Hiert, jou nalekoker

Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot
Maart 16, 2019
Kom sit aan vir ʼn Pretoriase lees-fees
Maart 16, 2019

Deur Neels Jackson

Boerneef het oor hulle gedig en Laurika het dit gesing: “bloues en rooies en miskien ook geles”.

En vandag, meer as ooit, is die “groot aardigheid” van naaldekokers besig om natuurliefhebbers se belangstelling te prikkel.

Suid-Afrika is geseën met ‘n wonderlike natuurerfenis. En mense wat regtig in die natuur belang stel, weet dié rykdom strek veel wyer as die vyf grotes. Daarom dat so baie van hulle voëlkykers word.

Maar daar is nog meer, baie meer: reptiele, paddas, vlinders, spinnekoppe, bome, aalwyne, grasse… Dit word ‘n lang, lang lys. Onder al dié groepe is die naaldekokers besig om al meer belangstelling te lok.

Dit kan ‘n mens onder meer sien aan die meer as 3000 foto’s van naaldekokers en die naverwante waterjuffers wat in Desember op die virtuele museum (vmu.adu.org.za) gelaai is.

Die virtuele museum is ‘n webwerf van die Universiteit van Kaapstad waarop Jan en San Publiek foto’s kan laai van allerlei organismes – van soogdiere tot orgidee, en van paddas en reptiele tot by miskruiers. Jy laai die foto, dui die spesie aan as jy kan, en sê waar en wanneer jy die foto geneem het. Die museums vir Odonata (dis nou nalekokers en waterjuffers) en vlinders is verrweg die besigste.

Die inligting in die museums help wetenskaplikes om te bepaal waar hierdie organismes voorkom, en in die geval naaldekokers, om te sien wanneer hulle vlieg.

Want naaldekokers se lewensiklus neem hulle deur ‘n metamorfose voordat die volwasse “bloues en rooies en miskien ook geles” hulle verskyning maak. Dié siklusse is soms seisoensgebonde, sodat party naaldekokers net sekere tye van die jaar vlieg – wat van spesie tot spesie verskil.

Natuurlik moet ‘n mens die spesie (en daar is by die honderd soorte naaldekoker en nog byna 70 soorte waterjuffer in Suid-Afrika) leer uitken – en dit is nogal ‘n ding.

Neem kleur byvoorbeeld. Dis heelwat ingewikkelder as wat Boerneef jou laat vermoed. ‘n Gelerige een kan byvoorbeeld ‘n rooie se wyfie wees. En rooies bly nie rooi nie. Met ouderdom verander hulle kleur.

‘n Mens leer om te kyk na die grootte van ‘n naaldekoker, na die vorm van sy agterlyf, die merke op die borsstuk, die kleur van die groot oë, die verskillende vlekke wat op die vlerke is of nie daar is nie, die are op die vlerke, selfs na die vorm van party mannetjies se sekondêre geslagsorgane.

Sekondêre geslagsorgane? Ja, want naaldekokers en waterjuffers het ‘n baie interessante manier van paar. Die mannetjie gryp die wyfie met die grypers aan die punt van sy stert agter die kop, sodat sy soos ‘n sleepwa ager hom aankom. Elke mannetjie se knypers is so gevorm dat dit net op ‘n wyfie van sy eie spesie pas.

In dié “sleepwaposisie” kan die mannetjie se primêre geslagsorgaan wat by die punt van sy stert sit, natuurlik nie bykom by die wyfie s’n agter aan haar agterlyf nie. Daarom dat die mannetjie, voordat hy die wyfie gryp, sy stert ombuig en sy saad bêre in ‘n soort beursie (die sekondêre geslagsorgaan) aan die onderkant van die tweede segment van sy agterlyf.

Die wyfie buig dan, nadat sy gegryp is, haar agterlyf om tot by die mannetjie se saadbeursie en gaan haal sy saad daar voordat sy kan eiers lê.

Een van die lekkertes om naaldekokers beter te leer ken, is die mooi Afrikaanse name van die verskillende spesies. Daar is byvoorbeeld drie rooies wat “blosies” genoem word: ‘n breë blosie, ‘n kleinblosie en ‘n rotsblosie. Een met ‘n veelkleurige agterlyf word ‘n narbroekie genoem. Dan is daar ‘n boswagter, ‘n bontkolletjie, ‘n baardmannetjie, ‘n rooinerfie en ‘n fladdergesie – om nie van al die verskillende skeppers, venters en bottelsterte te praat nie.

Die mense sal dalk dink ons is gek, maar vir naaldekokerkykers is dit ‘n avontuur om dié klein blitse – “dissie wind / dissie wind geswind” – te leer ken.

The post Hiert, jou nalekoker appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico