Hulde aan Samuel Henri Pellissier op sy negentigste verjaarsdag

NP van Wyk Louw (1906-1970)
September 28, 2018
Lizandra Winter
September 29, 2018

Dit is met ’n mate van huiwering dat ek my bereid verklaar het om ’n paar herinneringe aan my ou vriend, dr. S.H. Pellissier, op skrif te stel om die eenvoudige rede dat sy bedrywighede en sy kaleidoskopiese loopbaan en belange so ’n omvangryke spektrum vul dat dit nie in een persoon se vermoë lê om alles te sê wat daar oor hierdie besondere mens gesê moet word nie.

Wat ek dus in die herinnering terugroep, nou dat ons saam met hom in dankbaarheid kan terugkyk oor ’n vrugbare tydperk waarin hy reeds 90 jaar vir sy volk gespaar gebly het, moet gereken word as persoonlike indrukke, mooi insidente en samesyne waarin sy vriendskap, raad en besielde aanmoediging vir my van soveel betekenis en waarde was en in so ’n besondere mate bygedra het om my eie lewe te verryk.

My eerste kennismaking met hierdie man van gestalte (in meer as een sin van die woord), was in 1910 toe ek as jong knaap gegaan het na die destydse Grey-Universiteitskollege, tans die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, in Bloemfontein. Ek het baie gou gemerk dat daar ’n persoon was wat almal ‘PeIIie’ genoem het, ’n forsgeboude groot kêrel wat toe al ’n senior student was. Ek het verneem dat sy naam Samuel Henri Pellissier was en dat hy van Bethulie afkomstig was.

Sommer uit die staanspoor het hy ’n groot indruk op my gemaak, die indruk van ’n leier met baie mooi karaktertrekke, ’n man wat jou nie êrens wil dwing met ’n sambok nie, maar wat jou deur voorbeeld aanmoedig om saam met hom te stap. Hy was dan ook Voorsitter van die Studenteraad en iets wat my ook dadelik opgeval het, was sy groot belangstelling in die jong knape.

Daar was destyds buitengewone omstandighede as gevolg van die Tweede Vryheidsoorlog. Baie van die jong seuns was vegtende burgers wat nie gedurende die oorlog kon skoolgaan nie en wat toe eers later, feitlik as grootmense, hul skoolopleiding moes voltooi. Dan was daar ook die jongetjies wat ná die oorlog eers skool toe is. Op Universiteitskollege het ’n mens dus ’n redelike groot gaping bespeur in die ouderdomme van die studente. Henri Pellissier het dit sy verantwoordelikheid gemaak om na die belange van die jongeres om te sien, iets wat ons (ek was maar pas 15 jaar oud) hoog op prys gestel het.

In hierdie verband wil ek ’n staaltjie vertel wat sal aandui hoe hy dit sy plig beskou het om aan ons die regte leiding te gee. Soos dit met ’n snuiter gaan wat al amper grootmens begin word, het ek ook baie gou vir my ’n pyp en tabak aangeskaf toe ek sien hoe die ouer manne rook. Toe ‘PelIie’ my daar op die kampus sien rook, het hy my nader geroep en vir my gesê: ‘Kyk hier ou seun, jy’s nog te jonk om te rook. Ek wil jou nie weer hier sien rook nie.’ Dit was ’n teregwysing, maar die mooi wyse waarop hy dit gedoen het, nie uit die hoogte nie maar uit besorgdheid, het ’n groot indruk op my gemaak. Vanselfsprekend het ek die rokery toe dadelik gestaak en, om die waarheid te sê, het ek selfs baie jare daarna, toe ek reeds advokaat was, uit respek nooit voor hom gerook nie!

Op Universiteitskollege reeds het hy ook ’n ander karaktertrek openbaar wat sy latere lewe sou kenmerk. Daar is mense wat praat en nie doen nie, en daar is diegene wat doen en nie praat nie. Maar Henri Pellissier was ’n man wat die woord goed kon doen en wat dan ook die voorbeeld daar kon stel om ten uitvoer te bring wat hy voorgestel het, want hy kon werk!

Ek onthou ook nog baie goed hoe hy by ons jonger studente voortdurend die gedagte van nasietrots wakkergehou het. Dit was maar moeilike jare en Bloemfontein was baie verengels. Vir ’n boerseun was dit nie altyd maklik om sy regte te geniet nie, maar Henri Pellissier het ons daarvan bewus gehou dat ons Afrikaners was en dat ons nooit ons geboortereg moes prysgee nie. Hy het dikwels met die jonger studente gesels, en iets wat my nog besonder helder voor die gees staan, is die mooi manier waarop hy aan ons verduidelik het wat die eerste verkiesing vir die Unie van 1910 eintlik beteken het. Ons was jonk en baie onervare en dit was vir ons ’n baie leersame ondervinding om van Pellissier te verneem wat hierdie belangrike verkiesing vir die toekoms van ons land ingehou het. Daar was natuurlik die twee politieke strominge—aan die een kant die voormalige Boereleiers soos genl. Botha en genl. Hertzog, en aan die ander kant die Unioniste van dr. Jameson. Noudat ek so daaraan dink, kan ek feitlik beweer dat Henri Pellissier die persoon was wat my die eerste beginsels van die politiek geleer het! Voor daardie eerste geselsies wat hy met ons oor die komende verkiesing van 1910 gehad het, het ek bitter min van die politiek geweet of verstaan.

Maar ook hier, in sy geselsies met ons, kon ’n mens sy sterk persoonlikheid aanvoel, en was ’n mens bewus van ’n man met ’n boodskap, ’n idealis wat dit sy selfopgelegde taak gemaak het om ander mense in die korrekte rigting te stuur.

As ek sy kenmerke kan opsom soos hulle my in daardie tydperk van ons samesyn op die Grey-Universiteitskollege beïndruk het, is dit die volgende: ordelikheid en ordentlikheid, vriendelikheid en bedagsaamheid.

Vanselfsprekend het ek sy loopbaan met groot belangstelling gevolg. Nadat hy hom as onderwyser bekwaam het, het hy ’n beurs ontvang om oorsee te gaan studeer en dis natuurlik daar, veral in die Skandinawiese lande, waar die gedagte by hom ontstaan het om deur middel van volksang en volkspele van die Afrikaners ’n singende en spelende volk te maak. Eienaardig genoeg is dieselfde studiebeurs wat hy in 1911 ontvang het, later in 1914 aan my toegeken, maar ongelukkig kon ek nie daarvan gebruik maak nie want toe breek die Eerste Wêreldoorlog uit. Ek kon hierdie beurs ook nie later benut nie want toe die oorlog in 1918 verby was, was ek al ’n praktiserende advokaat.

Ons paaie het amper weer gekruis toe hy in 1917 skoolhoof op Ficksburg geword het net ’n rukkie nadat ek daar weg is. Ek was self daar onderwyser. Later het ons darem die geleentheid gehad om ons vriendskap te verstewig toe hy Direkteur van Onderwys in die Vrystaat was en toe ons nie ver van mekaar af in dieselfde straat in Bloemfontein gewoon het nie.

As ek nou terugdink aan die liedjies en speletjies waarmee die Afrikaanse volk hom vermaak het voordat Pellissier ons ’n nuwe besef gegee het van watter rykdom ons werklik aan eiebesit gehad het, dan besef ek hoe groot ons gebrek was. Al liedjies wat ons gehad het was Engels soos: ‘When I was young I had no sense …’, ’We’ll come gathering nuts in May’ en die volgende een met ’n geringe Afrikaanse aanpassing—

‘Rosie is my darling dear – Skud jy die boom dan val daar ’n peer’!

’n Gebeurtenis wat ek nog baie goed kan onthou, het hom op ’n plaas daar naby Bloemfontein afgespeel. Ons klomp jongmense het piekniek gehou en volkspele gespeel, en terwyl ons nog aan die gang was, hou daar ’n motor stil. En hier klim ‘Pellie’ en ’n dame uit die motor. Haar naam was mej. Judith Raubenheimer, ’n onderwyseres aan die Oranje-MeisieskooI in Bloemfontein. Hulle kom toe met die groot nuus dat hulle pas verloof geraak het, en ons het hulle verlowing sommer dadelik daar met volkspele gevier!

Pellissier was ’n kultuurleier en opvoedkundige. Hierin het hy hom uitgelewe en was dit die enigste roeping waarna hy hom aangetrokke gevoel het. Sy welsprekendheid en sy vermoë om mense te boei en na sy oortuigde standpunt oor te haal, het by sommige die vraag laat ontstaan of hy dit ooit sou oorweeg het om die politieke terrein te betree. Ek kan dit egter bevestig dat Henri Pellissier dit nooit oorweeg het om enige ander loopbaan te volg as dié waarop hy in sy jeugjare reeds besluit het nie, nl. onderwyser en opvoedkundige.

In hierdie verband wil ek iets noem wat miskien nie so algemeen bekend is nie. Gedurende sy ampstermyn as Direkteur van Onderwys in die Oranje-Vrystaat het hy baie ernstig daarvoor gepleit dat ’n Bantoetaal ’n verpligte skoolvak gemaak word. Ongelukkig was daar nie genoeg belangstelling nie en waarskynlik was daar ook so ’n bietjie vooroordeel, maar die feit bly dat die destydse instelling daarvan vir ons betekenisvolle gevolge sou ingehou het.

Ek het met Henri en Judith Pellissier kontak gehad in die tyd toe hulle eers hulle een dogter en later hulle oudste seun op so ’n tragiese wyse aan die dood moes afstaan, en hier het ek opnuut bewus geword van die krag van hul geloof en die stille berusting waarmee hierdie groot terugslae gedra is.

Sy onwrikbare geloof en sy rotsvaste vertroue was werklik uitsonderlike eienskappe. As hy in ’n ding geglo het, was daar nie so ’n ding soos mislukking nie. Die hele Volkspelebeweging was ’n geloofsdaad en talle kultuurorganisasies waarin hy ’n aandeel gehad het, kan getuig sporing dikwels die deurslag gegee het toe andere al wou tou opgooi.

As fondsinsamelaar vir sake waarin hy geglo het, het hy natuurlik geen gelyke gehad nie. As Direkteur van Onderwys het hy baie onderwyskonferensies gehou om die publiek van die Vrystaat onderwysbewus te maak en het hy die skole aangemoedig om skoolkermisse te hou ten einde beursfondse in te samel om plattelandse leerlinge vir middelbare onderwys na die koshuise op die dorpe te bring. Hy het sangfeeste georganiseer en die bou van skoolsale aangemoedig en aangehelp. Hy het geld ingesamel vir die standbeeld van pres. M.T. Steyn wat voor die hoofgebou van die Universiteit van die O.V.S staan. Vir die monument op Vereniging om die Vrede van 1902 te herdenk, het hy R32 000 ingesamel. As organiseerder van die Christelike Lektuurfonds het hy die hele land deurreis en oor die 1½ miljoen rand ingesamel. Hy was daarvoor verantwoordelik dat die nodige fondse gekollekteer kon word om die bronswaens by Bloedrivier op te rig, ’n projek wat R237 000 gekos het.

Foto: Die Pellissier-gesin in 1938 met die Voortrekker-Eeufees. Dr. Pellissier was toe voorsitter van die Uniale Volkspelekomitee van die Reddingsdaadbond

Ek was destyds, as lid van die 1948-Kabinet, direk daarmee gemoeid om ’n Voorsitter van die SAUK se Raad van Beheer aan te wys, en by ons was daar net een keuse en dit was Henri Pellissier. Hierdie amp het hy dan ook met welslae vervul tot met sy uittrede in 1959. Maar ‘uittrede’ was ook nie ’n woord waarmee Pellissier hom kon vereenselwig nie, en baie van sy werk as fondsinsamelaar het hy verrig toe hy reeds oor die tagtig jaar oud was.

In my omgang met hom het nog ’n baie belangrike aspek van sy karakter my opgeval. Dit is die invloed wat ’n man met so ’n sterk persoonlikheid op ander mense, en veral die jeug, kan hê wanneer hierdie persoonlikheid gebruik word om die goeie en die behoudende van die mens na vore te bring. Gaan verneem maar by sy oud-leerlinge, baie waarvan self leiers in ons land geword het, watter invloed sy leiding en sy geïnspireerde onderrig op hulle lewens gehad het.

Henri Pellissier het ’n onuitwisbare geloof en vertroue in die jeug van ons land gehad.

As ek gevra moes word hoe ek sy bydrae aan ons volk sou opsom, dan sou ek sê dat hy sy roeping, om diens te lewer aan die jeug van Suid-Afrika ten volle vervul het. Want in alles wat hy gedoen het, as onderwyser, as Direkteur van Onderwys, as kultuurleier, as fondsinsamelaar het dit gegaan oor dié dinge wat in belang van die jeug was, dié dinge wat vir die opkomende geslag as rigsnoer kon dien om ons volk op die regte pad te hou.

Foto: Die onthulling van die borsbeeld van dr. S.H. Pellissier by die Rooidakskool op Boshof, 13 November 1976. Die persone wat op die foto verskyn is die skrywer van hierdie artikel, mnr. C.R. Swart, wat die huldigingsrede gelewer het, dr. S.H. Pellissier en mev. Judith Pellissier

Sy naam is gevestig as vader van die Volkspelebeweging, as stigter van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele en as organiseerder van die Lenteskole waarmee in 1936 in Bethlehem begin is, maar ek sou graag wou sien dat die naam van Samuel Henri Pellissier vir ons volk op die een of ander wyse verewig word, nie net as opvoeder van die jeug nie maar as iemand wat in die jeug van Suid-Afrika geglo het. Sy naam moet ’n hegte verbintenis met ons jeug hê. Dit is waar sy plek is. Dit was my aangename voorreg om verlede jaar op Boshof, waar die eerste Volkspelelaer in 1914 gestig is, daar by die Rooidakskool die huldigingsrede te lewer by geleentheid van die onthulling van ’n borsbeeld van dr. S.H. Pellissier. Sy eggenote, Judith, wat hom so pragtig deur die jare bygestaan het, het die onthulling waargeneem en die 89-jarige kultuurleier self het met waardering van die plegtigheid kennis geneem.

Foto: Die 1958-volkspelegroep het in Princess Garden, Edinburgh, Skotland, in reënerige weer opgetree maar die ongunstige omstandighede het nie die toeskouers weggehou nie

Wat bly daar nog oor om te sê? Hoe ouer ’n mens word, hoe meer kom jy onder die diepe besef dat daar ’n genadige en liefdevolle Vader is wat bepaal hoe en wat ons is en moet wees, ons waaroms en ons wanneers. Laat dit dan my wens en bede wees vir my ou vriend op hierdie dankbare negentigste herdenking van sy geboortedag:

Mag die skoonheid van sy aandskemering vir hom ’n mooi betekenis en duur hê en mag die herinnering aan dié dinge wat vir hom dierbaar was, hom bybly.

Foto: As gevolg van dr. Pellissier se toewyding en diens kan Suid-Afrika nou trots wees op ’n eie kleurryke volkspelebeweging

Bron: Swart, C.R. (dr.) 1977. Lantern, November: 6-11.