“Het Gymnasium”, Paarl

Die Drukpers van die Genootskap van Regte Afrikaners, Paarl
January 18, 2018
Die Kleinbosch-begraafplaas, Daljosafat
January 19, 2018

Foto: Gribble & Seuns, Paarl • “Het Gymnasium”

Die ou skool “Het Gymnasium” is geleë aan die bergkant van Hoofstraat naby die kruising met Lady Greystraat.

Hierdie skool, wat die basis is van die onderwys van die Paarl, is onafskeidbaar verbonde aan die naam van die indrukwekkende godsman, ds. G.W.A. van der Lingen. Hy is op 5 Julie 1831 hier as Ned. Ger. predikant aan die Paarl bevestig en het die gemeente 38 jaar lank bedien. Hy het die onderwys as die taak van die kerk gesien: “Het onderwys harer kinderen” so het hy gesê, “behoort bij de Kerk, niet bij den Staat”. Teen die “Public Schools” van die tyd het hy hom dan ook veral verset omdat hulle op godsdienstige gebied kleurloos was en omdat die voertaal uitsluitend Engels was.

Die stigting van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch sonder dat aan die versoek van ds. Van der Lingen voldoen is dat die voortgesette gebruik van “het Nederduitsch:  aan die Kweekskool gewaarborg moet word, het ’n sekere mate van ontevredenheid in die Paarl veroorsaak. Die gevolg was ’n beweging om ’n tweede “Academie” in die Paarl te stig. Ds. Van der Lingen was hierteen gekant, maar het geweet om die beweging in die rigting van sy lang gekoesterde ideaal, ’n kerkskool met Nederlands as medium, te lei. In Desember 1857 word dan ook die oprigting van die nuwe skool in die Paarl in De Zuid-Afrikaan aangekondig. Die skool moes voorsien in “de opleiding van jongelieden voor een Theologische Kweekschool of voor een der Academien in Europa …”

Op 12 Januarie 1858 is die skool met drie onderwysers geopen, twee van hulle was J.S. de Villiers vir Engels en A. v. d. Hoop vir Klassieke Tale, Ou Geskiedenis en Mitologie. Die voertaal was Nederlands en benewens die vakke hierbo genoem was moedertaal (Nederlands) en godsdiensonderrig ’n vanselfsprekendheid. Om hierdie rede wou die destydse regering dan ook geen toelaag aan die skool verleen nie. Ds. Van der Lingen se lakonieke reaksie daarop was: “Myn gemeente heeft ook de bedelbeurs niet van node”.

Die fondse vir die skool het uit twee bronne gekom – die kas van die Paarl-gemeente en die sak van ds. Van der Lingen self. Met die fonds is die statige ou hoofgebou opgerig. Doelbewus is die Egiptiese boustyl gekies en op die mure is Egiptiese figure en tekens ryk in simboliek, aangebring: Sfinkse giet die geleerdheid in ’n beker en die horlosie-opening met die heilige kewers daaromheen versinnebeeld tyd en ewigheid. Die spreuk “Sol justitiae illustra nos” oor die voordeur herinner sterk aan die skool se verband met die ou strooidakkruiskerk van die gemeente Paarl, waar dieselfde spreuk op die wesgewel pryk.

Hierdie skool was voorbestemd om belangrike rol te speel in die stryd om die behoud van Hollands en in die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die grondslag daarvan was natuurlik ds. Van der Lingen se besondere voorliefde vir Hollands, en sy aanstelling van slegs Hollanders as onderwysers. Onder hierdie onderwysers was die bekende Arnoldus Pannevis, wat in 1866 hierheen gekom het en soms die grootvader van die Afrikaanse Taal genoem word. Sy grootste verdienste is egter daarin dat hy die leiers van die Eerste Taalbeweging o.a. ds. S. J. du Toit, gevorm het.

Ds. Van der Lingen is in 1869 oorlede en in, 1875 het ’n tweede Ned. Geref. gemeente, Noorder-Paarl, met ds. S.J. du Toit as predikant, tot stand gekom. Die eredienste is aanvanklik in die Gimnasium gehou, terwyl die linkervleuel as pastorie gedien het. Hier is prof. J.D. du Toit, beter bekend as Totius, gebore. In hierdie gebou is ook die meeste vergaderings van Die Genootskap van Regte Afrikaners gehou en het die drukpers van die Genootskap ’n lang tyd ’n heenkome gevind.

In 1891 het die Genootskap van Regte Afrikaners sy vergaderings gestaak, maar in 1895 is besluit om die twintigste verjaardag van die Genootskap by wyse van ’n groot Afrikaanse taalkongres te vier. Hierdie kongres het op 15 Januarie 1896 in die Gimnasium onder die voorsitterskap van ds. S.J. du Toit plaasgevind en dit was by hierdie geleentheid dat besluit is tot die uitgee van ’n tydskrif met die naam Ons Klijntji.

Die gees van Afrikaans het van die ou Gimnasium onkeerbaar deurgedring tot die universiteite. Die eerste professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, J.J. Smith, was ’n leerling van die Gimnasium ewe as sy latere kollega, E.C. Pienaar. Selfs die eerste professor in Afrikaans aan die Universiteitskollege van die O.V.S. en in Suid-Afrika, D.F. Malherbe, was gedrenk in die tradisies van die Regte Afrikaners.

(Geproklameer 1968)

 

Foto: Gribble & Seuns, Paarl • “Het Gymnasium”

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 90-91.