Hendrik Potgieter. Die grondlegger van Transvaal

Helena Lotrie (Lottering)
April 7, 2017
Johannes Hendrikus Brand
April 7, 2017

(Geskryf deur Jan Greyling, St. IX, Volksrustse Hoërskool, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1966)

Transvaal is vandag ’n heerlike sonnige landstreek, en die veiligheid wat ons hier ondervind, word steeds groter. Wie het die weg gebaan tot hierdie vooruitstrewendheid en veiligheid?

Ons kan nie slegs een karakter onder die stoere Voortrekkers uitsonder en hom al die eer en lof toeswaai nie, maar Andries Hendrik Potgieter was die grondlegger van Transvaal.

Deur sy doelbewuste pogings om onder die Britse gesag uit te bly, het hy die draer geword van die Republikeinse gedagte en die grondslag gelê vir die werk wat later die rypste vrugte afgewerp het. Andere het op sy werk en strewe verbeter, maar sonder ’n stewige grondslag, kon die volksvestiging nie verder gebou word nie.

Andries Hendrik Potgieter is in 1792 in die Graaff-Reinetse distrik gebore en later was hy op Tarka woonagtig vanwaar hy ook sy trek gelei het. Potgieter was ’n man van insig, soms koppig maar minsaam, vriendelik en sterk godsdienstig. Hy het sy oog gevestig gehad op die Transvaal waarin hy die moontlikhede van onafhanklikheid gesien het en wat hom die antwoord op sy vraagstuk verstrek het van hoe om so ver as moontlik van die Engelse bewind verwyderd te wees.

Die ontstaan van Transvaal het as ’t ware begin, toe Andries Potgieter teen die einde van 1835 met 35 weerbare manne na die Noorde begin trek het. Hy het sy vader saam met hom en sy huisgesin geneem en dié het Potgieter uiteindelik as ’n honderdjarige oorleef. Die vol Oranjerivier het hom nie gestuit nie, want die beeste en perde moes deurkom, terwyl vlotte gebou is om die waens oor die rivier te vervoer.

Ten noorde van die Oranje, naby Smithfield, het hy die Cilliers en Krugers onder die Trekboere ontmoet. Onder hulle was die eerste President van Transvaal. Potgieter se leierskap is reeds onder hierdie verenigde trek aanvaar. Die uitspanplek, Thaba Nchu, was ook die tydelike staanplek van die stigter van die beskawingsentrum in die binneland van Suid-Afrika.

Potgieter het ’n landstreek tussen die Vet- en die Vaalrivier van ’n verhongerde Bataungstam onder Makwana vir 29 beeste geruil. Hierdie gebied het dan ook die eerste grondbesit van die Voortrekkers geword, wettig en regverdig. Potgieter se mense het hulle in hierdie gebied tuisgemaak, want hulle het geweet dat hulle gekom het om te bly.

Op 24 Mei 1836 het Potgieter en Cilliers hulle mense in die gebied agtergelaat en met nege man op ’n verkenningstog na die Noorde vertrek om ’n mede-baanbreker, nl. Trichardt, op te spoor.

Die Matebele-stam onder Silkaats het onrustig begin raak oor die baie Trekkers in hul gebied, en “’n benoude kat maak benoude spronge”! Dus het hulle geen gras onder hulle voete laat groei nie en sowat duisend krygers het ’n jagparty van Stephanus Erasmus wat oorkant die Vaalrivier was, oorrompel en die Liebenbergs by Liebenbergkoppie feitlik uitgemoor. Erasmus en sy seun het egter ontkom en die Trekkers gewaarsku, sodat hulle haastig by Koppiekraal laer kon trek om ’n verwoede aanval van die Matebeles af te weer.

Silkaats was nie iemand wat jy sonder handskoene kon aandurf nie en ’n laer is by Vegkop saamgetrek. Op 16 Oktober 1836 is die verwagte aanval van die Matebeles dan ook geloods. Sesduisend Matebele-krygers onder Kalipi het soos aasvoëls op die laer afgestorm om alles wat uitgeroei en gesteel kan word, onder Silkaats se “lem” te laat deurloop.

Potgieter en sy geselskap was net terug om leiding te neem. Leiding is egter geen leiding sonder die genade van God nie. Cilliers het voor die geveg genade van God afgesmeek, wat dan ook nie uitgebly het nie. Die Matebeles is met die kous oor die kop huis toe gestuur, alhoewel hulle al die vee, sowat vyfduisend beeste, vyftig-duisend skape en honderd perde gebuit het. Die Trekkers wat verarm agtergelaat is, is te hulp gekom deur Moroka en die sendeling Archbell.

Intussen het Trekgeselskappe onder Maritz ook opgedaag. Die eerste Volksvergadering, waarop Potgieter tot militêre leier verkies is, is op 2 Desember 1836 te Thaba Nchu gehou. ’n strafekspedisie teen Silkaats is gereël en op 2 Januarie 1837het Potgieter en Maritz met honderd-en-sewe man na Mosega, hoofstat van die Matebelestam, vertrek. Op 17 Januarie 1837 moes die Matebeles by Mosega voet in die wind slaan, nadat hulle deur die Trekkers verras is. Die Trekkers het die buit teruggekry en dit weer onder die eienaars verdeel.

Die immigrante na die binneland het vermeerder, toe Retief aan die begin van April 1837 met ’n groot groep volgelinge uit die Winterberge aangekom het. Gedurende die tydperk April tot Junie 1837 is nuwe bestuursreëlings getref. Retief is as opperbevelhebber aangestel en die “Nege Artikels” of Vetrivierse grondwet is aangeneem. Ernstige meningsverskille oor trekrigtings het ontstaan. Potgieter het gemeen dat die noorde van Transvaal skoongemaak is en het nie van die gedagte gehou om na Natal, waar die Zoeloegevaar gedreig het, te trek nie. Laasgenoemde was die strewe van Piet Retief. Potgieter het na die Suikerbosrand uitgewyk. Hy en Uys wat saam met hom getrek het, het ’n tweede strafekspedisie teen Silkaats uitgevoer. Hulle het Silkaats se “lem” heeltemal afgebreek, toe hulle in ’n negedaagse slag van 4 tot 13 November 1837 ’n skitterende oorwinning oor die Matabeles by Kapain behaal het. Potgieter het die gebied sover as wat die lem van Silkaats regeer het, tot Voortrekkergebied verklaar. Die grondslag vir verdere opbouing was gelê.

Na afloop van die strafekspedisie het Potgieter, Maritz en Uys in April 1838 na Natal getrek. Na die moord op Piet Retief deur die Zoeloes het Potgieter sy landgenote gaan help en tesame met Uys ’n strafekspedisie teen die Zoeloes uitgevoer. Hulle is egter by Italenieberg in ’n lokval gelei en moes vlug: tien mense het hier gesneuwel. Potgieter het die skuld vir die ongelukkige gebeure gekry en het gevolglik met sy “Vlugkommando” teruggetrek na Winburg.

In dieselfde jaar het Potgieter oor die Vaalrivier getrek en Potchefstroom, die eerste dorp in Transvaal, in 1838 aangelê. Potgieter en sy krygsraad het voortaan die hele gebied vanaf die Vetrivier regeer.

Na die stigting van die Natalse Republiek het Potgieter sy gebied met Natal verenig en Potgieter en sy twaalf lede het ’n Adjunkraad gevorm wat beheer gevoer het oor die Potchefstroom-Winburg gedeelte. Met die anneksasie van Natal het Potgieter weer afgeskei van Natal. In 1840 en 1842 het Potgieter Delagoabaai besoek om handelsbetrekkinge met die Portugese aan te knoop en hier het hy Smellenkamp ontmoet en ’n gereelde handel tussen die Trekkers en Holland is aangeknoop.

Toe die Engelse hulle in 1845-1846 in Transoranje begin vestig het, het Potgieter besluit om buite die lyn 25⁰ S.Br. te kom waar die “Cape of Good Hope Punishment Act” nog nie gegeld het nie. Hy wou ook nader aan die hawe wees, in die nabyheid van Lourenço Marques. Daarom het hy in 1845 na Oos-Transvaal verhuis waar hy Ohrigstad aangelê het.

Potgieter het by Ohrigstad weens misverstand in botsing gekom met die Natallers. Die Natallers wat na Ohrigstad verhuis het, het gemeen dat die Natalse Volksraad ook daar sou geld. Potgieter het op sy beurt aanspraak gemaak op leierskap op grond daarvan dat hy die oudste inwoner en leier was. Die Natallers het nou onder die waan verkeer dat hulle onderdane is en die gevoelens het so hoog geloop dat die twee groepe met die geweer in die hand teenoor mekaar verskyn het. Daar het twee groepe ontstaan nl. die Potgietergroep en die Volksraadsgroep. Potgieter het na Soutpansberg getrek en in 1848 Schoemansdal aangelê.

Pretorius het die toestand verder vertroebel deur met die Engelse oorlog te maak. Potgieter het ’n mondelinge vrede met Sir Harry Smith gesluit. Groot politieke verdeeldheid het in Transvaal geheers. Daar was drie hoofgroepe, nl.

(a) Die Potgietergroep in Soutpansberg.

(b) Die Volksraadgroep van Lydenburg.

(c) Die Pretoriusgroep in Wes-Transvaal.

Laasgenoemde se beleid was om onafhanklikheid deur onderhandeling met die Britte te verkry wat dan ook op die Sandrivierse Konvensie in 1852 uitgeloop het. Pretorius het deur eie reg te gebruik die onafhanklikheid verwerf wat hom met Potgieter laat bots het. Burgeroorlog het gedreig. In Maart 1852 het die politieke groepe mekaar op ’n groot volksvergadering te Rustenburg ontmoet. Gewapend het die mense rondgestap. Met hande in mekaar oor die Bybel het Potgieter en Pretorius verenig en ’n Verenigde Transvaal het tot stand gekom.

In Desember 1852 is Potgieter oorlede en Pretorius het op 23 Julie 1853 gesterf. Piet Potgieter en Marthinus Wessel Pretorius het voortgebou op die grondslag van hulle vaders.

As grondlegger van Transvaal beklee Andries Potgieter ’n belangrike plek in die geskiedenis. Ongelukkig vir Potgieter lui die gesegde: “Boompie groot, plantertjie dood.” Potgieter is nogtans die grondlegger van ’n groot boom war ryp vrugte dra, nl. Transvaal.