Huis op Zeekoegat, Riversdal (Geen toegang)

Tolhuis, Garciapas, Riversdal
June 27, 2018
Ou Eikeboom, George
June 27, 2018

“De Groote Wagen Weg” het van die Drosdy te Swellendam na die ooste deur die Buffelsjachts-, die Duivenhoks-, die Kafferkuils- en die Gouritzrivier geloop. Langs hierdie pad was daar teen 1750 reeds etlike boere op plase woonagtig; een van hulle was Michael Müller op Zeekoegat. Hierdie plaas lê langs die vrugbare vallei van die Vetrivier, ’n sytak van die Kafferkuilsrivier, ongeveer 4 km noord van die huidige Riversdal. Die geskiedenis van hierdie ou plaas met sy kenmerkende gewelhuis is nie alleen ’n spieëlbeeld van gebeurtenisse en persone in die ou Kaapkolonie nie, maar herinner sterk aan die dae toe Swellendam nog die voorpos van die beskawing was.

Zeekoegat is deur Michael Müller, stamvader van die Müllers, aangelê. In 1735 het hy as soldaat na die Kaap gekom. Tien jaar later het hy vryburger geword en het na die pas gestigte distrik van Swellendam verhuis, waar hy met Adriana van Rooyen in die huwelik getree het. In 1746 word die leningsplaas Zeekoegat aan hom toegeken.

Op die roete na die ooste het Zeekoegat weldra ’n gewilde oorstaanplek geword en by die gasvrye Müllers het ou reisigers ’n welkome onderdak gevind. In 1752 het vaandrig August Frederik Beutler reeds hier vertoef en op die kaart van sy roete word Zeekoegat met ’n groot rooi stippel aangedui. In 1776 trek Hendrik Swellengrebel, seun van ’n vorige goewerneur “voorbij de wede Müller” en twee jaar later oornag goewerneur Joachim van Plettenberg op “de plaatse van de Weeduwe Michael Müller aan de Vette rivier”.

Michael Müller is in 1768 oorlede en sy oudste seun Hillegert Müller het mettertyd besitter van Zeekoegat geword. Hy is weldra tot Heemraad van Swellendam en kaptein van die burgermilisie benoem. In 1782 en 1790 vertrek hy agtereenvolgens vanaf Zeekoegat met kommando’s om na die skipbreukelinge van die Grosvenor wat aan die Pondolandse kus gestrand het, te soek. Die joernale van hierdie reise gehou, werp die allerinteressantste lig op toestande anderkant die Visrivier. In 1795 is Müller met ’n kommando in Kaapstad om sy land teen die Britse invalsmagte te verdedig en toe die regeringsmagte op die vlug geslaan het, het hierdie onverskrokke pionier met sy 60 man die verset volgehou.

In hierdie jare van onrus het hy die huis gebou wat tans nog in gebruik is; en die datum 1795 is nog op die voorgewel te lees. Die boustyl toon ’n interessante aanpassing van die Kaaps-Hollandse styl met die langwerpige vorm van die binnelandse plaaswonings. In die huis is ’n spesiale vertrek vir godsdiensoefeninge ingerig met ’n orrel ingebou deur ’n sekere Hoddersum van Kaapstad. Benewens die huis het hy ook pragtige buitegeboue opgerig en die reisiger Lichtenstein getuig dat dit een van die weinige plase is waarop die koeie in ’n stal gemelk word. Müller was trouens in alle opsigte ’n vooruitstrewende boer en was een van die baanbrekers op die gebied van wolboerdery.

Rondom 1804, tussen die besoek van goewerneur Janssens en kommissaris De Mist aan Zeekoegat, het Hillegert dié spogplaas aan sy skoonseun, Kobus du Preez, oorgemaak. Du Preez het dit verder verbeter, sodat Leopold Huizer in 1808 met entoesiasme skryf dat dit ’n pure genot is om die “affere” te sien. Hierdie bewondering word tien jaar later deur eerw. Latrobe gedeel: “ ’n Laning van grootse eikebome”, skryf hy, “lei tot die huis. Die geboue is solied en omring met rye plantasies … waar lemoene, suurlemoene, vye, perskes en ander vrugte in oormaat groei”.

Zeekoegat het gedurende die 19de eeu sy aansien behou en in 1835 word sir Harry Smith op sy haastige tog na Grahamstad hier nog vir die nag geherberg en van vars perde voorsien. Uiteindelik het dit oorgegaan in die hande van ’n ander ou Riversdalse familie, die Saaymans, wat daar ’n eer in stel om die waardige ou huis in stand te hou.

(Geproklameer 1964)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 120-121.