Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Vorm 2: Die skilddak

Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Vorm 1: Die skilddak met geronde ente
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Vorm 3: Die saaldak
November 17, 2016

Die amateur kunstenaar RH Dingley het aan die Kaapse oosgrens ’n skets van ’n veeboer se kapstylhuis en werf gemaak, getiteld ’n Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ’n looikuip en seepmakery (ca. 1815-1817)[1] (Fig. 1). Waar by die saaldak sluitgewels is, is hier skuinsoplopende entdakvlakke, sodat die nok korter as die lengte van die dak is, en die dak gevolglik uit vier skuins dakskilde bestaan. Die entgewelkappe is met die konstruksie van die dakraamwerk weggelaat. Op die vier hoeke van die huis is hoekstyle wat met die nok van die naaste kap verbind is, geplaas. Die entdakvlakke is verder van radiale of hoekkortstyle voorsien (Fig. 2). Radiale style is soos die kapstyle, op die lang sye op eweredige afstande op die voet van die smalente van die huis geplaas, waar dit soos die hoekstyle bo by die nok bymekaar gekom het. Die konstruksie kon ook uit hoekkortstyle wat van die dakvoet na die hoekstyle in plaas van die nok oploop, in welke geval slegs die middelste styl tot by die nok gestrek het. Skilddakke het veral in winderige gebiede voorgekom, aangesien die skuins dakvlakke minder windweerstand as vertikale sluitgewels bied.[2] By dié soort dakkonstruksie was ’n windlat oorbodig, aangesien die style aan die dakente die dak teen winddruk gestut het.

Figuur 1. ’n Kapstylhuis in die vorm van ’n skilddak. ’n Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ’n looikuip en seepmakery (detail). Skildery deur Robert Henry Dingley, January 1819. Uit: K. Schoeman, life at the Cape, in Van De Geijn-Verhoeven et al., Domestic interiors at the Cape and in Batavia, 1602-1795. (T.M. Eliëns Ed.) Cape Town, 2002), p. 126.

Figuur 1. ’n Kapstylhuis in die vorm van ’n skilddak. ’n Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ’n looikuip en seepmakery (detail). Skildery deur Robert Henry Dingley, January 1819.
Uit: K. Schoeman, life at the Cape, in Van De Geijn-Verhoeven et al., Domestic interiors at the Cape and in Batavia, 1602-1795. (T.M. Eliëns Ed.) Cape Town, 2002), p. 126.

Figuur 2. Entdakvlakke: (links) met radiale en (regs) met hoekkortstyle. Tekening: H. Raath

Figuur 2. Entdakvlakke: (links) met radiale en (regs) met hoekkortstyle.
Tekening: H. Raath

                figuur-2b

’n Deur met ’n tuitjie en twee klein vensteropeninge is simmetries in een van die lang dakvlakke geplaas. In teenstelling met die regop deur, is die vensteropeninge teen dieselfde hoek as die skuins dakvlak. Die konstruksie van die raamwerk van die oop deur is duidelik sigbaar en bestaan uit twee vertikale pale wat horisontaal deur vyf korter paaltjies verbind is. Die raamwerk is waarskynlik met dieselfde materiaal as die dak gedek.

Twee keëlvormige hutte verskyn ook op die tekening. Die een is ’n kookhut met ’n opening bo waardeur die rook kon ontsnap.

[1] Museum Africa: 75/1126, skets: ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, R.H. Dingley, January 1819. Die skets is waarskynlik in Londen voltooi aangesien die datum Jan. 1819 daarop voorkom. J.C. Pretorius, Robert H. Dingley: amateurkunstenaar van die Oosgrens (1813-1818), Historia 37(2), November 1992, pp. 33 & 37.

[2] Frilandmuseet, English guide, p. 75; C.V.Trefois, Ontwikkelingsgeschiedenis van onze landelijke architectuur, p. 90.