Herlewing van Afrikanernasionalisme

Oprigting van Naspers
January 22, 2015
Vroue betoog vir generaal De Wet
January 22, 2015

“Daar ruis deur die ganse land ’n nuwe stroom,” het De Burger geskryf. Inderdaad was daar al van Desember 1914 af aanduidings van ’n herlewing van Afrikanernasionalisme ná die onderdrukking van die Rebellie. Dit is die eerste weerspieël in die styging in die sirkulasie van Het Westen, enigste van die Hollands-Afrikaanse koerante wat redelik simpatiek gestaan het teenoor die rebelle. Sy eienaar, Hendrik de Graaf, is van 20 November 1914 tot 6 Februarie 1915 in die Johannesburgse Fort aangehou, waar hy voortgegaan het met sy hoofartikels. Die gevangenes is toegelaat om briewe te skryf, en daarvoor is papier aan hulle verskaf. Om die sensuur te ontkom, waaraan briewe onderworpe was, het De Graaf sy artikels onder die sitplek van ’n toilet geplaas waar ’n bevriende bewaarder dit geneem en aan die redakteur, JH Malan, besorg het.

Van 15 Desember af maak die blad melding van tevredenheid van sy intekenaars oor die hele land. Op 12 Februarie 1915 het generaal De Wet uit die Fort ’n brief aan die redaksie gerig, wat later geplaas is en lui dat die blad oor die hele Suid-Afrika gelees behoort te word. Die leserstal het toegeneem en op 26 Maart 1915 is sy naam verander in Het Volksblad. Dit is in Maart 1916 na Bloemfontein verskuif en het daar in 1917 Die Volksblad geword – tans die enigste dagblad in die Vrystaat.

Die oplewing in nasionalisme was ook merkbaar in die “beweging voor klementie” wat veral ná die vonnis van De Wet momentum gekry het. Baie mense het sy optrede in die Rebellie veroordeel, maar die meeste Afrikaners het hom nog bewonder. Die simpatie vir hom is vergroot deur die dood van sy veelbelowende seun Danie op 8 November 1914 by Doornberg, Allemanskraal, en sy dogter, Elizabeth Johanna de Wet, aan kanker in Maart 1915. Het Volksblad het ná De Wet se vonnis ’n “Generaal De Wet-2/6-Fonds” gestig om sy boete van £2000 te betaal. Teen middel Oktober was daar meer as £4000 ingesamel en die boete van party ander veroordeeldes is ook betaal.

Die saak teen De Wet het ook aandag in die buiteland getrek. Voor die verhoor het ’n komitee van Nederlandse en Vlaamse vroue in April en Mei 1915 handtekeninge ingesamel vir ’n versoekskrif aan die Suid-Afrikaanse regering. ’n Komitee van 20 kunstenaresse, skryfsters, sosiale en politieke werksters het namens meer as 12 000 Nederlandse en Vlaamse vroue gesê hulle veroorloof hulle om teenoor die regering “die oortuiging uit te spreek dat generaal De Wet en sy medegevangenes deur hul toewyding en offervaardigheid vir wat hulle ’n goeie en regverdige saak moet ag, aanspraak mag maak op die eerbied en grootmoedigheid, ook van hul oorwinnende teenstanders.”

’n Beweging van Afrikanervroue is ’n paar dae na De Wet se verhoor begin deur mevrou Hendrina Joubert, die byna 85-jarige weduwee van generaal Piet Joubert. De Wet se vonnis het haar aangegryp en sy het, soos sy later vertel het, “enige dae en nagte in gebed en trane” deurgebring. Iemand het haar aandag gevestig op die geskiedenis van die Ou-Testamentiese koningin Ester toe dié se volk deur uitwissing bedreig was, en sy het besluit om soos Ester iets vir De Wet en die ander rebelle te doen.