Hoop op Constantia

Groot Constantia, Constantiavallei
December 13, 2017
Tokai, Retreat (Geen toegang)
December 13, 2017

Hoop op Constantia is baie naby Groot Constantia geleë en kan die maklikste bereik word deur van laasgenoemde af te stap.

Hoop op Constantia was oorspronklik deel van Simon van der Stel se landgoed Constantia. Na sy dood het sy eksekutrise Johanna Wessels, vrou van Frans van der Stel, op 20 Junie 1715 die landgoed in drie persele verkoop. Kapt. Oloff Bergh het in besit van Groot Constantia gekom terwyl Pieter de Meijer Klein Constantia en Bergvliet, groot ongeveer 570 hektaar, gekoop het. Op 13 Augustus 1716 het hy transport op die twee plase gekry, maar twee dae daarna verkoop hy dié gronde met die uitsondering van 38 hektaar van Klein-Constantia vir presies dieselfde prys wat hy vir die geheel betaal het. Twee maande later, 26 Oktober 1716, verkoop hy ook die orige 38 hektaar aan Jan Jurgen Coetzee vir 1 750 guldens en maak aldus ’n aansienlike wins op die ganse transaksie. Hierdie gedeelte van Klein-Constantia het nou as Hoop op Constantia bekend geword.

Hoop op Constantia het ’n ware familieplaas geword. Jan Jurgen Coetzee is oorlede kort nadat hy die plaas in besit gekry het. Sy weduwee is in 1718 met Johannes Colyn getroud, maar ook sy is enige jare daarna oorlede en het die plaas aan haar tweede man nagelaat. So het Hoop op Constantia die eiendom van die familie Colyn geword in wie se besit dit vir byna ’n eeu en ’n half gebly het.

Alhoewel romantiese oorleweringe bestaan dat Simon van der Stel die huis op Hoop op Constantia óf vir sy dogter Catharina óf vir sy menige besoekers laat bou het, is dit sterk te betwyfel of daar aan die begin van die 18de eeu ’n woning op die plaas was. Die ware grondleggers van hierdie plaas was die reeds vermelde Johannes Colyn en sy tweede vrou, Johanna Appel. In die loop van 50 jaar het hulle Hoop op Constantia tot ’n pronkplaas ontwikkel. Hulle het heel waarskynlik die huis gebou. Hulle het uitgebreide wingerde aangelê en het ’n groot deel van die bekende wit en rooi Constantia wyne van die 18de eeu geproduseer. Geen wonder dan ook dat Johanna Appel in 1776 die plaas met vaste en roerende goedere aan haar seun Johannes Nicholaas Colyn vir 62 000 Indiese guldens oorgemaak het nie.

Johannes Nicholaas het die boerdery voortgesit en dit was waarskynlik hy wat die voorgewel laat aanbou het. In 1799 het sy oudste seun Lambertus Johannes die plaas vir dieselfde som wat hy betaal het, oorgeneem. Lambertus was getroud met ’n hoogs ondernemende vrou, Eleonora Maria Coetzee. Hulle het die plaas vir 40 jaar bewoon en het twee ekstra voorgewels en ’n agtergewel laat aanbou. Lambertus is voor sy vrou oorlede en in haar testament het sy bepaal dat die plaas aan hul seun Johannes Nicholaas vir 100 000 rds. oorgedra sal word met dien verstande dat dit “nimmer of te ooit” uit die familie vervreem mag word nie, “sodat deze plaats de Hoop … zal moete devolveeren op de mannelijke nakomelinge de naam van Colyn voerende”.

Johannes Nicholaas kon egter nie aan die hoë verwagtinge van sy moeder voldoen nie. Hy het al hoe dieper in die skuld geraak. In 1857 is hy insolvent verklaar en is die plaas voorwaar vervreem, want dit is aan John Robert Thomson van Londen verkoop en daarna het dit vinnig van eienaar verwissel. Die opeenvolgende eienaars het egter die ou huis in ’n goeie toestand van bewaring gehou, totdat dit enige jare gelede in verval geraak het. Die voorste twee sygewels is afgebreek en die pragtige stoeptrappe is deur ’n vallende boom sleg beskadig. Uiteindelik het die Staat die eiendom oorgeneem en die huis gerestoureer.

 

Hoop op Constantia toe dit nog drie gewels gehad het • D. Fairbridge: Historic Houses of South Africa
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 52.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 51.