Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie

Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Die gaffelsuilkonstruksie
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ’n ontwikkelde dakhuis gebou?
November 17, 2016

In teenstelling met die kapstylhuis het die wigvormige dakhuis met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie volgens die beskikbare bronne slegs in dele van die Wes-, Suid- en Oos-Kaap voorgekom. Teen 1961 het Walton dié tipe dakraamwerk nog net in die Langkloof, Suid-Kaap, aangetref. Hy skryf in “Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa” (1961):

The roof houses in this long valley [Langkloof] are also of a type not found elsewhere in South Africa. They have a framework consisting of a ridge-pole carried on two or more pairs of rafters which cross at the apex to form a V, in which the ridgepole rests[1] (Fig. 1).

figuur-1a

 

Figuur 1. ’n Plaasstoor met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie, Noll’s Halt, Langkloof, distrik Uniondale, Suid-Kaap. (Foto en skets deur James Walton). Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 14.

Figuur 1. ’n Plaasstoor met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie, Noll’s Halt, Langkloof, distrik Uniondale, Suid-Kaap. (Foto en skets deur James Walton).
Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 14.

 

Skrywer kon gedurende veldwerk geen voorbeelde van wigvormige dakhuise met hierdie tipe dakraamkonstruksie vind nie. Omdat die kapbene by die nok gekruis het om ’n V te vorm waarin die nokpaal rus, kan die kenmerkende V’s op die nokke by ’n paar Africana-prente van wigvormige dakhuise waargeneem word.

Op ’n kaart van Dassen-eiland, gedateer 1656 verskyn daar afbeeldings van ’n wigvormige dakhuis met ’n deur in die sluitgewel, asook ’n muurhuis met ’n saaldak en ’n deur in die entmuur[2] (Fig. 2). Die geboue is waarskynlik reeds in 1654 gebou toe Jan van Riebeeck in Oktober geskryf het “omme wat riedt ende hout te halen tot een goede loods op ’t Dasseneijlant … te maecken…”.[3]

Figuur 2. ’n Wigvormige dakhuis met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie op Dassen-eiland (detail), geïllustreerde kaart, 1656. Kaapse Argiefbewaarplek, ACC 1290 MI/19.

Figuur 2. ’n Wigvormige dakhuis met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie op Dassen-eiland (detail), geïllustreerde kaart, 1656.
Kaapse Argiefbewaarplek, ACC 1290 MI/19.

 

 

 

Hoewel Walton die mening gehuldig het dat die betrokke dakhuis ’n kapstylhuis verteenwoordig,[4] kan nie daarmee akkoord gegaan word nie, aangesien die kenmerkende V’s van die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie op die nok van die huis sigbaar is. Die V van die vierde kap by die voorgewel, is nie afgebeeld nie, maar is nie noodwendig afwesig nie.

Die kunstenaar Johannes Schumacher het in ca. 1776-1777 ’n plaas in die Kamdeboo (streek suid van Graaff-Reinet, Agter-Bruintjieshoogte en die Sneeuberg wat ooswaarts tot by Pearston en Somerset-Oos strek) geskilder waarop ’n aantal dakhuise met twee vurke elk voorkom (Fig. 3). Van die huise het uit saaldakke met ’n deur in die sluitgewel soos die voorbeeld op Dassen-eiland hierbo, bestaan. In dieselfde skildery is ’n groot wigvormige dakhuis met geronde ente wat uit radiale sparre, wat aan albei kante bo by die drakappe bymekaarkom, bestaan.[5]

 

figuur-3

Figuur 3. Agter is ’n groot wigvormige dakhuis met ’n deur in die lang sykant. Links voor is drie wigvormige dakhuise in die vorm van saaldakke, met die deur telkens in die gewel. (Johannes Schumacher, ’n Plaas in die Kamdeboo, skildery, 1776-77). Uit: J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika (Kaapstad, 1972), p. 186.

 

 

 

[1] J. Walton, Homes of the Trekboers the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 13.

[2] Kaapse Argiefbewaarplek: ACC M1/19, geïllustreerde kaart: Dassen-eiland, anoniem, 1656.

[3] J.A. van Riebeeck, Daghregister gehouden by den Oppercoompman… I, 1651-1655 (reds. D.B. Bosman & H.B. Thom), p. 259.

[4] J. Walton, The South African Kapstylhuis and some European counterparts, Restorica no. 10, December, 1981, p. 2.

[5] J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika (Kaapstad, 1972), p. 186.