Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Huise wat in die grond ingegrawe is

Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Vorm 3: Die saaldak
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Die gaffelsuilkonstruksie
November 17, 2016

By ’n wigvormige dakhuis met ’n saaldak van 9,1 meter (30 voet) lank en 3,7 meter (12 voet) breed, is die bruikbare vloeroppervlak ongeveer 19,5 vierkante meter (210 vierkante voet), terwyl die beweegruimte veel minder is. In teenstelling hiermee, is die vloeroppervlak van ’n muurhuis met dieselfde afmetings 33,5 vierkante meter (360 vierkante voet). Daar gaan by die wigvormige dakhuis dus ’n aansienlike hoeveelheid ruimte verlore. Om die probleem in ’n mate te bowe te kom, is die vloer laer as die omliggende grondvlak ingegrawe (Fig. 1), of is die dakvoet op kort vertikale pale of lae mure geplaas. Omdat die onderste gedeelte van die dakmure van die bootvormige dakhuis byna vertikaal is, het daar in teenstelling met die wigvormige dakhuis min of geen ruimte verlore gegaan nie.

Figuur 1. Deursnit van ’n dakhuis wat in die grond ingegrawe is. 	 Tekening: H. Raath

Figuur 1. Deursnit van ’n dakhuis wat in die grond ingegrawe is.
Tekening: H. Raath

JF Häszner, het in sy Huislijk geneeskundig handboek voor de ingesetenen van Nederlands Africa (1793) geskryf dat hutte wat in die grond ingegrawe is, “hartebeesthuizen” genoem is. Hy het ook opgemerk dat die vloere klam was, wat vererger is deur die gewoonte om hulle een of twee keer per week met beesmis of skaap- of beesbloed te smeer.[1]

Deur die vloer in die grond in te grawe, is nie net groter ruimte verkry nie, maar is in teenstelling met ’n lae muurtjie, ook ’n besparing aan boumateriaal bewerkstellig.[2] Dié tipe huis was koel in die somer en in die winter warmer as ’n gewone dakhuis. Häszner het ongelukkig geen verdere inligting oor dié huise verstrek nie. Verwysings na huise waarvan die vloere ingegrawe is, kon ook nie in ander tydgenootlike getuienis gevind word nie. Aangesien die gebruik algemeen in die Westerse wêreld en elders voorgekom het, waar dit onder meer as voedsel en drankstoor gedien het, is daar geen rede om Häszner se waarneming in twyfel te trek nie (Fig. 2 & 3).

Figuur 2.  ’n Britse rekonstruksie van ’n wigvormige dakhuis wat in die grond ingegrawe is. Uit: https://www.bedesworld.co.uk/site_2003-05-10/building/n… 2008-02-3.

Figuur 2. ’n Britse rekonstruksie van ’n wigvormige dakhuis wat in die grond ingegrawe is.
Uit: https://www.bedesworld.co.uk/site_2003-05-10/building/n… 2008-02-3.

 

 

 

Figuur 3. ’n Oekraïnse “root cellar”, Pirigovo Museum of Folk Architecture and Household, buite Kiev. Uit: Pirogovo – Museum of Folk Architecture and Household, https://www.kyiv.com/cultural-spots-kuiv/museums/pirogovo.html, 2013-08-18.

Figuur 3. ’n Oekraïnse “root cellar”, Pirigovo Museum of Folk Architecture and Household, buite Kiev.
Uit: Pirogovo – Museum of Folk Architecture and Household, https://www.kyiv.com/cultural-spots-kuiv/museums/pirogovo.html, 2013-08-18.

 

 

[1] Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad: MSB240, p. 142: Mediese handboek vir die Afrikaanse huisgesin deur J.F. Häszner (vert. L.C. van Oordt).

[2] C. van der Veen, Museumboek voor Drenthe (Baarn, 1979), p. 56.