Hensoppers en joiners

“’n Skynbaar gedoemde nasie”
January 22, 2015
President Steyn se ontsnapping
January 22, 2015

Om die oorlog te beëindig, het die Britte gebruik gemaak van verloopte Afrikaners wat hul volksgenote moes oortuig om oor te gee. Chamberlain het dit in Desember 1900 voorgestel en Kitchener het dit aanvaar. In Januarie 1901 het ’n paar Boere die burgers gaan probeer oortuig. Onder hulle was die 81-jarige oudpresident MW Pretorius, wat meermale deur ander misbruik is. Hy was saam met M de Kock by die kommando van generaal Ben Viljoen. Viljoen het Pretorius weens sy hoë ouderdom en agting vir sy persoon teruggestuur. De Kock is later gevang en gefusilleer.

Wapenneerlêers, of hensoppers, en veral Boere wat in diens van die Britte was, national scouts of joiners, het groot bitterheid veroorsaak. Teen die einde van die oorlog was daar sowat 4000 joiners. Omdat die joiners so goed met hul eie mense se krygstaktiek op die hoogte was, kon hulle die Britte help om teenmaatreëls te tref. Dit was húlle wat die Britte geleer het om nagtelike aanvalle op slapende kommando’s te doen. Joiners het dikwels as bewakers van konvooie opgetree omdat hulle makliker as die Britse soldate met die diere kon werk. Dikwels het joiners wreed opgetree teen Boervroue en kinders wat hulle na die kampe weggevoer het. In die Winburg-omgewing het joiners en gewapende swartes onder OM Bergh huise afgebrand en vroue en kinders gemolesteer.

AM Grundlingh behandel in Die hendsoppers en joiners die rol en optrede van hierdie mense. Baie was bywoners of ander armes wat maklik omgekoop of gemanipuleer kon word om in Britse diens te tree. Hulle het hul optrede wel probeer verskoon met mooi rasionaliserings. Een van hulle het lank ná die vrede nog gesê dat hy aangesluit het om die oorlog tot ’n einde te help bring. “Dit was uit liefde vir my land. Ek was ’n ware patriot gewees.”

Die bekendste leiers van die joinerkorpse was Piet de Wet, SG Vilonel, APJ Cronjé en JG Celliers. Eersgenoemde was die bekendste, veral omdat hy ’n jonger broer was van die beroemde generaal Christiaan de Wet. Piet de Wet en ses lede van sy staf, onder andere sy stafoffisier, Thomas Craven, het op 24 Julie 1900 met die Britte onderhandel en op 26 Julie oorgegee. Hy het tot die Britse militêre diens toegetree. Die breuk met sy broer was finaal. In ’n ope brief, Broeder tot broeder, betoog hy dat hy openlik met sy broer en Steyn oor oorgee gepraat het en dus geen verraaier is nie. Vilonel is in Junie 1900 deur die Boere gevang, skuldig bevind aan hoogverraad en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy het geappelleer, maar sy vonnis is bekragtig. Hy het kort daarna by die kommando van generaal Prinsloo uitgekom wat in Julie oorgegee het. In Transvaal was generaal Andries Cronjé, broer van generaal Piet Cronjé, die vernaamste joinerleier. Hy en 150 manskappe het op 14 Junie 1900 oorgegee, en enkele maande daarna met die Britte begin saamwerk. Celliers (nie te verwar met generaal J Celliers van die Vrystaat of generaal JG Celliers van Lichtenburg nie) was dapper, maar roekeloos en ’n misdadiger. Hy is in 1891 tot twee jaar tronkstraf weens strafbare manslag gevonnis, en ook die Britte het hom nie vertrou nie.