Herman Bosman (1905-1951)

Herman Bosman

deur Dawie du Plessis

Vanweë die feit dat hierdie begaafde skrywer sy werk hoofsaaklik in Engels gelewer het, word hy dikwels as Afrikaanse skrywer misgekyk, of selfs ontken, en sy naam amper uitsluitlik op Engels as Hurmann Charles Bozmann uitgespreek. Tog is dit dalk veel eerder die geval dat Bosman die vreemde reggekry het deur Afrikaans te skryf, maar in die Engelse taal. Sy karakters, sy verhale, en sy wêrelde is só Afrikaans dat dit inderdaad moeilik is om die teendeel te glo. In menige Afrikaanse huis is oom Schalk Lourens vandag net so bekend as ’n Ampie, ’n Bart Nel, of ’n Saul Barnard.

Bosman stam uit ’n intellektuele en gekultiveerde voorgeslag. Sy oom, Charles Malan, jonger broer van sy ma, was reeds op die ouderdom van 23 aangestel as magistraat op Vryburg. Hy het sy regstudies aan die Victoria College voltooi, waar hy blykbaar bevriend was met CJ Langenhoven. Kort na die Tweede Vryheidsoorlog het die Malans, Herman Bosman sy grootouers aan moederkant, na Potchefstroom verhuis. In die plaaslike koerant het soms gediggies onder die skuilnaam “Pietie” verskyn – stukke van sy oupa Piet. In dié dorp het sy oom Charles ’n regspraktyk begin, en het sy ma begin skool gee by die South School. Al die kinders was nog by hul ouers in die huis.

Maar Elisa het in April 1904 plotseling die dorp verlaat en met Jacobus Abraham Bosman, ’n myner, in die huwelik getree op Kuilsrivier naby Kaapstad. Op 3 Februarie 1905 is Herman Charles toe daar gebore. Die familie was verbaas, maar ook effe verbitterd, aangesien hulle gevoel het Elisa het “benede haar waardigheid” getrou. Later sou sy aan ’n vriendin opmerk dat Herman inderdaad ’n buite-egtelike kind was, en dat sy bloot getrou het om haar kind ’n naam te gee, en haar eie respek te behou. In 1917 het sy met Herman en sy jonger boetie, Pierre, teruggekeer na Potchefstroom, terwyl haar man op Johannesburg gewerk het. Hier by sy grootouers het ’n hegte band tussen hom en sy oom Charles ontwikkel. Die twee het merkbaar na mekaar gelyk, en hulle was absolute geesgenote. Charles sou in 1914 ’n Afrikaanse koerant vir die Suid-Afrikaanse Party, Die Westelike Stem, stig. Hy was ook bevriend met generaal Jan Smuts.

In 1918 is die familie met “Jakoos” in Johannesburg verenig, waar hulle kwalik ’n gesinslewe gehad het, of ten minste – nie ’n huwelik tussen die ouers nie. Hulle het in aparte beddens geslaap, en volgens oorlewering moes Jakoos selfs sy eie kos bymekaar skraap. Dit is in hierdie omstandighede wat sy haar hart aan ’n vriendin uitgestort het – volgens haar was Herman se biologiese pa ’n briljante man, maar iemand met wie sy nie kon trou nie; en dat sy tweede naam, Charles, nie om dowe neute aan hom toegeken is nie. Hoe verbysterend dit ook al mag wees, die mees waarskynlike kandidaat om Herman se vaderskap is sy ma se eie broer Charles…

Bosman was in Jeppe High, en daarna na Houghton College om sy matriek te voltooi. Soos sy medeskrywer C. Louis Leipoldt ’n geslag voor hom, kon Bosman eenvoudig nie wiskunde baasraak nie – wat veroorsaak het dat hy nie sy matriek kon slaag nie. Nietemin het hy aan die Universiteit van die Witwatersrand sowel as die Normaalkollege ingeskryf om sy T2-diploma te verwerf. Hier was hy ontsettend ondeund. Hy het byvoorbeeld by die Kommunistiese Party aangesluit, nie uit beginsel nie, maar bloot om wanorde te saai. Vir ’n poësiekompetisie het hy ’n derde plek behaal, net om later die beoordelaars te beskaam deur aan hulle te wys dat die gedig bloot een van Shelley was! In 1925 behaal hy sy diploma, dieselfde jaar wat Jakoos Bosman sterf in ’n mynongeluk, en sy ma met ’n ryk, Skotse wewenaar trou, ’n hoop wat sy ook aan haar vriendin uitgespreek het.

Bosman trou in Januarie 1926 met Vera Sawyer, aan wie hy homself voorgestel het Herbert Boswell, 26 – sy het verklaar dat sy nooit met ’n jonger man of ’n Afrikaner sou trou nie. Hy vertrek ’n kort rukkie later na die Marico bosveld om daar onderwys te gee. Daar het hy by ’n familie op ’n plaas geloseer, en daagliks saam met die kinders na die plaasskooltjie gereis. Na ’n paar maande gaan hy tydens ’n vakansie na Johannesburg om tyd by sy familie te spandeer. Toe sy broer Pierre een aand slaags raak met een van hul nuwe Uitlander-stiefbroers, skiet Herman die stiefbroer in die slaapkamer dood. Hy was so geskok oor wat gebeur het dat hy sy eie broer en stiefpa gesmeek het om hom te skiet, waarna hy sy keel met ’n kombuismes probeer afsny het. Toe hy kalmeer, is hy in hegtenis geneem. In November 1926 is Herman Bosman ter dood veroordeel.

In die gevangenis het sy oom, Fred Malan, ’n advokaat, die Minister van Justisie Tielman Roos genader om Herman te begenadig. Oud-kollegas en skoolmaats het dieselfde gedoen. Die idee is geskep dat hy van jongs af buie gehad het “waarin hy ’n verminderde besef van verantwoordelikheid getoon het”. Sy vonnis is later verminder na 10 jaar gevangenisstraf. In die gevangenis het hy telke male petisies namens medegevangenes geskryf. Die sukses daarvan het hom laat besluit hom een namens homself te skryf. Die aansoek was suksesvol, en in Augustus 1930 is Herman Bosman vrygelaat uit Pretoria Sentrale Gevangenis. Sy herinneringe van sy gevangenisskap sou later kulmineer in die 1949 werk Cold Stone Jug.

Na sy vrylating gaan woon Bosman ’n ruk by familie op die platteland waar die plaaslewe terapeuties op sy gemoed werk. Hy keer daarna terug na Johannesburg, waar hy deur sy broer Pierre kennis maak met die literêre tydskrif, The Touleier. Die redakteur, Jean Blignaut, was ’n kennis van Bosman op universiteit, en die herontmoeting lei daartoe dat Bosman as literêre redakteur aangestel word. As ene Herman Malan word sy eerste kortverhaal “Makapan’s Caves” in Desember 1930 gepubliseer, en in die opeenvolgende uitgawes is daar nou elke maal van sy Schalk Lourens-stories te vind. Ook “The Children of the Desolate” van sy broer Pierre vervolg in dieselfde uitgawes. Toe The Touleier begin swaarkry, verskyn Bosman (as Malan) se verhale in The New L.S.D. Blignaut het opgemerk dat Bosman se vermoë om sy kortverhale te skryf slegs ingeperk kon word deur sy vermoë op sy tikmasjien. Op ’n wyse wat ander skrywers as “haastig” sou beskryf het die stories uit hom gevloei, sonder dat sy stelkuns enigsins aangetas was.

The New L.S.D. [Life, Sport and Drama] was deur Blignaut en Bosman as ’n “rebelletydskrif” beskou, een waarin hulle as ’t ware als kon skryf waaroor en hoe hulle wou – ’n benadering wat hulle meer as een maal in hofsake laat beland het. Per geleentheid was hulle gearresteer ook. In dié blad het dan ook verskeie van Bosman se mymeringe oor kuns, letterkunde en poësie verskyn. Ongeveer dieselfde tyd wat Blignaut vir ’n redelike langtermyn opgesluit word, tree Bosman (hierdie maal as Herman Malan) in die huwelik met Ella Manson – klaarblyklik is sy huwelik met Vera nooit gekonsumeer nie, en hy het haar ook nooit weer gesien nie. Sy was ’n baie talentvolle pianiste, en die egpaar vertrek in 1933 na Europa waar Ella konsertpianiste wil word. Bosman self was opgewonde om ’n nuwe omgewing met nuwe inspirasies en nuwe stimuli te beleef. Vir ’n tydperk het hy en Ella selfs die huis van Charles Baudelaire geokkupeer. Tog was dit vir hom in ’n sekere sin ’n tydperk van kreatiewe armoede. Dit was werklik asof hy nie sonder Suid-Afrika kon skryf nie. ’n Skoolvriend, Benny Sachs, het einde November 1934 ’n tydskrif soortgelyk aan The Touleier opgerig, naamlik The South African Opinion. Vir dié tydskrif het Bosman herhaaldelik Schalk Lourens-stories gestuur, en sy artikels en essays getuig van ’n diepe verlange na sy vaderland. Ella het nooit ’n professionele pianiste geword nie, en die egpaar het ’n skamele bestaan gevoer. ’n Gerug het later die rondte in Suid-Afrika gedoen dat Herman Bosman oorlede is – soveel so dat sy eie moeder na Engeland gereis het om die feit te probeer bevestig. Een van Bosman se biograwe is van mening dat hy self hierdie storie gefabriseer het ten einde finansiële gewin daaruit te maak. Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het die moontlikheid ingehou van finansiële bystand om terug te keer na Suid-Afrika, ’n geleentheid waarvan die Bosmans gebruik gemaak het.

Met sy terugkeer in Januarie 1940 het Herman Bosman eers uitgevind van sy oom Charles se dood twee jaar tevore. Dit was vir hom ’n swaar slag, en daarby het hy en Ella ’n sukkelaarsbestaan gevoer – hul enigste inkomste is verdien uit skamele artikels wat Herman in tydskrifte kon plaas. Sy moeder, Elisa, is in 1941 oorlede, en het alles aan sy broer Pierre nagelaat. In 1943 kry Bosman sy eerste werklike vaste betrekking deur redakteur te word van die Zoutpansberg Review and Mining Journal in Pietersburg, ’n Verenigde Party-blad in ’n tradisionele Nasionale Party gebied. Waar hy op 21 in die Marico stof versamel het waaroor en waarmee hy kon skrywe, het hy dit ook op 38 in die Noord-Transvaal gekry. Maar dit was nie die stories van geharde Boere van ’n geslag of twee gelede nie – dit was die plattelandse dorpslewe waarvan hy self deel was.

In Pietersburg het hy verlief geraak op Helena Stegmann, ’n onderwyseres agt jaar jonger as hy. Sy het swanger geraak, en Bosman het ’n plan gemaak, maar Helena moes noodgedwonge hospitaal toe. Bosman is in hegtenis geneem op aanklag van aborsie, maar die aanklag is later laat vaar. Die skandaal het daartoe gelei dat Bosman deur ene Hayes uit Johannesburg vervang is as redakteur van die Zoutpansberg Review. In die interim tydperk het dié Skot selfs by die Bosmans gewoon terwyl die leisels oorgedra word. Binnekort het Bosman se vrou Ella die nuwe inwoner se minnaar geword. Die Bosmans is geskei, Herman en Helena is getroud, en het in Johannesburg gaan woon. Ella se verhouding met Hayes het maar twee maande geduur, en spoedig is sy (op veertig) met ’n man van 25 getroud. Omdat Herman nog ’n gevoel van verantwoordelikheid teenoor Ella gekoester het, het Ella en haar man hul intrek by hom en Helena geneem! Drie maande na haar huwelik is Ella oorlede vanweë ’n buisswangerskap.

By Helena het Herman Bosman weer die Afrikaanse kultuureie leer ken. Deur haar is hy blootgestel aan die Dertigers en hul werk, ’n verskynsel waarvan hy nie bewus was tydens sy oorsese verblyf nie. Hy was ’n voorstander daarvan dat alle kuns aan internasionale standaarde moes voldoen, en geen prosa as letterkunde of verse as poësie beskou moet word bloot omdat dit Afrikaans is nie. In Johannesburg het Bosman weer by die Opinion gewerk, en verskeie opiniestukke, veral oor die letterkunde gepubliseer. Sy verbeterde kennis van en beheer oor Afrikaans het hom in staat gestel om (soos Langenhoven ’n geslag vroeër) die Rubáiyát van Omar Khayyam in Afrikaans oor te sit. In Januarie 1947 word sy eerste vollengte roman, Jacaranda in the Night, gepubliseer. Later in 1947 verskyn ook die eerste versameling van Bosman se kortverhale in boekvorm – Mafeking Road. Januarie 1949 verskyn sy outofiktiewe tronkroman Cold Stone Jug. In April 1950 begin hy skryf aan sy “Voorkamer”-stories wat in The Forum verskyn.

Ongeveer hierdie tyd het Herman Bosman begin voel dat sy gesondheid aan die afneem is, ’n gevoel wat bevestig is deur die feit dat hy ’n aantal hartaanvalle in ’n betreklik kort tydperk gehad het. Onder die waan dat sy tyd min word het hy begin werk aan wat hy voel sy magnum opus sou wees – Willemsdorp. Hierdie roman sou ook op die platteland afspeel, maar die intrige, die karakters en die tematiek sou soveel groter wees as in Jacaranda in the Night. Die roman sou nooit die lig sien in Bosman se leeftyd nie. Hy sterf op 14 Oktober 1951. Willemsdorp verskyn die eerste maal in 1977 in druk.

Herman Charles Bosman was alles behalwe ’n deursnit Afrikaner. Sy familie het hulle tydens die Tweede Vryheidsoorlog by die Engelse geskaar; hy was ’n gevangene met onskuldige bloed op sy hande; hy was waarskynlik gebore uit ’n bloedskandelike verhouding; hy was nie geaffilieer met enige kerkverband nie; en hy was hoofsaaklik bevriend met Engelse en Jode. Tog was hy die man wat die Afrikaanse veld, Afrikaanse volkslewe en die Afrikaanse siel só juis kon vasvang in prosa:

  • Also, he seemed to be very much interested in her. You do get like that, when there is suddenly a bright morning after long rains, and a low wind stirs in the wet grass, and you feel, for a little while, that you know the same thing that the veld knows, and in your heart are whisperings.
  • I told him to beware of the moon, which was almost full at the time. Because the moon can do strange things to you in the Bushveld, especially if you live in a tent and the full moon is overhead and there are weird shadows amongst the maroelas.
  • Everyone stopped drinking to look at the rose in my hat. The young men made jokes about it. The older men winked slyly and patted me on the back. During the rest of the night I was a hero. The men in the kitchen made me sit on the table. They plied me with brandy and drank to my health. And afterwards, when a dozen of them carried me outside, onto an ox-wagon, for fresh air, they fell with me only once.
  • I was a small child then […] I thought Oom Gysbert had something to do with God. I thought so from his voice and from Bible pictures I had seen of holy men, like prophets, who wore the same kind of beards […] And afterwards, when we drove home again, and my father and uncle spoke of Oom Gysbert, they both said he was a real old Pharisee. From that I was satisfied that I had been right in thinking of Oom Gysbert as a Bible person.
  • I also realized that it was no use my asking Gerrit van Biljon any more direct questions. So I tried sideways, in the manner in which De Wet, after studying the ground, brought his commando round to that part of Sanna’s Post where the English general did not want any Mauser bullets to come from.
  • Ben Myburg had recently been married to Mimi van Blerk, who came from Schweizer-Reneke, a district that was known as far away as the Limpopo for its attractive girls.

Bosman het homself altyd as ’n digter beskou, en die gawe van digterstalent geag as ’n Godgegewe vorm van waansin slegs vir die élite bedoel, en bó die begrip van die massas. ’n Skoolvriend sou later oor Bosman opmerk:

There are two kinds of misfits: those who are deficient in the elementary qualities of adapdability, and those who are over-endowed. Bosman belonged in the second category. The voltage he carried was too high.

Verdere leesstof:

 

  • Gray, G. 2005. Life sentence: A biography of Herman Charles Bosman. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Rosenberg, V. 2005. Herman Charles Bosman: Between the Lines. Kaapstad: Struik.
  • Sachs, B. 1971. Herman Charles Bosman as I knew him. Johannesburg: The Dial Press.