Hertzog wen ’n verkiesing

Byna “rooi revolusie” aan die rand
January 22, 2015
Bloeitydperk van Nasionalisme
January 22, 2015

Die Randse vakverbond het die staking afgelas en die kamer van Mynwese het op sy eie voorwaardes soveel wit werkers in diens geneem as wat hy nodig gehad het. Die goudmyne het begin floreer en groot winste gemaak, maar duisende mense was werkloos.

Tydens die opstand het Nasionaliste die stakers van kos voorsien en andersins gehelp. Die Arbeidersparty het dit gewaardeer, en daar het ’n toenadering ontstaan tussen dié party en die Transvaalse Nasionaliste. In die Volksraad het die twee partye die regering skerp aangeval oor sy aanvanklike traagheid, gevolg deur sy verregaande, roekelose onderdrukking van die opstand. ’n Pakt is tussen die twee partye gesluit. Die Arbeiders sou hul beginsel in verband met die sosialisasie van produksiemiddele skrap, terwyl die NP onderneem om nie die band met Brittanje te verbreek nie.

Die verkiesingsooreenkoms was slegte nuus vir die Sappe wat al hoe ongewilder geraak het. Smuts sou egter stemme kon bykry as die oorwegend Engelse Rhodesië by die Unie ingelyf word. Ná onderhandelings is ooreengekom dat, as die (wit) kiesers van Rhodesië toestem tot eenwording, hulle tien setels in die Volksraad kon kry, wat kon toeneem indien die blanke bevolking daar groei. Artikel 137 sou van toepassing word op Rhodesië, sodat Hollands ook daar gelyke regte met Engels sou geniet. Teen Smuts se verwagting in het Rhodesië inlywing met 8744 stemme teenoor 5989 verwerp. Die tien setels, wat die SAP in ’n verkiesing sou verower het, was daarmee verlore.

Die regering het tussenverkiesing ná tussenverkiesing verloor. In drie jaar het sy meerderheid in die Volksraad van 24 tot 10 gedaal. Op 4 April 1924 was daar ’n tussenverkiesing in Wakkerstroom. Die kandidate was AG Robinson, Administrateur van Transvaal, vir die SAP en Andries Naudé, ’n oudstryder wat in die Anglo-Boereoorlog die gebruik van albei bene verloor het, vir die NP. Naudé het 1420 stemme en Robertson 1207 gekry – sodat die NP-meerderheid 213 was. Op Maandag 7 April het Smuts in die Volksraad verklaar dat die regering onseker is of hy nog die vertroue van die land geniet, en onder gejuig van die Nasionaliste en Arbeiders ’n verkiesing aangekondig. Dit het op 17 Junie 1924 plaasgevind. Die Nasionaliste het 63 setels, die SAP 53, die Arbeiders 18 en die Onafhanklikes 1 setel verower. Die meerderheid van die “Pakt” was 28.

Die Burger het verwys na sy eerste hoofartikel: “Ons hoop was nie misplaas nie, ons het die Afrikaner-volk nie oorskat nie toe ons op 26 Julie 1915 kon uitroep: ‘Er ruist door het ganse land een nieuwe stroom. ’t Is de vaste wil om ’n volk te zijn.’”

Baie was verwonderd dat C Louis Leipoldt in Wonderboom, Pretoria, SAP-kandidaat was. Op ’n vergadering het iemand gevra hoe dit kom dat die digter van Oom Gert vertel “vandag op die verkeerde platform staan”. Leipoldt het geantwoord: “Ek staan nog altyd waar ek gestaan het toe ek die seepkissies gesien het – by my volk”. Sy ondersteuners en selfs teenstanders het soveel van sy grappe en manier van verkiesing voor gehou, dat hulle hom na die verkiesing ’n goue horlosie geskenk het!