Anthonie Bougas se ster skitter steeds
September 14, 2018
Lisa se klavier
September 14, 2018

deur Daantjie Dinamiet

In 1988 het die Afrikaanse musiekbedryf ’n rewolusie ondergaan met die ontstaan van die Voëlvry-beweging, wat die toekoms van Afrikaanse musiek onherroeplik en radikaal verander het.

Een van die belangrikste figure was Ralph John Rabie, wat op 27 Maart 1960 gebore is. Hy was aanvanklik verbonde aan die koerant Rapport, maar hy het in 1986 begin om kabaretvertonings met ’n politieke strekking aan te bied. Hy het toesprake van die destydse staatspresident PW Botha in sy liedjies gebruik; gevolglik het Rapport aan hom ’n ultimatum gestel; hy moes bedank of hy sou afgedank word. Hy het bedank.

Rabie het die naam Johannes Kerkorrel as verhoognaam gekies en sy eerste album, Eet kreef, saam met die Gereformeerde Blues Band, is in 1988 vrygestel. Die SAUK het die album summier verbied en hy, asook ander lede van die Voëlvry-beweging het te midde van groot teenkanting by universiteitskampusse landwyd begin optree.

Die een liedjie wat wel die speelverbod op die album vrygespring het, was die keersy van Ry, wat op ’n solus-sewe vrygestel is net voordat die vervaardiging daarvan gestaak is. “Hillbrow” was dalk nie die beoogde radiotreffer nie, maar dit het só gewild geword dat dit die eintlike treffersnit heeltemal oorskadu het. Dit het ook byval gevind by Johannes Kerkorrel se felste kritici en is ook later deur onder meer Sonja Herholdt en Elvis Blue opgeneem.

Kerkorrel het die Nederlandse hoofstad Amsterdam in 1990 besoek, en “Hillbrow” het byna dadelik ’n treffer in België geword. Hy het ’n solo-toer onderneem en later ook bevriend geraak met die Belgiese sanger Stef Bos. Hulle twee het verskeie kere saam opgetree.

Op 12 November 2002 het Johannes Kerkorrel sy eie lewe in die ouderdom van 42 geneem.

The post Hillbrow appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico