Hendrik Schoeman (1927-1995)

Piet Koornhof (1925-2007)
July 29, 2021
Jaap Marais (1922-2000)
July 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Een van die kleurrykste ministers wat tydens die bewind van die Nasionale Party (NP) in die kabinet gedien het, was mnr. Hendrik Schoeman, wat eers tot die politiek toegetree het net voordat hy veertig jaar oud geword het.

Hendrik Stephanus Johannes Schoeman is op 11 Junie 1927 op die plaas Witklip in die distrik Delmas in Mpumalanga gebore. Hy was die agterkleinseun van Stephanus Schoeman, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek van 1860 tot 1862, wat die bynaam Stormvogel den Noorden gekry het. Schoemanstraat in Pretoria is na Stephanus Schoeman vernoem.

Nadat mnr. Hendrik Schoeman in 1945 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer het, het hy landbounavorsing in die Verenigde State van Amerika gaan studeer. Hy het eers tot die politiek toegetree toe hy met die algemene verkiesing van 30 Maart 1966 tot parlementslid vir die kiesafdeling Standerton verkies is. Toe adv. John Vorster in 1966 tot eerste minister verkies is, wou hy sy administrasie nuwe lewe gee en Schoeman is op 30 Augustus 1968 as adjunkminister van Landbou aangestel. Hy het in 1972 die minister van landbou geword, en was op die voorblad van die Landbouweekblad-uitgawe van 12 September daardie jaar. Tussendeur het hy 14 plase in vyf distrikte besit en 24 bestuurders asook 2500 werknemers in diens geneem. Hy was die hoof van Schoeman Boerdery en het onder meer met sitrusvrugte geboer. Dit was ’n gesinsonderneming wat deur sy pa gestig is. Hierdie onderneming het van hom ’n miljoenêr gemaak.

In 1980 het hy minister van vervoer in mnr. PW Botha se kabinet geword, en toe Botha in 1986 op ’n staatsbesoek in Frankryk was, het Schoeman as staatspresident waargeneem. Toe een van sy kollegas hom gelukgewens het, het hy glo gesê: “Boys, môreoggend skommel ek my kabinet; sorg dat julle almal daar is.” Dit was egter net ’n grap, en dit het nie regtig gebeur nie. Daar is nóg ’n storie van hom wat vir die waarheid vertel is. Hy was ’n Mercedes-Benz-liefhebber, en een dag het iemand hom probeer oortuig om ’n Jaguar te koop. Hy was nie beïndruk nie, en het glo gesê: “Ek gaan nie my geld terugkry as ek hierdie ding verkoop nie; met ’n Mercedes-Benz weet jy mos …” Toe iemand tydens sy ampstermyn as minister van vervoer gekla het oor die kos wat op die Suid-Afrikaanse Lugdiens se vlugte bedien is, het hy glo gesê: “Wil jy vlieg of wil jy vreet?” Toe sy vrou in November 1986 siek geword het, het hy uit die politiek getree.

Na sy uittrede het hy, soos hy dit gestel het, ’n uitvoerende boer geword, maar in Maart 1989 is hy as voorsitter van die finansiële komitee van die NP in Transvaal aangewys en daar is bespiegel dat hy weer tot die politiek sou toetree. Hy het in Mei 1992 ’n ere-kolonel van die Delmas-kommando geword.

Op 12 Februarie 1995 is hy dood aangetref in ’n mielieland op een van sy plase in die Delmas-distrik en daar word vermoed dat hy sy eie lewe geneem het. Die koerantopskrif die volgende dag het dit opgesom: “Iets was drasties verkeerd.” Hy was 67 jaar oud.