die nag van Jan Pohl. Die tegniese gehalte en draaiboeke was veel, veel beter as in die films waarin Frederik Burgers en Al Debbo (’n Vrystater van Libanese afkoms) die gehore laat skater het. Onder die geslaagdste rolprentmakers was Jamie Uys met Daar doer in die bosveld, Rip van Wyk en Hans en die Rooinek. Later was sy Funny people en The gods must be crazy internasionale treffers. Kavalier Films het gekonsentreer op gesinsvermaak. Baie hoofrolle is gespeel deur die gewilde tenoor Gé Korsten. Party prente, soos Die geheim van Nantes en Katrina, albei van Jans Rautenbach en Emil Nofal, het aspekte van Afrikanernasionalisme bevraagteken. Vanaf die jare sewentig het die skrywer, rolprent- en later ook televisiemaker Jan Scholtz sukses behaal met prente waarin diensplig, verset teen die staat, ongewenste swangerskappe en rebelse leerlinge se houding teenoor onbarmhartige onderwysers aktuele temas was.