Hoe het die Voortrekkers ʼn bootvormige hartbeeshuis gebou? Die raamwerk

Wat is die oorsprong van die Suid-Afrikaanse bootvormige hartbeeshuis?
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Dakbedekking
November 17, 2016

Maria Minnaar, wat die Groot Trek as kind meegemaak het, het in haar herinneringe vertel: “Gewoonlik het die Voortrekkers, vóordat hulle bou, eers so ’n bietjie rondgekyk want dikwels ontdek mens anders later ’n verkiesliker woonplek.”[1]

Die spesifieke plek waar die hartbeeshuis opgerig is, moes effens hoër as die omliggende terrein wees. Aangesien die vloer van die huis op grondvlak was, moes water nie naby of in die huis kon opdam nie. Volgens CCE Aucamp is “… ’n grootte hoevale plek geskoffel”[2] waar die hartbeeshuis opgerig sou word. Die grondplan is dan afgetree, en ’n merk op elk van die vier hoeke gemaak.[3] Die huis is dan sogenaamd afgeteken.[4]

Tussen die merke is ’n voortjie gegrawe om die raamwerk en dekmateriaal in te laat.[5] Die voortjies vir die symure is reguit gegrawe en dié vir die entgewel reguit[6] of effens konveks.[7] Die volgende stap was om in die voortjie gate vir die pale te grawe.[8] Eers is op die vier hoeke pale regop ingeplant. Aan die lang sye van die huis is daar tussen die hoekpale verdere pale ingeplant. Aan die gewelente is die pale verder uitmekaar geplaas. In die middel van een van die lang sye, dit is aan die voorkant van die huis, is twee gate vir die deurkosyne so ver uit mekaar as wat die deur wyd moes wees, gegrawe[9] (Fig. 1).

Figuur 1. Grondplan van die bootvormige hartbeeshuis. Tekening: Hannes Raath

Figuur 1. Grondplan van die bootvormige hartbeeshuis.
Tekening: Hannes Raath

Wanneer die pale ingeplant en vasgestamp was, is die pale van albei lang sye aan die bokant twee-twee na mekaar toe oorgebuig en vasgemaak[10] (Fig. 2). Spoelstra beweer dat indien die bopunte slap genoeg was, hulle langs mekaar geplaas is, sodat die punte nie uitgesteek het nie; was die punte te styf om te buig, moes hulle oorkruis aan mekaar vasgemaak word.[11] Die raamwerk is met rou rieme of inheemse plantvesel, soos byvoorbeeld die binnebas van sekere bome, vasgemaak afhangende van wat beskikbaar was.[12] Die gewelpale, ongeveer twee in elke gewel, is dan aan die kappe vasgemaak. Indien die gewelvoet effens konveks was, moes die gewelpale na die entkappe oorgebuig word om vasgemaak te word.[13] Nadat die horisontale dwarslatte, waarop die dekmateriaal vasgemaak word, aangebring is (Fig. 3), is ’n dik nokpaal in die V wat deur die oorgebuigde kapsparre gevorm is, vasgemaak. Vervolgens is daar van stukkies hout wat oorgebly het hanebalke gemaak. Volgens Spoelstra was die doel van die hanebalke “… om die boonste stukke van die pale stewiger te kry – want hulle sou anders met die dekkery, as ’n mens buite langs moes kruip, kan inbuig.”[14]

Figuur 2. Links: die pale is regop in die gate ingeplant. Regs: die pale is na mekaar oorgebuig en ’n hanebalk is aangebring. Tekening: Hannes Raath

Figuur 2. Links: die pale is regop in die gate ingeplant. Regs: die pale is na mekaar oorgebuig en ’n hanebalk is aangebring.
Tekening: Hannes Raath

 

Figuur 3. Die raamwerk bestaande uit pale en dwarslatte soos van binne die huis gesien. In hierdie geval is die deur in die entgewel. Let ook op die raamwerk van die tuitjie by die oop bo-deur. (Erich Mayer, Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, tekening, 1927). Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 397.

Figuur 3. Die raamwerk bestaande uit pale en dwarslatte soos van binne die huis gesien. In hierdie geval is die deur in die entgewel. Let ook op die raamwerk van die tuitjie by die oop bo-deur. (Erich Mayer, Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, tekening, 1927).
Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 397.

Aangesien die dakmure skuins vanaf die dakvoet na die nok oploop, en omdat die deur in een van die dakmure geplaas is, moes ’n tuitjie gemaak word. Tussen die twee kapsparvoete waar die deur moes kom, is by elkeen ’n tweede paal regop ingeplant, wat as kosyn moes dien. Die pale is bo horisontaal verbind. Twee kort paaltjies het die bokant van die kosynpale met die kappe agter dit verbind, en was die raamwerk van die tuitjie en die huis as sulks voltooi[15] (Fig. 3-4).

Figuur 4. Die vorm en konstruksie van die tuitjie van buite gesien. (Erich Mayer, Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, tekening, 1927). Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 311.

Figuur 4. Die vorm en konstruksie van die tuitjie van buite gesien. (Erich Mayer, Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, tekening, 1927).
Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 311.

[1] G.S. Preller, Ou Pretoria (Pretoria, 1938), pp. 11 & 13.

[2] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 102.

[3] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 67.

[4] L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), pp. 6 & 23.

[5] Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67.

[6] Museum Africa, Johannesburg: B128/1139, skildery: Tafelplaas, Klaas Smitsrivier, T. Baines, 1848-04-24; TAB: A1365 17, skildery: sonder titel, T. Baines, s.a.; Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad: A1415 (73), skildery: sonder titel, H. Ford, 1836.

[7] KAB: A1415 (73), skets: Hartebeesthut, C. Bell, 1836; NKHM: H G 7014 311, tekening: Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, E. Mayer, 1927; NKHM: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

[8] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67; L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux), p. 20.

[9] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67.

[10] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge…, p. 102; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67; K. Schoeman, Uit die versameling van die S.A. Biblioteek: ‘henerringen’ van G.H. Warden, Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek 45(2), Desember 1990, p. 68.

[11] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67.

[12] Mondelinge mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe … p. 67; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II (Bloemfontein, 1940), p. 180; J. Walton, Homesteads and villages of South Africa (Pretoria, 1965), p. 97.

[13] KAB: A1415 (73), skets: Hartebeesthut, C. Bell, 1836; NKHM: H G 7014 311, tekening: Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, E. Mayer, 1927; NKHM: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

[14] NKHM: H G 7014 312, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noordoos van Brits (Hardbieshuis), E. Mayer, 1927; NKHM: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

[15] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 68.