Hoogtepunte in die Afrikaanse poësie

Agter tralies en doringdraad
January 24, 2015
’n Volk van boere
January 25, 2015

Die bittere politieke verdeeldheid was ’n doring in die vlees van Afrikaners.  NP van Wyk Louw noem dit “die droewigste tyd vir ons Afrikanerdom wat ’n hele geslag beleef het”. Op 11 Februarie 1942 skryf hy aan sy broer WEG Louw dat hy homself gaan dissiplineer om nie bitsig te praat teen enige nasionale Afrikaner nie. “En nasionaal sal vir my beteken iemand wat Afrikaans in sy huis, in die opvoeding van sy kinders, in sy skryftaal en oral bly.” Die ergste is dat die geveg die Afrikaanse kultuur self bedreig, ook die literatuur. “Dit is soos twee mense wat in ’n tuin begin rusie maak en later dwarsoor die blombeddings baklei, en vertrap en afbreek waar hulle nie geplant het of kan plant nie.”

In hierdie tyd skryf Van Wyk Louw twee werke wat nog tot die hoogtepunte van die Afrikaanse poësie behoort: Raka (1941) en Gestaltes en diere (1942). Raka het een van Louw se mees gelese werke geword en was deur die jare selfs ’n trefferverkoper waarvan tot in 1987 meer as 200 000 eksemplare verkoop is. JC Kannemeyer noem dit in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur “een van die grootste prestasies van die Afrikaanse letterkunde”.

Een van die “hoogtepunte in ons jongere poësie” – dit was ook hoe HA Mulder Negester oor Ninevé (1947) van ’n nuwe jong digter beskryf het. Hy was die Nataller DJ Opperman, wie se eerstelingwerk Heilige Beeste (1945) byna deur Nasionale Pers afgewys is weens papierskaarste. Opperman was saam met Ernst van Heerden en SJ Pretorius (met sy rou verse oor die agterbuurte van die stad) die vernaamste veertigers. Opperman het volgens Van Wyk Louw met sy Joernaal van Jorik (1949) iets bereik waarvan hy die gelyke in die wêreldliteratuur nie ken nie; ook die Nederlandse taalkundige WGS Hellinga het later aan Louw gesê dat “dit op wêreldpeil staan”. Die gedig gee die verhaal van die Afrikaner soos hy gevorm is deur sy eie geskiedenis en twintig eeue se wêreldgeskiedenis.

Twee groot romans van die jare veertig was En ek is nog hy (later getitel Bart Nel) van J van Melle (sien 16 September) en Laat vrugte (1939) van CM van den Heever. Hulle is albei later vir die televisie verfilm.

Omdat die invoer van Engelse boeke afgeneem het, het die vraag na Afrikaanse boeke tussen 1939 en 1945 met 150 persent toegeneem. Daar was meer tyd vir lees en, weens die afname van werkloosheid, ook meer geld. Baie mense het per trein gereis en op stasies is gemiddeld duisend eksemplare van elke nuwe roman verkoop. Omdat nuwe Bybels nie gedruk is nie was daar ’n groot vraag na stigtelike lektuur, ook na ligte leesstof. Só het Karl Kielblock knap romantiese spanningsverhale geskryf met die Kaaps-Hollandse tyd as agtergrond. Ongelukkig is ook talle minderwaardige boeke in advertensies opgehemel. Lesers het sku geraak vir dié oordrewe aansprake sodat die Afrikaanse boek naderhand daaronder moes ly. Die Huisgenoot het, soos die koerante, gekrimp, maar lering en vermaak verskaf: interessante feite-artikels oor taal en letterkunde of die Anglo-Boereoorlog, maar ook vervolgverhale deur J van Elders, EJM Fraser en Fritz Steyn en vertalings van die Engelse speurverhaalskrywer Agatha Christi.