Dr. Hendrik van der Bijl (1887-1948)
April 14, 2017
Generaal Jan Smuts
April 14, 2017

(Geskryf deur Sulene van der Merwe, Hoër Meisieskool La Rochelle, soos verskyn in Historia Junior, 1971)

“Nadien dit U Goddelike majesteit gelief het om ons te beroep tot die bestier van sake … alhier aan die Kaap van Goeie Hoop … waartoe ons sonder U genadiglike hulp tot die allerminste nie in staat is nie, so bid ons, dat U ons met U vaderlike wysheid wil bystaan … sodat ons in ons raadslae niks anders mag voorneem of besluit nie, as wat mag strek tot die grootmaking en lof van U allerheiligste Naam en die meeste diens van ons Heer en Meester …” So het die gebede van Jan van Riebeeck byna driehonderd en twintig jaar gelede gelui toe hy hier by ons vaderland voet aan wal gesit het.

En vandag, tien jaar na Republiekwording, kan ons met ’n mate van dankbaarheid terugkyk op die verlede; op die afgelope tien jaar wat verby is. Ons kan tereg feesvier, want dit was jare van voorspoed, van geluk, van vrede. Jare waarin ons land soos ’n toe roosknop ontluik het. Met trots kan ons ons borste uitsteek oor die prestasies van ons volk op sport, tegnologiese en geneeskundige gebied.

Tog is daar ’n waarskuwende noot in die toesprake van ons Premier, die lede van sy kabinet en die Staatspresident; wys hulle ons daarop dat ons sal moet veg vir ons vrede; dat ons sal moet  “offer wat jy vra”; dat ons sal moet stry vir die behoud van ons volk en land.

Ons word vertel van die Russiese bedreiging, van die van Japannese ontwaking en van die Sjinese se poging om ook hulle invloed in Afrika te versprei. Ons hoor hoe ons geskors word uit die liggaam en dáárdie organisasie. Ons hoor hoedat lande, die sogenaamde Westerse lande, geld skenk aan die Wêreldraad van Kerke om terrorisme teen Suid-Afrika te ondersteun. Dus besef ons terdeë dat die wêreldgesindheid in die afgelope dekade verander het en dat Suid-Afrika bedreig word.

Die grootste bedreiging is seker kommunisme wat in sovele vorme probeer om sy gesag in die wêreld te laat geld. In die afgelope jaar het die Russe hul vlootoefeninge in die Indiese Oseaan aansienlik vermeerder en word Russiese oorheersing aldaar deur mnr. Heath van Brittanje en talle ander gevrees. In dié oseaan is daar reeds drie groepe Russiese oorlogskepe iewers doenig. Die onttrekking van Britse en Amerikaanse troepemagte uit die Midde-Ooste en Ooste wek kommer. Intussen gaan die Sowjet-Unie voort om sy magte te verstewig. Elke dag vaar daar vyftien kommunistiese skepe om die Kaap, doen honderd en dertig jaarliks by Oos-Afrikaanse hawens aan en kan hulle driehonderd en tagtig duikbote agter hul naam skrywe waarvan sestig kernaangedrewe is. Maar die Sowjet is nie alleen tevrede met die Indiese Oseaan nie.

Net soos die Indiese Oseaan, het die Suid-Atlantiese Oseaan ’n aantal jare oopgelê. En net soos in die Indiese Oseaan, is die Sowjet-Unie besig om stadig maar seker sy mag daar te verstewig. Sonder enige teenkanting vaar hulle duikbote en ander oorlogskepe onverpoos by die suidpunt van Afrika verby. In. Kuba het hy ’n ankerplek gevind en sy vissersvloot aan die weskus van Afrika bedien hom van noodsaaklike inligting. Wat ’n heerlike mikpunt is hierdie laaste loopgraaf van die Westerse moondhede nie vir Rusland nie! Rusland skroom nie om die tradisionele gebied van die Weste te betree nie; dit bewys sy vlootoefeninge in die verre noordelike deel van die Atlantiese Oseaan.

Rusland wil Afrika onder sy beheer hê. Die suidpunt is vir hom ’n struikelblok. Daarom spits hy hom doelgerig daarop toe om regerings te ondermyn, om gereed te maak vir ’n aanval, sodra die geleentheid hom voordoen. So het ons gesien dat tydens die Lesotho-krisis ’n Russiese duikboot langs die Transkeise kus gelê het.

Kommuniste spits hulle egter nie net toe op seegebiede nie. Hulle kom ook nie net van Rusland nie. Sjina begin ontwaak en soos hulle saam met Japan besig is om die Stille Oseaan binne te dring, so het hulle al ’n vastrapplek in Dar-es-Salaam gekry.

Op 31 Mei 1976 het mnr. Vorster in sy rede by die Republiekfees die bou van ’n Sjinese treinspoor tussen Zambië en Tanzanië as die grootste bedreiging vir Suid-Afrika bestempel!

Dit is al ’n algemene feit dat die terroriste wat ons gedurig aanval, voorsien is van Kommunistiese en veral Sjinese wapens. Onlangs is twee jong Suid-Afrikaanse konstabels gedood en sewe beseer toe hul voertuig oor ’n doodgewone houtkissie met ’n handgemaakte valdeur en ’n halfdeurgesaagde wand gery het. Hoe onskuldig dit ook gelyk het, was dit gelaai met ’n paar pond plofstof; was dit ’n landmyn wat liggies in die sand versteek was, wat die lewens van twee geëis het. Die eerste aanval was in 1965 toe ’n groepie Ovambo’s Suidwes-Afrika via Zambië en Angola binnegedring het. In 1968 is die eerste Suid-Afrikaanse konstabel gedood.

Die stryd teen terrorisme neem toe. Alhoewel daar onlangs ’n verklaring uitgereik is dat hulle aanvalle in Mosambiek afneem, moet ons nie gerus wees nie. Israel wat self ondervinding het van terrorisme, wat self moet veg teen ’n nasie voorsien van kommunistiese wapens, skenk goedere ter waarde van R2 000 aan die Organisasie van Afrika Eenheid wat gebruik sal word ten behoewe van terrorisme teen Suid-Afrika.

Terrorisme is een van ons grootste bedreigings. Dit is ’n aktiewe stryd om ons te ondermyn. Die oorgrote meerderheid van die wêreld is ons nie goedgesind nie. Ons beleid asook ons beheer oor Suidwes-Afrika word telkemale in die V.V.O. bespreek. Hier is die stryd meer passief; dis meer ’n geredekawel oor dinge sonder om tot ’n gevolgtrekking te kom.

Ons lewe in ’n veelvolkige land en die take wat so ’n gebied stel, is veeleisend, het prof. G Viljoen, rektor aan een van ons universiteite, onlangs gesê. Ons maak staat op die Bantoes, op die Kleurlinge en Indiërs om lojaal teenoor die Republiek van Suid-Afrika te wees; om saam eendragtig te stry teen vyandelike aanslae. Want “Eendrag maak Mag” is mos ons leuse. Ons, die Blankes, wat die minderheid is, sien so dikwels neer op hulle wat nie ’n wit vel het nie; ons verstoot hulle en ontneem hulle geleenthede, byvoorbeeld om Springbokkleure te verwerf.

Hannibal, die Carthager wat sy lewe daaraan gewy het om op Rome wraak te neem, moes self die onderspit delf toe hy die verwagte hulp van die Galileërs nie ontvang het nie.

Ons, nes Hannibal, sal ’n verrassing besorg word as ’n reuse-aanval op ons deur vyandelike nasies geloods word en ons die verwagte hulp van die Bantoes nie kry nie. Mnr. Vorster het ook onlangs gesê dat ons beleid nie op vrees, haat en afguns berus nie, maar dat dit die  geleenthede aan die individu om ten volle te ontwikkel. Erken ons die regte van die Swartes? Goeie rasseverhoudinge word bepleit en daar word voortgegaan met die ontwikkeling van Bantoe-tuislande. Is dit die oplossing?

’n Verdere bedreiging is die aftakeling van die jeug wat ook in ander lande ’n reuse-vraagstuk is. Die hippies het na vore getree as ’n hele nuwe subkultuur dwarsdeur die wêreld. Die dwelmmiddelkultus het die moderne samelewing verwerp. Dit het in opstand gekom teen die bestaande gesagsorde en hom teruggetrek in ’n wêreld van bisarre opwinding.

Studente aan sommige van ons universiteite reël optogte wat eintlik geen doel dien nie. Onlangs het ons gesien hoedat Kaapse studente pamflette uitdeel by die opening van die Nico Malan-skouburg in Kaapstad.

En nou word televisie na Suid-Afrika gebring. Die Amerikaanse sielkundige, Frederick Wertham verklaar dat die Amerikaanse kind meer geweld in ’n halfuur op televisie sien as wat sy ouers in hul lewe beleef het. Hy glo dat geweld ’n afbrekende invloed op ’n kind het en in ’n opname wat gemaak is, is gevind dat in die tyd wat kinders meestal voor die beeldradio deurbring ongeveer driehonderd vier-en-dertig suksesvolle of gepoogde moorde aanskou word.

Op Suid-Afrikaanse silwerdoeke sien ons soms ontsettende, gewelddadige tonele voor ons afspeel. Want geweld is skoon, maar seks laakbaar. Dit is die kriterium van die Sensorraad van Suid-Afrika, of so lyk dit altans. Doen albei nie ewe veel aftakeling nie.

Op die oomblik dobber ons op die voorspoed wat ons land het. Die toekoms van die land hang af van die gestalte wat die jeug daaraan gee, en alleen as ons, om Dawie de Villiers aan te haal: “deur kennis gevorm word, deur werk gestaal word en deur geloof geregverdig word”, sal ons die toekoms kan aandurf.

Die toekoms lyk op die oog af rooskleurig, maar, as ons dieper kyk, dan, ja, dan, merk ons op hoe donker dit is en kan ons maar net soos Langenhoven bid:

“Soos ons vadere vertrou het,

leer ook ons vertrou, O Heer:

Met ons land en met ons nasie,

sal dit wel wees: God, regeer!”