Hoe het die Voortrekkers ’n ontwikkelde dakhuis gebou?

Hoe het die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis gebou? Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie
November 17, 2016
Oorsprong van die Suid-Afrikaanse wigvormige hartbees- of dakhuis
November 17, 2016

Daar is reeds in ’n vorige artikel daarop gewys dat daar by ’n wigvormige dakhuis ’n aansienlike hoeveelheid ruimte verlore gaan. Om die probleem in ’n mate te bowe te kom, is die vloer laer as die omliggende grondvlak ingegrawe, of is die dakvoet op kort vertikale pale of lae mure geplaas.

Waar ’n dakhuis direk op die grond gebou is, het die grond die uitwaartse druk van die kapstyle wat in die grond ingeplant was, teengewerk. In die geval van ’n muurhuis, het ’n bintbalk dié funksie verrig. ’n Ontwikkelde kapstylhuis was te laag om van ’n bintbalk gebruik te maak en om te verhoed dat die uitwaartse druk van die dak die bokant van die symure beskadig en om die druk oor die breedte van die muur te versprei, is ’n kort stukkie hout deur die muur naby die muurkop ingebou[1] (Fig. 1). Die kapsparre is dan afgeskuins en op die skoene bevestig.[2]

Figuur 1.  ’n Dakkap op lae symure, McGregor, Wes-Kaap. Die skoen in die muur waarop die kapstylvoet bevestig is, word onder meer aangedui. (Tekening deur James Walton). Uit: South African Journal of Cultural History 31(1), January 1986, p. 20.

Figuur 1. ’n Dakkap op lae symure, McGregor, Wes-Kaap. Die skoen in die muur waarop die kapstylvoet bevestig is, word onder meer aangedui. (Tekening deur James Walton).
Uit: South African Journal of Cultural History 31(1), January 1986, p. 20.

Sommige bouers van kapstylskure in die Heidelberg, Suid-Kaap, omgewing, het die kapstylvoete op twee rye kort stewige regop pale geplaas, wat bykomend deur skuins gevurkte stutte ondersteun is (Fig. 2).

Figuur 2.  ’n Kapstylskuur, Heidelberg, Kaap. Die kapstylvoete is op kort stewige regop pale met ’n pen-en-gat verbind. Die kapstyle word verder deur skuins gevurkte stutte ondersteun, waarin dit eweneens met ’n pen-en-gatverbinding bevestig is. (Tekeninge deur James Walton, 1950). Uit: Homesteads and villages of South Africa (Pretoria, 1965), p. 50.

Figuur 2. ’n Kapstylskuur, Heidelberg, Kaap. Die kapstylvoete is op kort stewige regop pale met ’n pen-en-gat verbind. Die kapstyle word verder deur skuins gevurkte stutte ondersteun, waarin dit eweneens met ’n pen-en-gatverbinding bevestig is. (Tekeninge deur James Walton, 1950).
Uit: Homesteads and villages of South Africa (Pretoria, 1965), p. 50.

Ontwikkelde kapstylhuise met saaldakke en vrystaande entgewels met projekterende vuurherde teen die voorgewels, het spesifiek in die omgewing van Vermaaklikheid, Heidelberg en Riversdal, Suid-Kaap, voorgekom. Enkele voorbeelde bestaan tans nog. By al hierdie huise is die deur na links of regs geplaas om die vuurherd en skoorsteen teen die gewel langs die deur te kon akkommodeer (Fig. 3).

Figuur 3.  ’n Ontwikkelde kapstylhuis met ongelaagde ruklipmure, vrystaande gewels en projekterende vuurherd, Vermaaklikheid, Distrik Riversdal, Suid-Kaap. (Foto deur James Walton). Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

Figuur 3. ’n Ontwikkelde kapstylhuis met ongelaagde ruklipmure, vrystaande gewels en projekterende vuurherd, Vermaaklikheid, Distrik Riversdal, Suid-Kaap. (Foto deur James Walton).
Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

Die militêre kommandeur aan die Kaap, geograaf, ontdekkingsreisiger en kunstenaar RJ Gordon (1743-1795) het van Junie 1779 tot Januarie 1780 ’n reis van Kaapstad na die Oranjerivier onderneem. Gedurende hierdie reis het Gorden self – of ’n anonieme kunstenaar wat die reis meegemaak het – in die Swartland (die huidige distrik Malmesbury), ’n saaldakvormige huis met oordekte gewels op lae symure afgebeeld[3] (Fig. 4). Die V’s van die vurke by die voor- en agtergewels is duidelik sigbaar. Daar is ’n vollengte deur in die voorgewel en twee luikbedekte vensteropeninge in die skuins dakvlak. Die lae symure, voorgewel en deur is uit vertikale elemente saamgestel wat moeilik herkenbaar is en wat moontlik ’n plankbeskot kan voorstel.

Figuur 4. ’n Ontwikkelde dakhuis met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie. Twee vensteropeninge is teen die dakvlak sigbaar. ’n Plaas in die Swartland, in die huidige  distrik Malmesbury, Wes-Kaap. (Anoniem, Uitsig op ’n Kaapse koring, wyn en veeplaas (detail), geïllustreerde kaart, 1780).  Uit: P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I (Houghton, 1988), p. 38.

Figuur 4. ’n Ontwikkelde dakhuis met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie. Twee vensteropeninge is teen die dakvlak sigbaar. ’n Plaas in die Swartland, in die huidige
distrik Malmesbury, Wes-Kaap. (Anoniem, Uitsig op ’n Kaapse koring, wyn en veeplaas (detail), geïllustreerde kaart, 1780).
Uit: P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I (Houghton, 1988), p. 38.

Eerwaarde CI Latrobe, het op 30 April 1816 net buite die Langkloof in die omgewing van die Ezelsjagtrivier op die plaas Klippedrift, van Dawid Fourie in ’n ontwikkelde dakhuis, waarskynlik met ’n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie, oornag. Hy het die gebeure in sy Journal of a visit to South Africa in 1815 and 1816 beskryf:

The farmer immediately gave us the only room he could spare, which was at one end of what is called a hartebeest-house, being a roof, put upon a wall about two feet in height. But the building, though very small, was new, and clean, with two bed-steads in it. Of these Brother and Sister Schmitt occupied one, I the other, and Mr. Melville the floor. Brother Stein put up with the only vacant spot remaining, under the bedsteads.[4]

’n Voorbeeld van ’n gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie is deur Walton op die plaas Koelfontein, aan die voet van Gydopas bokant Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap gedokumenteer (Fig. 5). Die struktuur het aan albei lang sye ongelaagde ruklipmure gehad.[5]

 Figuur 5.  Die raamwerk van ’n buitegebou met ’n gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie. Die plaas Koelfontein, aan die voet van Gydopas, bokant Prince Alfred Hamlet, Wes-Kaap. (Skets deur James Walton). Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 19.


Figuur 5. Die raamwerk van ’n buitegebou met ’n gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie. Die plaas Koelfontein, aan die voet van Gydopas, bokant Prince Alfred Hamlet, Wes-Kaap. (Skets deur James Walton).
Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 19.

[1] Walton, Hanebalk, collar-beam and tie-beam, South African Journal of Cultural History 3(1), January, 1986, p. 20.

[2] Walton, Hanebalk, collar-beam and tie-beam, South African Journal of Cultural History 3(1), January, 1986, p. 20.

[3] P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I, p. 38; P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 II (Houghton, 1988), p. 240.

[4] C.I. Latrobe, Journal of a visit to South Africa in 1815 and 1816 with some account of the missionary settlements of the united brethren, near the Cape of Good Hope (Cape Town, 1969), p. 256.

[5] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 19.