Hierdie drama beskik oor talle lae

Nog op ons boekrak Augustus/September
September 13, 2021
Fiksie sonder grense
September 13, 2021

Titel: Dans van die Watermeid (Drama)

Skrywer: Amee Lekas

Uitgewer: Protea Boekehuis

Resensent: Carla van der Spuy

Dis altyd verblydend om ’n jongmens met skryftalent raak te lees.

Die jeugdige Amee Lekas (28), ’n drama-onderwyseres, moes hierdie drama wat in 2018 die Fleur du Cap-prys vir inheemse teks onder die mentorskap van Saartjie Botha gewen het, minstens drie jaar gelede al geskryf het.

Dit was verstandig om die drama in haar “asvaal” grootworddorpie Willowmore in die Karoo te laat afspeel. ’n Plek wat sy ken en waar die mense volgens die boek se agterblad gelowig – en selfs meer bygelowig is. Vandaar die vertroue in die mitiese watermeid. Mits jy natuurlik baie mooi kyk, sal hierdie misvormde halfmens, halfviswese verlossing bring. Slegte voorbodes word egter ook aan haar toegeskryf.

Die drama wat pas in boekvorm gepubliseer is, kon destyds nie genoeg geloof word nie. So het Marina Griebenow van Die Burger geskryf oor Lekas se eiesoortige stem wat uiting vind in die taal van haar heimat, terwyl Mercy Kannemeyer weer in Litnet skryf dat Die dans van die Watermeid ’n sterk en goeie voorbeeld van teater is wat die samelewing kan transformeer.

Dis ware woorde. Skrywers is nie net daar om te amuseer en in te lig nie, maar ook om denke te beïnvloed. Hoeveel keer word nie in ons land op veral plekke soos die Kaapse Vlakte gevra wanneer die seksuele teistering/aanranding/verkragting van kinders gaan ophou nie? Die tragiese waarheid is dat dit in alle gemeenskappe voorkom, maar nie alle gemeenskappe is ewe uitgesproke daaroor nie. Dis iets wat lewenslank letsels laat en selfs tot posttraumatiese stres kan lei.

Lekas pak moeilike en aktuele onderwerpe soos die (veronderstelde) rol van die kerk en verkragting as sentrale tema vreesloos aan. Die drama spreek ook verlies, familie en die weerloosheid van ’n kind aan. Hierdie drama beskik oor talle lae – mensweesdinge waarmee baie in ons land sukkel; van werkloosheid en sosiale stigma tot homoseksualiteit. En die ambivalente rol wat die kerk soms vertolk.

Uit onderhoude blyk dit dan ook duidelik dat hierdie jong skrywer besef watter verantwoordelike taak en invloed ’n skrywer het wanneer hierdie euwels waaroor gewoonlik soos die graf geswyg word, belig word. ’n Gedramatiseerde weergawe waar die fiktiewe slagoffers anoniem bly, kan ’n reuse-impak op die gewete van sosiale euwels hê.

Die mense is radeloos en alle hoop word gevestig op die koms van die watermeid wat die kinders moet red. Die woord “meid” word natuurlik vandag as taboe en kwetsend beskou, maar mens lei af dat dit in die konteks van die drama nie onvanpas is nie.

Dinge raak egter uiters verwikkeld as die einste oortreder ’n gesiene figuur in die gemeenskap is – niemand anders nie as die swygsame dominee. En dit in ’n milieu waar die ouer mense optree asof hy net ’n stralekrans kort.

Mens verkneukel jou in Lekas se spontane dialoog en uitbeelding van gebeure wat van roerend tot uitbundig en lighartig wissel. Soos die ouma wat so haar “spray” vir die gay kleinseun moet wegsteek en vir die dominee wat tog so op getroue kollektebydraes gesteld is. So sê die ouma by wie die predikant behoorlik boer: “Nee, nee, dominee. Silwer is vir die gowwermint en bruin hoort by die Here.” En die dominee wat verklaar: “Hierdie dog kôller se eise is te hoog.”

Die gay man is ook glad nie op sy bek geval nie. Na ’n begrafnis wil hy ewe weet: “Hoekom bak hulle nie ’n slag plaatkoekies vir lewende mense nie, huh? Ek meen maar nou. Die kerkmense is meer betrokke by die dooies. As jy my vra, cater hulle vir die name op die bedankings waar al die begrafnisgangers die lof kan hoor.”

Mens leer ook van ’n kultuur waar gepraat word van “inkat” (’n belofte met pinkies ingehaak as simbool), “pennieslaan” (’n ou gebruik as fondsinsameling waar ingesamelde bruin sente op ’n tafel geslaan word terwyl die susters sing en dans) en “pleis” (om tuis/gemaklik te voel.)

Die dans van die Watermeid is ’n belangrike drama. Hopelik word dit eendag as die Covid-19 onder beheer is, weer en weer opgevoer.

The post Hierdie drama beskik oor talle lae appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico