Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Die klei- of grondvloer 1: voorbereiding van die grond

Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Vensters
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou? Die klei- of grondvloer 2: insit en afwerking van die vloer
November 17, 2016

Ter voltooiing van die huis is ’n dun vloer van 25 tot 38 millimeter (1 tot 1½ duim) en in sommige gevalle tot so dik as 15 sentimeter (6 duim) van die hardste beskikbare grond soos potklei, miershoop- of brakgrond ingesit.[1] Indien die vloer goed ingesit is, was dit baie hard, gelyk en duursaam.[2] Wanneer so ’n woning vir ’n lang tydperk bewoon is, is die vloer soms met bloed, roulynolie of op derglike wyse behandel, wat dit meer permanent gemaak het en ’n blink en gladde voorkoms gegee het[3] (Figuur 1).

figuur-1_1

Figuur 1. ’n Eietydse grondvloer wat met lynolie behandel is. Let op die harde blink-gladde oppervlak. Uit: F. Meyer (Workshop Instructor), Earthen Floor Workshop https://images.google.co.za/imgres?imgurl=https://designbui

Die volksbouer het deur proefondervindelike ervaring die grondsoorte en die eienskappe daarvan geken en geweet hoeveel ander bestanddele  bygevoeg moes word om ’n mengsel met die regte eienskappe te verkry. Vir die grondvloer moes die digtheid en die bindingsvermoë van die mengsel van ’n hoë gehalte wees.[4] Die voorbereiding van potklei, brakgrond en miershoopgrond, is in hooftrekke dieselfde. Die miershoop-grondvloer word vervolgens in meer besonderhede beskryf.

Om te verhoed dat kolonies termiete nie in die grondvloer vestig nie, is miershope wat nie meer bewoon en deur erdvarke en ietermagôe opgebreek en geplunder is  nie, gebruik.[5] Voorkeur is aan miershope wat nie gras bevat nie, gegee maar indien daar wel graswortels aanwesig was, is die miershope eers aan die brand gesteek sodat die wortels verwyder kon word.[6]

Die miershope is fyn geslaan en die grond op ’n hoop gegooi.[7] Dan is dit nat gegooi totdat  dit sag was.[8] Potklei is gebrei deur dit te trap, terwyl miershoopgrond getrap of gestamp is,[9] waarna dit vir ’n paar dae gelaat is om in te suur. Die mengsel is daagliks gebrei om lugblasies te verwyder.[10] ’n Ander metode was om water in ’n holte in die hoop te gooi, dit dan vir ses tot agt dae te laat om in te suur, waarna dit deeglik getrap is. Die klei is vervolgens met beesmis en soms ook met bestanddele soos vet, gebreide klei en gewone grond gemeng en weer getrap voordat dit gebruik is.[11]

As variasie hierop is jaaroud-turksvyblaaie gepluk, ontdoring en gekneus, waarna dit in groot seeppotte met water gekook is. Die vesels van die blaaie is met ’n gaffel verwyder, waarna die kooksel gelaat is om af te koel. Die fyn gestampte miershoopgrond is hiermee gemeng en vir drie dae ingesuur, terwyl dit daagliks met skopgrawe deurgewerk is. Só ’n vloer het gou droog en baie hard geword.[12] Hierdie gebruik het in Transvaal en waarskynlik ook op ander plekke voorgekom.

[1] Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers aan het volk van Nederland verhaald (Amsterdam, 1883), p. 423; J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; Mondelinge mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; G.J. Schutte (red.), Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel jr. oor Kaapse sake, 1778-1792 (Kaapstad, 1982), p. 169; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 69; C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[2] F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers…, p. 423; J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 54; C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775 (Cape Town, 1986), p. 139; C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[3] Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek: MSB240, p. 142: Mediese handboek vir de Afrikaanse huisgesin, J.F. Häszner, 1793; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II (Bloemfontein, 1940), p. 181.

[4] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. DPhil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, p. 324.

[5] A. Coetzee, Die Afrikaanse volkskultuur. Inleiding tot die studie van volkskunde (Amsterdam & Kaapstad, 1960), p. 114; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966), p. 54; W. Shaw, The story of my mission in Southern Africa (London, 1860), p. 41.

[6] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325.

[7] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54.

[8] Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54.

[9] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ’n vertolking van ’n streek (Kaapstad, 1971), p. 30; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54; T. Venter, Die Bosveldhuis, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 47(1), April 1991, p. 44.

[10] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325.

[11] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge…, p. 30; F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers…, p. 423; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; M.J. Oosthuizen, Terugblik op die verlede: die plaaslewe vanouds, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 39; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06.

[12] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325.