DIE VERHAAL VAN JOHANNA BRANDT, DIE BOERESPIOEN, SOOS VERTEL IN “DIE KAPPIE KOMMANDO OF BOEREVROUWEN IN GEHEIME DIENST”
February 27, 2017
TOT WAAR DIE KRANSE ANTWOORD GEE
March 1, 2017

resensent: Petronel Fourie

 

“Die funksie van geskiedenis is om wysheid en ervaring tot elke geslag se beskikking te stel. ’n Lewenskragtige en onafhanklike geskiedskrywing is meer as ’n kulturele ornament. Dit is ’n onmisbare agent vir wyse en suksesvolle aksie in alle menslike probleme. Op sy beste is geskiedenis die plek waar alle kennis ontmoet.” – CW De Kiewiet

Afrikaner. Liberalis. Akademikus. Oorbeligte. Historikus. ’n Slang in ons midde. Dít is ’n paar van die benamings wat oor die loop van ses dekades heen aan Hermann Giliomee toegeskryf is. Ná die lees van sy outobiografie wil ek nog een byvoeg: trotse Afrikaner. Altyd op soek na die ontwykende waarheid tydens die land se stormagtigste jare. Sy lewensverhaal is op sigself ’n landsgeskiedenis in die kleine.

Giliomee se outobiografie vertel van uiteenlopende ervarings wat hom as mens, landsburger en historikus gevorm het. Hy vertel van sy eie grootworddae en studentedae, maar die kern van die verhaal wentel om sy jare lange persoonlike en akademiese verhouding met Afrikaans en Afrikaners.

Hy onthou gelukkige kinderjare op Porterville in die Wes-Kaap, waar sy pa ’n geskiedenisonderwyser was. Dít is by wie hy sy liefde vir die geskiedenis gekry het. Sy ouers het hul lewe aan die opbou van die Afrikanergemeenskap gewy – hulle was onbeskroomd Afrikaans. Deelname aan die volksbeweging het hom gevorm.

Giliomee het in 1967 as dosent van geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch ingeval. Sy loopbaanpaadjie het baie anders verloop as wat hy gedink het dit sou. Voor hy in 1973 vir ’n jaar na die Yale-Universiteit vertrek het, was sy plan om tot sy aftrede by Stellenbosch se geskiedenis-departement aan te bly. Verder wou hy veral in die Afrikaanse debat oor apartheid en nasionalisme betrokke raak. Tien jaar later was hy verbonde aan die Universiteit van Kaapstad as professor in politieke studies, ’n vak waarin hy nooit gestudeer het nie, en het hy feitlik net Engels in sy populêre en akademiese skryfwerk gebruik.

Die belangrikste les wat hy op Stellenbosch geleer het, is dat geskiedskrywing net waardevol is as ’n mens alles probeer om die waarheid vas te stel en nie probeer om hierdie waarheid in diens van ’n bepaalde politieke saak te stel nie. Hy glo dat geskiedskrywing in Suid-Afrika sentraal tot ons hedendaagse politiek is, met interpretasies van die geskiedenis wat ’n deurslaggewende rol speel.  

Giliomee het in sy navorsing veral op die Afrikaner gefokus, met die baanbrekersboek The Afrikaners: Biography of a People wat daaruit voortgespruit het. Toe hy in 1992 met die boek begin, het hy voor ’n groot uitdaging gestaan: “Is dit vir my moontlik om onbevange oor die Afrikaners te skryf?” Hy wou nie as ’n nasionalistiese historikus skryf nie, maar wel as historikus wat sy Afrikaanse agtergrond nie wegsteek nie. Sy omvattende navorsing oor die Afrikaner was uit ’n kritiese eerder as lojale oogpunt gedoen – professioneel aangepak eerder as polities-gedrewe.

Nadat die boek in 2003 verskyn het, is hy dikwels gevra wat deurslaggewend in die Afrikaners se opkoms in die twintigste eeu was. “My antwoord was altyd: moedertaalonderwys en toegewyde onderwysers.”

Giliomee getuig meermale in sy outobiografie dat Afrikaans hom die persoon gemaak het wat hy is, omdat dit hom in staat gestel het om universele kennis in sy eie taal baas te raak. “Dit beteken ’n vereenselwiging met ’n nie-rassige Afrikaanse gemeenskap, met al sy deugde en ondeugde, en die oortuiging dat ek my suiwerder en meer oorspronklik in Afrikaans op skrif en in gesprek uitdruk as in Engels. Dit het ’n onlosmaaklike deel van my maatskaplike identiteit geword.”

Hy het hom op verskillende maniere beywer vir die behoud en uitbou van Afrikaans. In 1984 stig hy saam met André du Toit die vaktydskrif Die Suid-Afrikaan en in die laat 1990’s is hy stigterslid van die Afrikaanse Oorlegplatform, ’n organisasie wat vir taalregte sou veg. Hy was ook nou betrokke by die taalstryd aan die Universiteit van Stellenbosch, waar daar vir ’n dekade gestry en oplossings aangebied is om Afrikaans as voertaal te behou.

Daar is baie in die Afrikanergeskiedenis van die afgelope honderd jaar waarop Giliomee trots is en ook baie waaroor hy skaam is, gebeure wat hom as mens en akademikus gevorm het. Sy boek bevat opsommings van sy eie en ander akademici se sienings oor die jare heen, verhalend vertel, en hoe hulle mekaar geskaaf en beïnvloed het.

Hoewel ’n skerp oog ongelukkig enkele gevalle van spel- of tikfoute, asook onnodige herhaling raaksien, getuig die inhoud van hierdie outobiografie van kennis en wysheid wat net met grysheid opgedoen word. Dit beskryf die woelinge op universiteits- en landsvlak oor ses dekades heen uit persoonlike ervaring en identifiseer parallelle tussen gebeure in die geskiedenis, soos die bewindsoornames van 1795 en 1994. Dit lewer kritiek waar nodig, dit vereer waar verering toekom en dit doen nugtere nabetragting. Selfs al stem die leser nie met al sy menings saam nie, moet jy respek en waardering hê vir die pad wat Giliomee gestap het.

Omvattend. Krities. Deeglik. Insiggewend. ’n Boek wat gesonde gesprek sal aanwakker. Dít is woorde wat hierdie outobiografie van ’n merkwaardige Suid-Afrikaner beskryf. Lees dit gerus en voeg self nog ’n paar by.

 

Hermann Giliomee: ’n Outobiografie word deur Tafelberg uitgegee.