In die “donker gat” opgesluit

Klagskrif teen die Goewerneur
January 17, 2015
“Victórie! Victórie!” vir die Vryburgers
January 19, 2015

Die goewerneur het ook ander panne gemaak om hom teen die vryburgers se klagtes te verdedig. Hy het die hele Kaapse gemeenskap na die kasteel genooi. Burgers, vrygestelde slawe, selfs bandiete, is met wyn en tabak getrakteer en gevra om ’n geskrif te teken dat hulle die goewerneur as eerlike mens ken. Baie van die genooides was so oorbluf dat hulle geteken het. Dit was moeilik om te weier as die goewerneur self by is! Buitendien het sy optrede die stadsburgers nie regstreeks bedreig nie. Op ’n paar burgers na het die aanwesiges almal geteken.

Intussen het Starrenburg op die platteland veel minder sukses behaal met Van der Stel se verweerskrif. Die goewerneur het besef dat hy drastieser moes optree teen die leiers van die muitkomplot soos hy dit gesien het. Op Sondagmôre 28 Februarie 1706 is Adam Tas voor sonop in sy huis gearresteer en Kaap toe gebring. Sy lessenaar is verseël en saamgeneem. Op 4 Maart vaardig Van der Stel ’n plakkaat uit wat burgers belet om “lasterlike” geskrifte te onderteken of te versprei. Wie al geteken het, sou vergifnis ontvang, mits hy skuld beken en berou toon.

Adam Tas se verhoor het van 8 tot 22 Maart geduur. Hy het erken dat die burgers briewe na Batavia gestuur het en dat die klagskrif aan die Here XVII deur 63 burgers onderteken is. Ook die name van die vernaamste ondertekenaars het hy genoem. Onder druk van omstandighede het hy die beskuldigings “teruggetrek”. Op ’n sitting van die Breë Raad is besluit om Hüsing, Jacobus van der Heiden, Ferdinandus Appel, Pieter van der Bijl en Jan van Meerland as leiers van die oproer na Holland te stuur.

Aangesien die goewerneur graag presies wou weet wat die klagtes teen hom was, het hy burgers laat verhoor. Landdros Starrenburg was aanklaer. By dié verhore het veral Jacob van der Heiden so uitdagend opgetree en “obstinaat” gebly dat Starrenburg hom in die “donker gat”, die onderaardse gevangenis in die kasteel, opgesluit het. Daarom het die goewerneur hom nie saam met die vier ander na Nederland gestuur toe die vloot op 4 April 1706 die ankers lig nie.

Op die nippertjie het die goewerneur probeer keer dat die burgers saamgaan. Hy het te laat besef hoe verdoemend hul mondelinge getuienis kon wees. Maar die vloot was al te ver weg en hy moes ná ’n nag op Robbeneiland met ’n skuitjie terug na die Kaap. Die goewerneur het nou nog sterker opgetree. Die 80-jarige Hendrik van Savoye is ook na die “donker gat” gestuur, maar Van der Heiden, wat ernstig siek geword het in die verpeste lug, is losgelaat nadat hy die eerste keer “bevredigende” antwoorde gegee het in ’n martelende verhoor van vyf uur.

Starrenburg het in Junie weer nege boere gedagvaar om te verskyn, maar hulle het nie opgedaag nie. Starrenburg het gesorg dat ’n verbanningsbevel teen die nege bekragtig word, maar die veldwagter wat hulle moes arresteer, het so lank getalm dat die burgers deur ’n ander veldwagter gewaarsku is en kon ontvlug.