Heropbou en ontwikkeling

Die transformasie van Suid-Afrika
January 23, 2015
Kerke help ’n ontredderde volk
January 23, 2015

Een van die vredesvoorwaardes was dat die Britte die duisende krygsgevangenes en die duisende vroue en kinders in die konsentrasiekamp na hul tuistes moes terugbring. Die meerderheid krygsgevangenes het eers geweier om te aanvaar dat vrede met verlies van die onafhanklikheid gesluit is. Op St. Helena wou hulle nie die eed van trou aan die Britse koning aflê nie. Generaals Botha, De Wet en De la Rey was verplig om op 2 Julie 1902 ’n telegram aan hulle te stuur om hulle mee te deel dat die vrede werklik gesluit is met verlies van vryheid. In 1903 is De la Rey na Indië om ’n aantal wat die eed van trou geweier het, te beweeg om na hul vaderland terug te kom.

In die tweede helfte van 1902 en die eerste helfte van 1903 is die krygsgevangenes losgelaat en is die een konsentrasiekamp na die ander gesluit nadat die inwoners na hul tuistes teruggestuur is. Die reise per trein, ossewa en perdekar het met groot ontbering geskied. Vir die heropbou van die land wat die Britte so grondig verwoes het, moes hulle £3 miljoen as kompensasie betaal. Daaruit – en dit klink soos ’n onvanpaste grap – moes ook die hensoppers en joiners vergoed word! Dit was duidelik dat niemand ten volle vir sy verliese kompensasie sou kry nie. Generaal Louis Botha het £20 000 geëis en £900 is toegeken. Hy het die geld net so teruggestuur. Baie mense het byna niks uitgekry nie. Griewe oor kompensasie het ’n prikkel geword wat tot nuwe politieke aksie gelei het. Dit was van die hoofsake op Afrikanerkongresse in Pretoria en Brandfort in 1904.

Die laaste besluit van die afgevaardigdes by Vereeniging was om generaals Botha, De Wet en De la Rey na Europa te stuur om hulp vir die weduwees en wese te kry. Ná besoeke aan Nederland, België, Parys en Berlyn is sowat   £125 000 ontvang. Van belang was die hulp van Kaapse Afrikaners. Reeds in die oorlog is £62 778 vir gewondes, weduwees en wese uit die republieke ingesamel. Ook ná die oorlog het Kapenaars soveel gegee as waartoe hulle in staat was. Dominee CD Bam van die Vrystaat het op 22 Oktober 1903 op die Kaapse NG Sinode gesê: “Duisende ponde, duisende stuks vee het van u na ons gekom om ons in ons lyding te help. Toe ons dierbare vroue, wat in die kampe opgesluit was, weggesterf het, het u, het u kerk, het die Moederkerk vir hulle gedoen wat in sy vermoë was.”

Die mense het met alle mag gewerk om die skade te herstel. “Nog nooit tevore  – en ook seker nie daarna nie – het duisende Afrikaners so geswoeg en geslaaf as van 1902 tot ongeveer 1906 nie,” skryf GD Scholtz. In kort tyd het daar ’n nuwe Vrystaat en ’n nuwe Transvaal “soos twee fenikse uit die as en puin” ontstaan. MCE van Schoor vertel van die Boervrou wat onder die plankvloer van ’n afgebrande huis ’n bietjie koringkorrels gevind het. Sy het dit geplant, en met die skrale oesie daarvan kon die gesin weer met die heropbou van die plaas begin.

Generaal Hertzog het in 1906 die toestand met dié van vier jaar tevore vergelyk. In 1902 was alles doods. “Buite die dorpe en kampe kon mens dae lank gaan sonder om mens of dier teë te kom.” Maar nou het die platteland en die dorpe vooruitgegaan. “Ons het ’n nuwe tydvak ingegaan. Hierdie vooruitgang is te wyte aan die karakteristieke eienskappe wat die Afrikaanse volk besit, eienskappe wat die volk sal bewaar van ondergang.”