Herlewing van die boukuns

Gedenktuin vir ABO-kampslagoffers by Oorlogsmuseum geskep
February 10, 2015
Die eerste botsing tussen wit en swart
February 12, 2015

Hoewel die einde van die Hollandse tyd nadergekom het, was die 1780erjare vet jare vir die Kaap, eers weens die teenwoordigheid van ’n Franse garnisoen en daarna die spandabelheid van die bewind. Goewerneur Jacob van de Graaff het nuwe verdedigingswerk aangepak en ’n groot nuwe hospitaal is aangebou. Hy het met regeringsgeld gemors. Heelparty soldate moes aan die Kaap bly, en die skepe wat gekom en gegaan het, het van Kaapstad ’n “Klein Parys” gemaak. Pragtige koetse het deur die hobbelrige strate gery en in draagstoele het Kapenaars in deftige Paryse klere besoeke by mekaar afgelê. Kosbare meubels, glaswerk en porselein het in Kaapse huise gepryk. Danspartye en opvoerings was volop.

’n Besoeker, C de Jong, skryf dat die bouery aan die Kaap nie net ’n liefhebbery was nie, maar “’n drif, ’n dolheid, ’n besmetlike raserny, wat die meeste mense aangesteek het”. Die bloeitydperk vir die ruim grasieuse huise in Kaaps-Hollandse styl het omstreeks 1750 begin, dus al voor die vet jare, en tot 1825 geduur. In 1775 was daar in Kaapstad 1200 stewig geboude huise, baie met verdiepings en ’n plat dak. Die huise is gepleister en gewit of met vrolike kleure getint. Langs die strate was eikelanings met lopende waterkanale. Baie losieshuise, eet- en drinkplekke is opgerig, want heelparty inwoners moes ’n bestaan maak uit besoekers.

Mense wat bygedra het tot die boukoors, is die argitek Louis Michel Thibault, die beeldhouer Anton Anreith en die argitek en bou-aannemer Hermann Schutte. Die Frans-gebore Thibault, getroud met ’n Afrikanervrou, was verantwoordelik vir die bouplanne van die drosdye op Tulbagh en Graaff-Reinet, die ou Hooggeregshofgebou in Adderleystraat, die Koopmans-De Wet-huis en talle ander geboue. Schutte was die argitek van die huidige Groote Kerk. Onder Anreith se werke is die preekstoele van die Groote Kerk en Lutherse Kerk. Sy eerste ontwerp vir eersgenoemde het glo drie halfnaakte vrouefigure bevat, wat geloof, hoop en liefde sou voorstel. ’n Paar ouderlinge was oortuig dat die ontwerp ongodsdienstig, onbetaamlik en Rooms was. Anreith het gemompel dat die ouderlinge net iets weet van leeus, wolwe en ander ongediertes. Sy volgende ontwerp het die leeus bevat.

Die gewels was die belangrikste kenmerk van die Kaapse huise. Daar was verskeie soorte gewels, wat vroeër ook in Nederland en België gebou is. Nie net die gewels nie, maar ook die groot vensters, voordeur, voorhuis en binneplaas het aan die Europese afkoms herinner. GE Pearse skryf in ’n boek oor die 18de-eeuse argitektuur: “Daar is ’n onverklaarbare betowering in hierdie aantreklike ou huise. Die tekstuur van die gepleisterde mure met dik aangestrykte witsel, laag op laag; die ryk, verweerde houtwerk van die mooi voordeure en groot geluikte vensters; die donker fluweelagtige grasdak; die bekoorlike gewels en die wonderlike purper skaduwees oor die wye muurvlakke – al hierdie dinge teen ’n helder en diep blou lug, met ’n berg- en boslandskap daaragter, skep ’n beeld slegs aan Suid-Afrika eie, wat eenmaal gesien, nooit vergeet kan word nie.”