Herdenking van 1820 Britse Setlaars deur Afrikaanse nasate: 2020

Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 2
September 1, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 3
September 4, 2020

deur Henry Stone

In 2020 is dit die tweehonderdjarige herdenking van die 1820-Britse setlaars wat ook voorsate van Afrikaners is.

So byna 4000 uit ’n totaal van 90 000 aansoekers is in 1820 goedgekeur vir verhuising vanuit Brittanje na die Kaapkolonie, wat toe net sewe jaar tevore ’n tweede keer onder Britse gesag gekom het. Vir die immigrante het dit hoofsaaklik gegaan om ’n ontvlugting uit die swak ekonomiese omstandighede in Brittanje en die begeerte om vir hulle en hul nageslag ’n nuwe begin te maak. Die Britse owerheid se ietwat verskuilde motief agter die immigrante se vestiging in die Oos-Kaap was om as buffer te dien op die grens van die kolonie langsaan die gebied van die soms aggressiewe Xhosa-stamme. Origens was dit vir die Britse owerheid lastig dat die Kolonie hoofsaaklik Hollandssprekend was en die immigrante moes ’n versterking wees van die Britse element in die Kaapkolonie.

Vir die immigrante was omstandighede ver van wat hulle verwag het en ook vir die Britse owerheid het dinge nie presies so verloop soos hulle beplan het nie, want om mee te begin, het die East Indian met vier geselskappe aan boord, 75 mans en hulle gesinne, 220 siele in totaal, net gevaar tot in Simonsbaai (nou Simonstad). Die skip was vergesel van die Fanny wat net Iere vervoer het, 62 in getal. Die reis was onder primitiewe en gevaarlike omstandighede vanuit die diepste Britse winter via die trope tot in die herfs van Suid-Afrika, waar hulle aan die einde van April aangekom het. In Simonsbaai is die twee skepe beveel om net daar om te draai en terug om Kaappunt na Saldanhabaai te vaar, waar die reisigers uiteindelik na drie en ’n halwe maand op see weer vaste grond onder hulle voete gevind het. Toe is hulle met ossewaens na die omgewing van die huidige Clanwilliam geneem en daar op onekonomiese stukkies grond gevestig. Na ’n jaar is ’n klein groepie van hierdie immigrante wel na die Oos-Kaap geneem, maar die oorgrootte meerderheid het aan die Weskus en op tot in Namakwaland bly woon en geheel en al verafrikaans. So verafrikaans dat talle van hulle nasate Kaapse Rebelle geword het wat tagtig jaar na die koms van die Setlaars aan die kant van die Boererepublieke teen die Britse offensief geveg het.

Op soortgelyke wyse, hoewel in ’n mindere mate, het die Britse setlaars in die Oos-Kaap ook met die bestaande Hollandssprekende bevolking ondertrou en so het Afrikaanse families ook daar die draers geword van Britse name en vanne. Van die vanne het ook soos sommige Hollandse, Duitse en ander Europese vanne oor die rasgrense beweeg. Mettertyd het Afrikaanse nasate van die Britse setlaars oor die hele land versprei. Dieselfde het gebeur met Britse immigrante wat vroeёr of later as die 1820-Setlaars na Suid-Afrika gekom het. ’n Studie van die Afrikaner-genoom, soos wat van tyd tot tyd gedoen word, is dus nie volledig wanneer net die Hollandse, Duitse, Franse, slawe- en inheemse voorouers van die Afrikaners verreken word nie, want daar is ook ’n Britse komponent wat deel vorm van die wortels van Afrikaners, veral na 1820. Vanne soos Kestell, Thom, Craven, Hough, Nicol, Archer, Richards, Robinson, Murray, Griffiths, Hayes, Jackson, Kemp, Bingle, Small, Laker, Shaw, Gilfillan, Fagan, Barnard, Bartlett, Burden, Crouse, Cawood, MacDonald, Dixon, Annandale, Cameron, Langley, Stone, Hudson, Mudge, McFarlane, Graham, Smith en nog letterlik bladsye meer daarvan, is wyd bekend onder Afrikaanssprekendes. En hoeveel Afrikaanse families het nie ’n ma of ’n ouma met ’n Britse van in hulle geledere nie. Daar was ’n tyd toe die Afrikaners as gevolg van Britse onderdrukking van hulle taalregte en die herinnering aan die berugte konsentrasiekampe in ontkenning geleef het van hierdie erfenis, maar dit is mettertyd meer realisties hanteer.

Terug by die hede. Die herdenking vanjaar van die koms van die Britse setlaars tweehonderd jaar gelede, handel dus eintlik vir ’n groot aantal Afrikaanssprekendes, soos vir talle nie-Afrikaners, oor hulle voorgeskiedenis. In die verlede is dit op enkele uitsonderings na deur die Engelssprekende afstammelinge gevier vir wie die handhawing van hulle Britse taal en kultuur nog ’n saak van groot erns was en binne ’n nuwe nasionale eenheidstrewe steeds is. Volgens die betrokke webwerf bestaan ’n 1820 Settler’s Association met 1300 lede as ’n “living memorial which perpetuates the memory of the 1820 Settlers in South Africa.” ’n Komitee is tans aan die werk om die feesviering te beplan, maar die COVID-19 het skadu oor baie van die beplannings getrek. Die vereniging is egter hoofsaaklik in die meer Engelssprekende gebiede gesetel, met ’n hoofkantoor in Port Elizabeth en ’n takkantoor in KwaZulu-Natal. Ook verleen hulle hulp met genealogiese navorsing én aan mense met Verenigde Koninkryk-paspoorte, wat probleme met hernuwing daarvan ondervind. Hulle voertaal is uiteraard Engels.

Die vraag is hoe organisasies in Afrikaanse geledere op die tweehonderdjarige herdenking behoort te reageer. In watter vorm, wanneer, met watter inhoud? In samewerking met wie?

’n Ander saak van groot belang is dat veral die Afrikaanse jeug, te midde van die verlies aan leiding vanuit die skoolkurrikulum, die swygsaamheid by die hedendaagse ouer generasie vreemd, problematies en ontmoedigend vind. Watter leiding gaan hulle in 2020 ontvang om ’n realistiese, krities-waarderende beeld op te bou van die wortels waaruit hulle stam? Watter selfbeeld help ons by hulle bou? Ons erns met die ware evaluering van die rol en bydrae van die voorsate wat ons by die jeug wil inbeeld, word juis by ’n geleentheid soos die herdenking van hulle koms na Afrika, getoets. Swyg ons steeds dood oor ons Britse bande soos oor ’n neef in die tronk? Of praat ons openlik, erkentlik, krities en waarderend oor hulle op daardie dag?

 

Foto: “Die Britse setlaars van 1820 land in Algoabaai”, deur Thomas Baines, 1853.