Hennie Muller (1922-1977)

Fanus Rautenbach (1928-2011)
July 1, 2019
Cissie (1912-1989) en Willie (1897-1975) Cooper
July 1, 2019

Die windhond

Baie mense beskou die twee oorwinnings in die Wêreldbeker-eindstryde van 1995 en 2007 as die hoogtepunte in die geskiedenis van Springbokrugby.

Hulle vergeet egter dat ’n span wat in 1951 en 1952 deur Europa getoer het die grootste oorwinning tot op daardie stadium, en die grootste teen een van die beste spanne in die wêreld behaal het. Op 24 November 1951 het die Springbokke met 44-0 teen Skotland op Murrayfield gewen. Die agtsteman en kaptein van daardie span was Hennie Muller.

Hendrik Scholtz Vosloo Muller is op 26 Maart 1922 in Witbank gebore. Hy was die jongste van vyf seuns, maar sy ma en sy pa is onderskeidelik een en vyf maande na sy geboorte oorlede. Hy het by sy oom Chris en tannie Isobel Fourie gaan woon en standerd 8 (deesdae graad 10) aan die Hoërskool Marthinus Wessels in Wakkerstroom, Mpumalanga, behaal voordat hy by die ERPM-goudmyn in Boksburg gaan werk het. Hy was ’n kranige atleet wat veral in naellope en hoogspring uitgeblink het. Hy het op skool al rugby gespeel, veral vleuel en losskakel, en op vyftienjarige ouderdom het hy vir die dorp se tweede rugbyspan as heelagter uitgedraf.

Na skool is hy na agtsteman verskuif en in 1943 het hy vir die eerste keer vir Transvaal uitgedraf. In 1945 het hy in Parow as motorwerktuigkundige gewerk en het die span van die Westelike Provinsie gehaal. In 1947 was hy egter terug by ERPM en het weer vir Transvaal gespeel. Nadat hy daardie jaar ’n skoueroperasie ondergaan het, het hy sy knieligamente geskeur; dit het beteken dat hy drie weke in die hospitaal en nog ses weke in gips was.

Die eerste toetsreeks waaraan die Springbokke sedert die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem het, het in 1949 teen Nieu Seeland plaasgevind. Felix du Plessis is as kaptein gekies; sy seun Morné het self later kaptein van die Springbokspan geword. Hennie is gekies as agtsteman vir al vier toetse, in Kaapstad, Durban, Johannesburg en Port Elizabeth. Die Springbokke het al vier toetse gewen. In 1950 het hy die Transvaalse span tot oorwinning in die Curriebeker-eindstryd aangevoer.

In 1951 is Hennie gekies as onderkaptein van die toer na Europa, maar nadat die toerkaptein, Basil Kenyon, ’n ernstige oogbesering opgedoen het, is hy as kaptein vir al die toetse gekies. Die eerste toets was teen Skotland op Murrayfield. Die Springbokke het Skotland vermorsel deur met 44-0 te wen. Met die uitsondering van die senters Ryk van Schoor en Tjol Lategan was al die spelers wat drieë in daardie wedstryd gedruk het, voorspelers. Benewens Hennie was die ander voorspelers wat die doellyn oorgesteek het onder meer Chris Koch (loskop-voorry), Basie van Wyk (flank), Willem Delport (haker), en die slotte Salty du Randt en Ernst Dinkelmann. Die vaskop-voorryman Okey Geffin het sewe drieë verdoel en die losskakel Hansie Brewis het met ’n skepskop geslaag. Die res van die toer was ook ’n groot sukses, met oorwinnings in toetse teen Ierland (17-5), Wallis (6-3), Engeland (8-3) en Frankryk (25-3). In laasgenoemde twee toetse het hy ook punte met die skopskoen aangeteken; ’n doelskop en ’n strafskop teen Engeland en ’n doelskop, saam met ’n drie, teen Frankryk. In 1953 het die Springbokke teen Australië gespeel en drie van die vier toetse gewen. Die toets op Nuweland was sy enigste nederlaag as Springbok-kaptein; Australië het met 18 punte teenoor 14 gewen. Daarna het hy sy uittrede aangekondig. In 1965 was hy egter die afrigter van die Springbokspan wat deur Australië en Nieu-Seeland getoer het. Dit was ’n rampspoedige toer waartydens die Springbokke net een toets gewen het.

Hennie het die bynaam “windhond” gekry as gevolg van sy besondere spelpatroon as agtsteman. Tydens lynstane het hy baie diep gestaan, regoor die senters, en sy teenstanders het hom daarvan beskuldig dat hy die spel versmoor het. Dit het gemaak dat die reëls só verander is dat die lengte van lynstane beperk sou word. Dit het egter nie gebeur terwyl hy gespeel het nie en die reëls is eers na afloop van sy uittrede verander.

Hennie is op 26 April 1977 aan ’n hartaanval dood terwyl hy leerders aan die Laerskool Goodwood Park in Goodwood toegespreek het.

Daantjie Dinamiet