Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Die klei- of grondvloer 2: insit en afwerking van die vloer

Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Die klei- of grondvloer 1: voorbereiding van die grond
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Meubilering
November 17, 2016

Voordat die vloer ingesit is, is die grondoppervlak eers gelyk gemaak en vasgestamp.[1] Daarna is die gebreide grond- of kleimengsel, wat redelik styf moes wees, op die grond uitgegooi en vasgestamp.[2] Vir dié doel is ’n stamper of ’n slaanhout gebruik.[3] Die vloer is met ’n reihout gelyk afgewerk en daarna natgespat en met ’n skuurklip of troffel glad gevryf.[4]

Barsies wat gedurende die droogwordproses in die vloer ontstaan het, is met ’n slaanhout aan weerskante van die barste toegeslaan. Die proses is herhaal totdat daar nie meer barsies voorgekom het nie en die vloer heeltemal droog was.[5] By potkleivloere is dun klei gebruik om barste te herstel.[6]

Om die voltooide vloer skoon te hou, is dit gereeld natgespat en gevee.[7] Die vloer is ook daagliks tot een maal per week met ’n mengsel van vars bees-, bok- of skaapmis en water gesmeer.[8] Dit het ’n harder en meer duursame vloer tot gevolg gehad en het die vloer koel en vry van stof en insekte soos vlooie gehou.[9]

Voordat met die aansmeer van die mis begin is, is die vloer eers skoon gevee.[10] Die mengsel is met die handpalm óf met ’n lap, óf ’n besem in sirkelbewegings aangesmeer.[11] Soms is variasies van blom-, sig-sag- en golwende patrone met die vingers op die vloer aangebring.[12] Om ’n grondvloer donker te kleur, is die as van gebrande gras of roet bo-oor gesmeer.[13] As mis oor die roet gesmeer is, het die patrone duidelik vertoon.[14] C. van Zyl skryf in haar herinneringe: “Hoe meer kinkels, draaie en swaaie jy in jou gesmeerde vloer kon sit, hoe deftiger lyk dit.”[15]

’n Ander metode om die vloer te preserveer, was om dit een- of tweekeer per week met geklitste skaap- of beesbloed en water te smeer.[16] Bloed het die vloer duursaam en hard, maar ook baie glad gemaak.[17] Dit het ’n blink, donker vloer tot gevolg gehad.[18]

Vloere is ook met olie gepreserveer deur dit met ’n mengsel van roulynolie en grond of skoon roulynolie te smeer.[19] Indien skoon roulynolie gebruik is, is die vloer eers hiermee behandel waarna dit met ’n maalklip en melk geskuur is.[20] ’n Olievloer was blink en glad soos glas; so glad dat mense op die vloere kon gly.[21]

Dít wat in die onmiddellike omgewing beskikbaar was, het die bestanddele en afwerking van die vloer bepaal, gevolglik het talle variasies voorgekom. In die Lydenburg-omgewing byvoorbeeld is turksvyblare se dorings afgevryf, die blaaie oopgesny en die vleiskant oor die grondvloer gesmeer. Wanneer die sap droog geword het, is die vloer blink gevryf.[22]

[1] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. D.phil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, p. 326.

[2] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 326; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8.

[3] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 102; Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; M.J. Oosthuizen, Terugblik op die verlede: die plaaslewe vanouds, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 39.

[4] Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06.

[5] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 326.

[6] Skriftelike mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15.

[7] A.R. Barnes, The colonial household guide (Cape Town, 1889), p. 122.

[8] J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; E. Kretzschmar, Schetzen uit Zuid-Afrika (’s-Gravenhage, 1854), p. 18; H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 I (Cape Town, 1928), p. 131; H. Mulder, Dit was gister en eergister (Kaapstad 1970), p. 131; M.J. Oosthuizen, Terugblik op die verlede: die plaaslewe vanouds, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 39; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 54; G.J. Schutte (red.), Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel jr. oor Kaapse sake, 1778-1792 (Kaapstad, 1982), p. 169; A.A.J. van Niekerk, Herneuter (Kaapstad, 1975), 21; T. Venter, Die Bosveldhuis, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 47(1), April 1991, p. 44.

[9] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 114; A.R. Barnes, The colonial household guide, p. 122; E. Kretzschmar, Schetzen uit Zuid-Afrika, p. 18; H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 I, p. 131; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54; C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775 (Cape Town, 1986), p. 139; A.A.J. van Niekerk, Herneuter, p. 21; T. Venter, Die Bosveldhuis, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 47(1), April 1991, p. 44.

[10] A.A.J. van Niekerk, Herneuter, p. 21.

[11] A.R. Barnes, The colonial household guide, p. 122; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 332; J. Murray (Ed.), Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein (Cape Town, 1954), p. 27; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8; A.A.J. van Niekerk, Herneuter, p. 21; C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[12] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 30; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8.

[13] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 333; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8.

[14] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 333.

[15] C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[16] Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek: MSB240, p. 142: Mediese handboek vir de Afrikaanse huisgesin, J.F. Häszner, 1793; K. Schoeman, Dogter van Sion: Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799 (Kaapstad, 1997), p. 87; H. van der Merwe, Pionierslewe in die Boesmanland, Die Kultuurhistorikus, Oktober 1986, p. 50.

[17] C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775, p. 139.

[18] Persoonlike waarneming tydens die eksperimentele rekonstruksie van pioniersstrukture in die Voortrekkeraanvangsnedersetting van die Schoemansdal Museum, 1989.

[19] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek, p. 30; Mondelinge mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15; K. Schoeman, Dogter van Sion…, p. 87; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 333; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II, p. 181.

[20] Mondelinge mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15.

[21] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge…, p. 30.

[22] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 343.