Hoe die taalbeweging begin het

Gelowige Hollanders pleit vir ’n Afrikaanse Bybel
April 20, 2016
“Skoolmeestertjies en wynboertjies” begin ’n taalbeweging
April 25, 2016

Die taalhistorikus J du P Scholtz skryf dis vrugteloos om te gis oor wanneer die taalbeweging begin het. Maar in 1874 het ’n paar koerantbriewe ’n kettingreaksies aan die gang gesit, wat ’n mens met die begin van die taalbeweging in verband kan bring.

“Een Ware Afrikaander” (SJ du Toit) publiseer op 8, 11 en 22 Julie 1874 in De Zuid-Afrikaan drie artikels in Nederlands onder die opskrif “De Afrikaansche Taal”. Hy weerlê die bewering dat Afrikaans geen taal is nie en dat Hollands eintlik die moedertaal van die Afrikaners is.

Hy wei uit oor die verdringing van die volkstaal deur Engels in die Parlement, geregshowe, skole en kerke. “Vreemdelinge neem u plek in, en – u swyg. Afrikaners, hier is ’n voorspelling vir die toekoms: U het gebou, vreemdelinge neem u plek in.” Hy sluit sy betoog só: “Dog sonder taal, geen nasie. Daarom Afrikaners, hou u land, u volk, en u taal in ere!”

Talle naamlose briewe het verskyn. “Klaas Waarzegger Jr.” (CP Hoogenhout) stel op 24 Oktober 1874 voor: “Ons kêrels wat voor die Afirkaans is, moet met makaar kennis maak, dan kan ons saamwerk, dat sal banja beter wees.”

Iemand anders, waarskynlik Pannevis, het geskryf dat “Un genootskap foor die befordering fan die Afferkaanse taal” nodig is. Dié moes taalreëls en ’n woordeboek uitgee. ’n Paar maande is nog briewe gewissel tussen Du Toit, Hoogenhout en ander.

’n Lesing in Bloemfontein het die voorvegters vir Afrikaans in dié tyd goed te pas gekom. Dit is in Mei 1875 gelewer deur die jong Nederlandse taalgeleerde, dr. Johannes Brill, oor “De Landstaal”. Brill het sy doktorsgraad magna cum laude (”met groot lof”) aan die Universiteit van Utrecht behaal en in 1873 rektor van die Grey-kollege in Bloemfontein geword. Volgens hom was Afrikaans, en nie Nederlands nie, die ware landstaal van Suid- Afrika. Hy was die eerste taalgeleerde wat daarop gewys het dat Afrikaans nie ’n verbasterde Nederlands of ’n veragtelike dialek is nie, maar net soos ander tale volgens normale taalwette ontstaan het. Die lesing (op 29 Mei 1875 in De Zuid-Afrikaan) het die taalvegters gesterk.

Maar terwyl hulle volgens koerantbriewe gewerk het aan ’n Afrikaanse geskiedenis, ’n taalboekie en ’n Afrikaanse volkslied, het die voortvarende Pannevis op 7 November 1874 op eie houtjie ’n brief aan die BBBG in Londen geskryf oor die behoefte aan ’n Bybel in Afrikaans.

Hy beskryf Afrikaans as ’n soort verbasterde Hollands, en is onseker of dit nie uiteindelik deur Engels verdring gaan word nie. Maar die Engelse Bybel is nog vir die meeste van geen nut nie, terwyl die Hollandse Bybel vir duisende ’n geslote boek is. Dit is een rede vir die snelle agteruitgang van die Kolonialers, veral die gekleurde bevolking. Slegs die Bybel kan help.

Hy noem SJ du Toit as iemand wat bekwaam en gewillig kan wees om die Bybel te vertaal. Die BBG het die brief na sy Kaapse kantoor verwys, en ds. George Morgan van die Kaapse kantoor het die saak in 1875 voorgelê aan ’n predikantekonferensie in Wellington. Dié het dit afgestem. Maar omdat Pannevis Du Toit as moontlike vertaler genoem het, het Morgan met Du Toit daaroor gepraat. Hy het beloof om dit met voorstanders van ’n Bybelvertaling te bespreek.