Henry Wolhuter steek ’n leeu met ’n mes dood

Dr. Hans Merensky
May 3, 2017
Apartheid: Die verhaal in vier dele
June 19, 2017

(Geskryf deur dr. P Naude, soos verskyn in Historia Junior, November 1962)

’n Mens sou dit amper nie glo nie, as jy nie daar in die Krugerwildtuin die einste plek kan sien nie waar die heldeverhaal afspeel. Daar is die plek waar die leeu veldwagter Wolhuter en sy perd bespring het en daar die plek waar hy die leeu doodgesteek het. As ons hierdie historiese plekkie in die wildtuin besoek, wil ’n mens graag weet hoe dit alles gebeur het.

Op ’n koue namiddag in Augustus 1903 was veldwagter Henry Wolhuter te perd op pad na sy kamp. Hy kom van die oostelike gedeelte van die streek aan die Olifantsrivier en word vergesel van drie Bantoewagte en sy drie boerhonde. Hy het die omgewing goed geken en het nie leeus verwag nie. Terwyl hy aanstoot huis toe, het hy gemerk dat daar iets in die bosse beweeg. Onder die vermoede dat dit rietbokke was wat op loop gegaan het, het die veldwagter maar aangery. Skielik gewaar hy egter twee leeus, een aan elke kant. Hulle was besig om hom te bekruip. Daar was nie kans om te skiet nie en hy druk sy spore in die perd se sye. Maar voordat die dier op spoed was, het Henry Wolhuter gevoel hoe een van die leeus op die perd se kruis te lande kom. Die harde slag het die arme dier so te sê onderstebo geruk, sodat die ruiter uit die saal gelig is. Die tweede leeu was ook nou by en heel toevallig kom Henry Wolhuter op hom te lande. Die leeu gryp hom aan sy regterskouer en sleep hom weg. Daar hang hy nou onder die leeu met sy kop hier teen die Maanhaar se keel, terwyl sy bene tussen dié van die leeu sleep. Kort-kort trap die leeu hom op sy arms hier tussen sy voorpote en maak lelike wonde. As sy spore êrens aan die bossies vashaak, gee die leeu so ’n ongeduldige pluk en slaan sy kake vaster om Wolhuter se skouer. Die pyn was ondraaglik en Henry Wolhuter het gedink sy einde is daar. Toe val dit hom by van sy mes. Hy voel na waar sy mes in die skede steek, en gelukkig is dit nog daar. Versigtig vat hy die mes met sy linkerhand agter om sy rug vas en voel versigtig waar die blad van die leeu is. Hy moet nou nie wild rondsteek nie, maar net in die hart. Hy druk sy kop styf teen die mane, kry die regte plek en steek twee vinnige houe agter die linkerblad. Die leeu gee ’n verwoede brul, maar voordat hy kan padgee, kry hy ’n derde steek in die slagaar, sodat die bloed uitspuit. Die leeu het dadelik laat los en in die bosse verdwyn.

Veldwagter Wolhuter het met groot moeite daarin geslaag om in ’n boom te klim. Die wonde het nog vinnig gebloei en hy was bevrees dat hy flou sou word en afval. Daarom het hy hom met sy gordel aan die boom vasgebind. Dit was ’n verligting toe hy die stuiptrekkings van die sterwende leeu in die aandskemer hoor. Hierdie verligting was egter van korte duur, want die leeu wat die perd agtervolg het, kon die dier nie inhaal nie en het nou brul-brul teruggekom.

Hy het met sy voorpote teen die boomstam gestaan en wou in die boom probeer klim, toe een van die honde opdaag en hom lastig val. Dwarsdeur die lange nag het die getroue hond die leeu aangeval en toe die dag breek, het die leeu sy pogings laat vaar en skuiling elders gaan soek.

Die Bantoewagte het die volgende dag die veldwagter gekry, waar hy in die boom gesit het. Hulle wou sy verhaal eers nie glo nie. Nadat hulle die dooie leeu gesien het en die wonde aan die veldwagter, het hulle besef wat gebeur het. Henry Wolhuter het herstel en sy beseerde perd ook. Toe die leeu afgeslag is, is gevind dat die veldwagter die dier in die hart gesteek het. Mnr. Wolhuter het tot onlangs nog naby Witrivier gewoon. Hy is nou diep in die tagtig jaar. Moontlik sal ons sy verhaal binnekort op die silwerdoek kan sien.